Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-kommentaar

Kommentaar op Johan Anker se Chinchilla-resensie


Solette Stander - 2008-02-28

Johan Anker se resensie oor van Rooyen se debuutroman, Chinchilla, het my opnuut laat wonder oor die mate van kritiek wat in ʼn resensie nodig is. Johan Anker is net vol lof vir die skrywer se debuutroman – van die oorspronklike taalgebruik tot die diepliggende karakterisering.

Ek is van mening dat die resensent ʼn balans tussen positiewe kommentaar en opbouende kritiek moet handhaaf. Dié met ʼn bietjie letterkunde tussen die ore, lees ʼn roman nie vir ʼn slaaptydstorie nie, maar om dit te ontleed en te herkou totdat hulle ʼn ingeligte oordeel kan uitspreek. Die intellektuele leser lees dus krities. Selfs bekende skrywers ontvang kritiek en daarom is dit ongeloofwaardig dat daar nie ʼn sweempie van kritiek oor van Rooyen se EERSTE roman is nie.

Die resensie begin met ʼn onnodige aanhaling van Onno van der Hart. Om daardeur te worstel is soos om kougom te eet as jy honger is – dit bevredig jou nie en maak jou net “moeg.” Tog slaag Johan Anker daarin om die res van die resensie stylvol aan te pak en die kort sitate effektief aan te wend.

Johan Anker interpreteer die roman op letterlike sowel as simboliese vlak en so skep hy suksesvol ʼn vertrekpunt vir die oningeligte, dog gretige leser. Hy spring ook nie op die mallemeulerit van letterkundige jargon nie, maar verwys wel sonder verduideliking van die begrip na “Jungiaanse terme.” (Sielkunde-leke mag dalk wonder of dit ʼn vorm van voëlgriep in die Ooste is).

Dit is duidelik dat Johan Anker die roman aandagtig gelees het. Hy let fyn op na detail soos reuke, die waarde van die ruimte en die idiomatiese taalgebruik in die roman en integreer dit op so ʼn wyse in sy resensie dat hy die roman vir die nie-letterkundige ook toeganklik maak. Hy faal egter daarin om enigsins vir die leser ʼn prentjie van die debuutromanskrywer se agtergrond te skep en laat dus die letterkundige leser met talle vrae agter.


Solette Stander