Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Expats > Breytenbachs

Moet aansoekers vir die tweejaar-werksvakansievisum hulle kwalifikasies onderspeel of nie? Breytenbachs vertel


Hannes Breytenbach - 2008-02-20

Vraag

Blykbaar rig julle deesdae ’n spesiale waarskuwing aan tweejaar-werksvakansiegangers wat beplan om dalk later op ’n ander basis in die VK te werk, dat hulle nie hulle kwalifikasies moet onderspeel in hulle aansoek nie. Kan julle my meer vertel, aangesien ek op die punt staan om aansoek te doen vir die tipe visum?

Antwoord

Ja, dit is inderdaad so dat Breytenbachs deesdae ’n spesiale waarskuwing rig aan aansoekers vir die tweejaar-werksvakansievisum. Aansoekers vir dié tipe visum word dikwels deur van die agentskappe waardeur hulle aansoek doen, gemaan om hul kwalifikasies en werksondervinding op hul aansoekvorms te onderspeel, sodat hulle nie lyk na jong professionele persone wat aansoek doen vir dié tipe visum nie, maar eerder na redelik ambisielose jong reisigers. Nou gebeur dit dikwels dat die jong persoon later ’n werkspermit aangebied word deur ’n Britse werkgewer. Hierdie aansoek vir ’n werkspermit word dan gebaseer op die applikant se kwalifikasies en/of vorige senior- of spesialis-ervaring. Sedert ’n klompie maande gelede vergelyk die immigrasie-owerhede die inhoud van alle aansoeke wat deur die applikant ingedien is, met mekaar. Wanneer die Britse konsulaat dan die persoon se rekords oproep wat oorspronklik ingelewer is vir die werksvakansievisum, en daar ’n teenstrydigheid in die rekords is, word die werkspermit summier afgekeur. Dit gebeur deesdae ongelukkig dikwels.

Aansoekers vir die huidige tweejaar-werksvakansievisum word dus gemaan om van die begin af die korrekte inligting deur te gee, aangesien ’n onderspeling van hul werksondervinding en kwalifikasies hulle met latere aansoeke kan kniehalter. Tweejaar-werksvakansiegangers word aangeraai om ’n volledige afskrif van hul aansoek te kry en dit veilig te bewaar vir toekomstige gebruik by ’n latere aansoek om ’n ander permit.

Indien ’n persoon dus van mening is dat hy dalk tydens of na sy werksvakansie sy immigrasiestatus in die VK gaan verander, moet daar vooraf reeds goeie regsadvies ingewin en betyds beplan word.

Kontak ons gerus indien jy enige verdere vrae in dié verband het of wil aansoek doen vir dié tipe visum.