Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-kommentaar

Louise Viljoen: tyd vir nuwe Polaroids?


Stefan Prins - 2008-02-27

Louise Viljoen se resensietegniek verdrink my in perfeksie. In haar resensie van Tom Dreyer se kortverhaalbundel Polaroid kom sy met, soos Afrikaanse krieketkommentators dit dikwels kwytraak, “teksboek-spel” na vore.

Haar styl is sistematies en georden. In die eerste twee paragrawe verskaf sy die nodige en nét die nodige agtergrondinformasie deur Polaroid met Dreyer se ander romans, sowel as kortverhale deur ander skrywers, te vergelyk. Sy gee deurgaans kort, vloeiende interpretasies deur byvoorbeeld na die aard van die karakters se persoonlikhede te verwys. Daar word ʼn waarde-oordeel gestel, maar tog subtiel genoeg dat daar ruimte gelaat word vir die leser om tot sy eie gevolgtrekkinge te kom. Die beskrywing van die verhale se inhoud is afgerond met ʼn balans tussen direkte aanhalings en haar eie vertelling. En só, asof in ʼn volwaardige vyfdaagse toetswedstryd, stuur sy paragraaf na paragraaf goed uitgewerkte houe tussen haar lesers in en skuif die telling lopie vir lopie hoër. Die probleem is net: toetskrieket is besig om vinnig af te neem in gewildheid.

Die toeskouer van die 21ste eeu hou daarvan om verras te word. Hy stel belang in produkte wat vir hom anders of vreemd is. Joan Hambidge mag dalk so nou en dan haarself in haar eie verspotheid verloor, maar in tye wat resensieblaaie klein van oppervlak is en sukkel om hulself te finansier, laat sy tóg meer lesers daarheen blaai.

Getreur sal daar word as Louise Viljoen die dag haar gesofistikeerdheid prysgee en soos ʼn “seksueel gefrustreerde boelterriër” begin optree, soos Jaybee Roux onlangs vir Joan Hambidge opgesom het. ʼn Effe meer kreatiewe benadering behoort egter nie Viljoen se reeds gevestigde reputasie skade te doen nie.

Kan sy ons as angstige toeskouers nie dalk verras deur ʼn nuwe paar Polaroids op haar gesig te druk, twee vinnige tree na vore te gee en “teksboek”-resensiekunde vir ʼn ses tussen ons in te moker nie?

Stefan Prins