Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-kommentaar

Kommentaar op die resensie van Marius Crous: “My sonde: ek is vrou, ek is Boer, ek haal asem”


Annelien van Huyssteen - 2008-03-03

Die oomblik toe my oog die opskrif vang – “My sonde: ek is vrou, ek is Boer, ek haal asem”, was my brein onmiddelik geprikkel. As iemand wat soms taamlik sterk voel oor vroueregte, maar tog nie myself as 'n feminis sal beskryf nie, het hierdie titel my dadelik laat wonder oor wat presies Crous in hierdie resensie gaan kwytraak.

Ek was dadelik beïndruk met sy verduideliking van hoe relevant Pat Stamatélos se boek (Die val van die dice) se titel is. Crous se mededeling dat dit gebaseer is op 'n ou gedig van Adam Small, "Die Here het gaskommel", is nuttig, ook dat hy daarop uitwys dat dit toepaslik is aan die hooftema van die boek aangesien Stamatélos se lesers nie almal studente van die letterkunde is nie.

Juis om hierdie rede is dit relevant dat Crous ook na die voorblad van die boek verwys en sy lesers help om presies agter die kap van die byl te kom! Nog essensiële interpretasies word deur Crous gemaak as hy vir die leser verduidelik dat 'n mens uit die verhaal kan aflei dat "Griekse mans van kleins af geleer word om opperste chauviniste te wees".

Dit is met 'n interpretasie soos hierdie dat Crous op 'n subtiele wyse die hooftemas vir die leser weergee. Dit is nodig sodat jy nie per ongeluk hierdie boek in jou konserwatiewe ouma se Kerskous laat beland nie!Die agtergrond-informasie is natuurlik genoeg om Crous se lesers se aandag te trek, maar hy hou hierdie aandag deur genoegsame inligting oor die inhoud weer te gee sonder om te veel van die verhaal te verklap.

Dit is interessant om van die sitate te lees wat Crous in sy resensie plaas.

Tot 'n sekere mate maak dit die lesers meer nuuskierig en 'n mens kan ook bietjie van Stamatélos se skryfstyl daarin raaksien. Maar later maak die hoeveelheid sitate ongelukkig die resensie bietjie te lank en mens wil-wil die draad van die artikel verloor.

Die effense negatiewe kritiek wat Crous aan die einde lewer is tog nodig om objektiwiteit te verseker. Ons as lesers kan tog uit Crous te standpunt aflei dat hy hierdie boek wel as waardige leesstof beskou.

Crous se resensie is goed geskryf. Dit trek die leser se aandag al van die titel af en hy hou ook ons as lesers op die punte van ons tone deur in elke paragraaf iets omtrent die inhoud te verklap. Hy lig ook die positiewe uit en lewer kommentaar op die negatiewe sonder om aanstoot te gee of moontlik iets te skryf wat 'n feminis se hare kan laat rys.


Annelien van Huyssteen