Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

Die staat en onderrigtaal aan universiteite


Christo Viljoen - 2006-09-26

Inleiding*

Afgesien van die vier oorblywende historiese Afrikaanse universiteite (HAU’e) (van die oorspronklike vyf bly vier oor na die verdwyning van die RAU), is geen van die ander Suid-Afrikaanse universiteite se onderrigtaal anders as eksklusief Engels nie. Daar is velerlei redes waarom geen van die inheemse amptelike Afrikatale in Suid-Afrika as onderrigtaal op universiteitsvlak gebruik word nie. Een daarvan is die gebrek aan omvattende vakterminologie en die feit dat dit slegs Afrikaans en Engels is wat volwaardig ontwikkel het tot akademiese wetenskapstaal-status wat die hele spektrum akademiese aktiwiteite omsluit. ’n Tweede rede is die feit dat vele Afrikataalsprekers ’n geringskatting het van die markwaarde van hul eie tale en van die pedagogiese waarde van moedertaalonderrig – vir vele is Engels die taal van aspirasie.

Die vraag kan tereg gestel word of daar enige onus op die staat rus om tersiêre onderwys in die ander amptelike tale aan te moedig en te ondersteun.

Afgesien van die Grondwet se gelykheidsklousule 6(4) tov die elf amptelike tale in Suid-Afrika, plaas klousule 6(2) ’n eksplisiete plig op die staat in die volgende woorde:

Gesien die historiese inkorting van die gebruik en status van die inheemse tale van ons mense, moet die staat praktiese en daadwerklike maatreëls tref om die status van dié tale te verhoog en hul gebruik te bevorder.

Waarop die vrae onmiddellik gestel kan word: Wat word verstaan onder die term inheemse tale en wat behels daadwerklike maatreëls?

’n Tweede rigtinggewende klousule is die reg van Suid-Afrikaanse burgers op onderrig in eie taal soos uitgespel in klousule 29 (2):

Elkeen het die reg om in openbare onderwysingstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is. Ten einde doeltreffende toegang tot en verwesenliking van hierdie reg te verseker, moet die staat alle redelike alternatiewe in die onderwys, met inbegrip van enkelmediuminstellings, oorweeg met inagneming van –
(a) billikheid
(b) doenlikheid en
(c) die behoefte om die gevolge van wette en praktyke van die verlede wat op grond van ras gediskrimineer het, reg te stel.

In hierdie verband was dit vir bykans ’n eeu reeds “doenlik” om in Afrikaans aan die US onderrig te gee; mens sou verwag dat dit voortgaande die geval sou wees.

Laasgenoemde bring die netelige vraag na vore insake die “reg” van ’n student om te eis dat hy/sy in ’n bepaalde taal onderrig sal word by ’n bepaalde opvoedkundige inrigting. In hierdie verband het die Departement van Onderwys reeds elf jaar gelede uitsluitsel gegee:

The right of equal access, and the consitutional prohibition of unfair discrimination on any ground, specifically including language, appear to ensure that preference of a particular language medium of instruction cannot be a reason to refuse admission, provided the condition of “reasonable practicability” can be met. However, where an alternative institution is available to the applicant without undue hardship, offering tuition in the preferred medium, such refusal cannot be deemed to be unfair. (DoE 1995: 42)

Teenstrydige uitsprake oor hierdie aangeleentheid is sedertdien gemaak deur verskeie ministers van onderwys wat die gebruik van Afrikaans as uitsluitingsmeganisme beskou (skynbaar sonder dat Engels oor dieselfde potensiaal beskik). Die “Language Policy for Education” van 2002 laat Afrikaansmedium-inrigtings toe om voort te gaan om Afrikaans as onderrigtaal te gebruik “as a primary but not the sole medium of instruction”. In die verslag “South African Higher Education in the first decade of democracy” (Council on Higher Education, Pretoria, November 2004) word eweneens verklaar:

The policy recognised Afrikaans as a language of scholarship and science, and thus as a national resource whose capacity should not be eroded. The sustainability of Afrikaans as a medium of academic expression and communication could be ensured through a range of strategies, including the use of Afrikaans as a primary but not a sole medium of instruction – provided this did not impede access. (My aksentuering.)

Dieselfde verslag gaan voort:

In relation to the future of South African languages as areas of academic study and research, HEIs were encouraged by the policy to pay particular attention to curriculum development in the study of South African languages and literature, while the Ministry would encourage such development through planning and funding incentives.

Concerning equity, the Ministry stipulated that all institutions not affected by mergers should submit plans for the period 2004–2006 by December 2002. These should give attention to strategies and time frames to address inequities in black, women and disabled student enrolments; indications – where applicable – as to how Afrikaans as a language of instruction would not constitute a barrier to access and employment equity plans.

Hierdie beleidsuitsprake is kennelik strydig met artikel 6(4) van die Grondwet wat eksplisiet verseker: “Sonder afbreuk aan die bepalings van subartikel 6(2) moet alle amptelike tale gelykheid van aansien geniet en billik behandel word. Die stilswye oor die eensydige beperkings op Afrikaans en die onbetwiste bevoordeling van Engels is opvallend, en die geredelike aanvaarding van hierdie status quo deur Afrikaanssprekendes onverklaarbaar.

Staat se telkaart tov taalbevordering

Dit is ewe opvallend in welke mate die verskillende taaklousules van die Grondwet, en bepaald die pligte van die staat in hierdie verband, nie op die radarskerm verskyn nie. Waar dit wel gebeur, dui mooiklinkende woorde nie noodwendig op ’n toegewydheid nie.

PANSAT is volgens die Grondwet se Artikel 6(4) gestig met die visie “om gelyke status en die gebruik van al die amptelike tale in Suid-Afrika te bereik”, en as missie “om die erkenning, bevordering en ontwikkeling van al die Suid-Afrikaanse amptelike tale te voorsien”. PANSAT is oa verantwoordelik vir taalontwikkeling, die bevordering van meertaligheid, en die beskerming van taalregte. Dit is verder verantwoordelik vir die stigting van die Nasionale Taalliggame (een vir elke amptelike landstaal), provinsiale taalkomitees (bv iMAG in die Wes-Kaap-provinsie), en ’n leksikografiese eenheid vir elke amptelike taal (waaronder die WAT ook ressorteer). Dit hanteer taalklagtes van die publiek, maar het tot op datum slegs een saak na die hof geneem, ten spyte van uitstekende regsgeleerdes in hul diens. PANSAT is al beskryf as ’n tandelose bulhond met ’n begroting wat die afgelope paar jaar konstant gebly het en tans ’n waarnemende voorsitter het.

Die uitsprake van PANSAT is insiggewend, byvoorbeeld die Raad se Kennisgewing nr 54 van 1999 wat oa lui:

The Board recognises that it will have to develop the most sensible strategy to recover and build on the existing functional use of African (including Afrikaans, Khoe and San and South African Sign) languages in this country.

Insiggewend is die siening in hierdie uitspraak dat Afrikaans geag moet word as een van die Afrika-tale.

Ook oor die onderwys maak PANSAT uitsprake, waaronder die volgende:

The role of language in Education is:
• To promote the use of primary languages as languages of learning and teaching (LoLT)
• To supports (sic) the Board's aspirations of mother tongue/home language education from the primary level to the highest level of education.

Die Departement van Kuns en Kultuur het eweneens ’n amptelik opgelegde verantwoordelikheid tov taal, waaroor hul visie oa verklaar: “Om die amptelike tale van Suid-Afrika te ontwikkel en bevorder en die taalverskeidenheid van die land te versterk.” Dit bedryf die Nasionale Taaldiens, wat verantwoordelik is vir vertaaldienste vir staatsdepartemente.

Die Departement van Onderwys se taalbenadering word veral toegelig in die “Language in Education Policy (LiEP)”, wat egter hoofsaaklik gemik is op skoolonderrig en -kurrikula. Dit bepaal as grondbeginsel dat die leerder se moedertaal vir leer en onderrig behou moet word, en moedig die aanleer van meerdere tale aan. Dit stel as voorwaarde dat taal nie gebruik mag word vir eksploitasie, dominasie en diskriminasie nie. Uitsprake tov onderrigtaal op tersiêre-onderrigvlak is egter hoofsaaklik verwoord in ministeriële verklarings hier bo genoem.

Opsommend kan gesê word dat die regering se uitsprake oor taal vaag en hoofsaaklik lippetaal is, dat ministeriële uitsprake eensydig en selfs onkonstitusioneel is, en dat die telkaart van die staat se bevordering van die inheemse tale nie die toekenning van ’n slaagpunt regverdig nie.

Die staat se finansiële plig tov onderrigtaal op tersiêre vlak

Vra mens die vraag of die staat ’n konstitusionele plig, insluitende ’n finansiële verantwoordelikheid, het om die inheemse tale as onderrigtaal op tersiêre vlak te bevorder, is die antwoord – in die lig van die voorgaande – ondubbelsinnig “ja”. Dit is egter ’n feit dat die befondsingsformule vir tersiêre onderrig geen voorsiening maak hiervoor nie, maar inteendeel (dmv ministeriële uitsprake) ’n dubbele finansiële las plaas op universiteite wat in ’n ander taal as Engels onderrig gee om ook voorsiening te maak vir studente wat aandring op Engels as onderrigtaal. Die finansiële las van veeltalige onderrig word op die universiteit afgewentel om uit die normale finansiële bronne te bekostig. Hierdie verwagting is ’n disinsentief vir universiteite om dit enigsins te oorweeg om ’n meertalige kampus te bedryf. Eentaligheid (lees: eksklusief Engels-eentaligheid) is die maklikste en goedkoopste uitweg vir inrigtings wat reeds finansieel geknel is.

Daar kan ’n sterk saak uitgemaak word daarvoor dat universiteite in Suid-Afrika ook voorsiening moet maak vir die onderrig van studente in hul moedertaal, op voorwaarde dat:

• taal nie gebruik sal word as sperfilter nie
• een amptelike taal nie in isolasie bevorder sal word nie, hetsy (i) op nasionale vlak (dws dat slegs byvoorbeeld Afrikaans hiervoor uitgesonder word), of (ii) op ’n bepaalde kampus (dws deur byvoorbeeld ’n eksklusief Afrikaanse universiteit in te stel)
• universiteite wat ’n inheemse taal as onderrigtaal kies, die beskuldiging van “taaldwang” aanspreek en antwoorde daarop vind
• taalgebaseerde segregasie vermy sal word
• die staat die nodige finansiële befondsing hiervoor moet besin.

Idealiter sou dit impliseer dat eksklusief Engelstalige universiteite in Suid-Afrika ook ontoelaatbaar behoort te wees; dit is egter wensdenkery dat sodanige universele reël sal geld, hoe onverdedigbaar ook al die verpligtinge wat eensydig op die ander tien amptelike tale in Suid-Afrika geplaas word.

Koste van parallelmedium-onderrig op hoëronderwys-vlak

Die volgende vraag is: Wat sal dit kos om vakkursusse in ’n tweede onderrigtaal op ’n kampus aan te bied?

Daar is aanduidings dat daar, afgesien van die twee HAU’e, minstens twee ander Suid-Afrikaanse universiteite is wat die aanbied van vakkursusse in ’n ander taal as Engels oorweeg. Die vraag is of daar nie nog meer universiteite sal wees indien hulle vergoed sou word vir die addisionele koste van sodanige aanbieding nie, in plaas daarvan om dit vir eie rekening te neem.

Onder die voormalige SANSO-finansieringsmodel wat gegeld het vir tersiêre-onderriginstellings in Suid-Afrika tot en met die begin van die huidige eeu, was dit redelik maklik om ’n student/dosent-getalleverhouding (in terme van VTE/SLE, oftewel voltydse ekwivalente student per senior lektor ekwivalent) te bepaal wat as gelykbreekpunt geld vir die ekonomiese aanbieding van ’n vakkursus, omdat daar destyds slegs twee voorgraadse befondsingskategorieë gegeld het (die geestes- en natuurwetenskaplike omgewings onderskeidelik). Gemiddeld (afhangende van die befondsingsfaktor) was die gelykbreekpunt ongeveer 25 VTE/SLE in die natuurwetenskappe, en ongeveer 50 VTE/SLE in die geesteswetenskappe. Die koste vir die aanbied van vakkursusse in ’n tweede onderrigtaal was derhalwe maklik berekenbaar.

Met die huidige befondsingsformule (met sy vier befondsingsgroepe) wat met ingang 2003 geld, is dit nie moontlik om ’n kousale verband tussen student/dosent-verhoudings te bereken nie. Daarbenewens word die formules tans nie eksak toegepas nie, wat sodanige berekeninge verder bemoeilik. Daar is in elk geval aanduidings dat die formules tans hersien word.

Omdat dubbelmedium-onderrig weinig addisionele kostes tot gevolg het, word dit nie verder onder die loep geneem in hierdie artikel nie. In elk geval vereis dit dat die studente ten volle tweetalig is om volledig nut te haal uit dubbelmedium-onderrig (wat die vraag laat ontstaan of dit dan nog hoegenaamd nodig is om die onderrig nog in twee tale aan te bied). Ervaring in dubbelmediumkursusse dui onteenseglik daarop dat dit ’n waarborg is dat ’n sterkere taal die swakkere taal verdring.

Individuele universiteite het wel berekeninge gemaak van die kostes van sodanige tweede onderrigtaal in die geval van parallelmedium-onderrig. Dit word uiteraard bepaal deur vele faktore (klasgrootte, die taalverdeling tussen klasgroepe, addisionele koste tov ondersteuningspersoneel, vertaling van klasnotas en vraestelle, ens). Ofskoon die onderrigtyd verdubbel, is dit nie die geval met nasientyd (van toetse en eksamens) nie. Ook word veronderstel dat dit nie addisionele infrastruktuurkostes tot gevolg het nie, wat uiteraard vereis dat kapasiteitsprobleme itv klaskamerruimtes en roosterprobleme nie aanwesig is nie. Waar groot klasgroepe in elk geval onderverdeel word in twee of meer lesinggroepe, is die addisionele koste minimaal.

Die kapasiteitsprobleme is inderdaad ’n ernstige vraagstuk, maar dubbelsessies sou die probleem ten dele kon oplos. In die laboratoriumgerigte vakkursusse is die lesinglokale op vele kampusse tradisioneel voor middagete vol beset, terwyl die laboratoria grootliks leeg staan, met die omgekeerde situasie na die middagete-uur. Deur ook lesings in die middag en laboratorium-praktika in die oggend aan te bied, sou die deurvoer-kapasiteit aanmerklik verhoog kon word.

Een van die groter Suid-Afrikaanse universiteite het geraam dat die jaarlikse addisionele koste vir parallelmedium-onderrig van ’n volle spektrum graadkursusse ’n addisionele R60 miljoen tot R90 miljoen sal kos. ’n Tweede universiteit van middelgrootte het geraam dat die addisionele koste tussen R17 miljoen en R45 miljoen per jaar sal bedra, afhangende daarvan of die addisionele doseerkragbehoeftes ingekoop kan word, en of addisionele personeel permanent aangestel moet word onderskeidelik.

Met bovermelde syfers in gedagte word dit geraam dat ’n totale jaarlikse koste van R250 miljoen nodig sal wees om parallelmediumonderrig op die kampusse van ses Suid-Afrikaanse universiteite aan te bied vir ’n volle spektrum graadkursusse (dws volledige duplisering van alle kursusaanbiedings). Dit bly ’n ope vraag of dit werklik nodig is, aangesien dit twee “universiteite”, een in elk van die onderrigtale, op dieselfde kampus beteken.

Hierdie bedrag verteenwoordig slegs 2,1 persent van die totale jaarlikse begroting vir die tersiêre onderwyssektor in Suid-Afrika ten bedrae van R11,7 miljard vir 2006. Met ’n afgeskaalde aanbod, byvoorbeeld ’n halfaanbod van vakkursusse in die tweede onderrigtaal, sou die bedrag halveer na een persent van die totaal. Die vraag is of hierdie geringe bedrag nie die prys is wat die fiscus beskikbaar moet stel ter uitvoering van artikel 6 (2) van die Grondwet nie.

Die huidige befondsingsformule vir die tersiêre sektor bestaan uit twee komponente, naamlik

(a) bloktoekennings (gebaseer op studentegetalle en akademiese uitsette), wat bedoel is om die operasionele kostes te dek, en

(b) geoormerkte toekennings, vir spesifieke doeleindes.

In die 2004/5 finansiële jaar het, tov (a), die onderrig-insetkostes 64 persent van die totale begroting uitgemaak, met navorsingsuitsette 13 persent en onderrig-uitsette (gebaseer op die getal kwalifikasies) 16 persent. In dieselfde jaar het, tov (b),  institusionele-faktore-toekennings sewe persent van die totaal bedra (gebaseer op die getal benadeelde studente, grootte van die inrigting, en veelkampus-inrigtings). ’n Befondsingskomponent vir sogenaamde “foundation programmes” val buite hierdie toekennings.

Om binne hierdie opset voorsiening te maak vir dié universiteite wat parallelmedium-onderrig wil invoer, sou geen groot finansiële las op die universiteitsektor as geheel plaas nie en sou ’n sterk stimulering wees vir universiteite om ook onderrig in die amptelike Afrikatale in te faseer.

Ten slotte

Wat staan ons te doen? Die volgende aspekte sou oorweging verdien:

(a) Oortuig die staat in die algemeen, en die Departement Onderwys in die besonder, van die grondwetlike verpligting van die staat tov die bevordering van die inheemse tale, sowel as die grondwetlik-verskanste taalregte, en die feit dat dit ook van toepassing is op die hoëronderwys-sektor.

(b) Oortuig die staat daarvan dat dit nie verwag kan word dat hoëronderwys-instellings self die rekening moet optel vir die addisionele kostes verbonde aan onderrig in ’n tweede amptelike taal nie.

(c) Oortuig die belangegroepe van die inheemse tale van die belangrikheid van onderrig ook op universiteitsvlak deur middel van onderrig in die betrokke tale, sowel as moedertaalonderrig, en dat die infasering daarvan ’n belangrike komponent is vir die ontwikkeling van sodanige tale as volledige akademiese en wetenskapstale.
 
(d) Oorweeg watter akademiese kursusse in ’n tweede taal aangebied sal word (moontlik aanvanklik slegs graadkursusse in meer gewilde vakrigtings met beperkte keusevakke).

(e) Verkry die samewerking van ander Suid-Afrikaanse universiteite, bepaald dié wat een van die inheemse tale as tweede onderrigtaal wens te gebruik, om ’n gesamentlike front te vorm vir parallelmedium-onderrig-universiteite.

Sonder parallelmedium-onderrig op tersiêre vlak en die aktiewe infasering van kursusse in die inheemse tale aldaar, sal dié tale nie die status van volwaardige akademiese en wetenskapstale bereik nie.

* Voorgedra by die Taalberaad van die SAAWK en SBA te Stellenbosch op 2006-09-01 deur die skrywer in sy persoonlike hoedanigheid.