Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-kommentaar

Glashelder: kommentaar op Izak de Vries se resensie


Anchen Wobbe - 2008-03-03

Reeds met die inleiding van De Vries se resensie is dit duidelik dat hierdie nie, soos met baie ander ietwat vervelige resensies, 'n ongemaklike splinter in jou voet gaan wees om te lees nie.

Die inleiding van De Vries is net soos hy die bundel beskryf – sonder pretensie. Dit boei mens dadelik en mens wil graag verder te lees. Die hele resensie is in so 'n gemaklike trant geskryf, dit voel of De Vries langs 'n lekker skaaptjoppie op die kole die boeke bespreek en dit is waar die verskil lê … Vir gewone mense maak dit dat daardie laaste woord opgeslurp word van die resensie. Die gebruik van onderafdelings maak dit soveel makliker om te lees en dit te struktureer in mens se gedagtegang. Dit is maklik om by te hou met wat hy verduidelik, veral omdat hy verwys na die verskillende kortverhale in die bundel en selfs terugverwys na vorige kortverhale van ander bundels deur Gilfillan.

De Vries se goeie, of laat ek eerder sê, skerp (vir al die fyngevoelige vrouens daar buite) humorsin word ook weergegee deur die aanhaling uit Kaktus wat hy as die “twee onvergeetlike sinne” beskryf. Hy gee ook 'n meer persoonlike gevoel deur 'n opinie van sy vrou met die lesers te deel en homself aan te praat omdat hy te lang lysies maak. Al hierdie eienskappe maak die bundel “glashelder” vir enige sterfling.

Verder is hierdie man ook baie skerp en slim. Hy maak die bundel oop sonder om te veel weg te gee van die verhale. Hy sê byvoorbeeld dat die voorblad die “kode” tot die bundel is en dat die eerste storie die sleutel tot die res van die verhale is. Al hierdie goed wat hy uitwys maak dat die leser die boek beter sal verstaan.

Hy is ook goed ingelig; hy weet wat Gilfillan se agtergrond is (of ten minste die literêre deel waarin ons belangstel) en dit is duidelik dat hy al haar vorige werke gelees het, want hy vergelyk Glas vernuftig met haar vorige werke en brei uit oor die intertekstuele bindings.

Hy kán resenseer.


Anchen Wobbe