Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-kommentaar

Kommentaar op Die val van die dice-resensie: Geheime verklap!!


Alma Jacobs - 2008-02-28

Marius Crous het op die 11de Februarie 'n resensie oor Pat Stamatélos se roman, Die val van die dice, geskryf. Hy begin heel goed en vertel van die skrywer se vorige boek en dat hierdie een daarop volg. Ons (die leser) word ook vertel waar die titel sy oorsprong het en hoe dit by die sentrale tema aansluit.

Dr Crous analiseer ook vir ons die voorblad van die boek en ek moet sê dat ek redelik beïndruk was daarmee! Ek het dadelik besluit om hierdie boek te koop, omdat dit so interessant geklink het. Hy het die storie vir ons mooi uiteengelê, asook 'n blik op die karakter se agtergrond, haar omstandighede, sowel as die gebeure wat aanleiding gegee het tot haar huidige situasie.

Ek het egter later van mening verander: Dr Crous verklap te veel geheime na my sin en laat niks aan die leser se verbeelding oor nie. Ons weet presies wat in die roman gebeur, asook hoe Pattie se geheim, haar verlede, haar huwelik verder verwoes. Crous vertel presies hoe haar geheim op die lappe kom! Daar is ook te veel aanhalings uit die boek en daar word tot 'n mate aanvaar dat die leser reeds die boek gelees het, aangesien daar melding gemaak word van karakters soos Kosta en Vlooi.

Die laaste twee paragrawe van die resensie het my finaal laat besluit om nie Stamatélos se roman te koop nie. Die skrywer se plot word heeltemaal aan ons voorgelê en ons weet presies waar in die roman die ommekeer plaasvind. Ons weet ook natuurlik dat die verhaal eindig met Pattie wat sterf.

Stamatélos se karakter is dus doodgeskryf en ons wag in spanning om te sien waarmee hierdie skrywer volgende vorendag gaan kom.


Alma Jacobs