Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Artikels | Features

Maak kennis met kysmetmy, ʼn splinternuwe teatergroep in die Kaap


2008-02-18

“My pa sê altyd mens word nie sonder rede gebore op die plek waar jy gebore is nie. Jy praat ook nie sonder rede die taal wat jy praat nie.

Ek is in Suid-Afrika gebore. Ek praat Afrikaans. Met rede.”

Visie

Soos alle groot inisiatiewe wat geloods is en alle maatskappye wat gestig is in die verlede, was ons ontstaansrede en is ons bestaansrede en sal ons voortbestaansrede bly om 'n leemte te vul.

Suid-Afrika, en dan spesifiek die generasie wat ons verteenwoordig, het 'n tekort aan 'n stem. Nie dat ons stom is nie. Daar is juis te veel woorde, te veel sinne en ... te min sin. Ons het 'n stem nodig wat nie net praat nie, maar gehoor word. Nie een stem nie, 'n koor. 'n Noot-kreet. En nie noot-wendig een wat klank voortbring op die maat van rebellie, aweregsheid of skokwaarde nie. Een wat 'n ding sê, sing, skree soos dit is. 'n Stem eie aan ons. Nie geskoei op 'n Amerikaanse of Europese klankgolf wat eers vertaal moet word voor dit sin maak en dan nog steeds vals klink nie. 'n Klank wat golf uit eie bodem. 'n Stem wat resoneer. Met myne. Met joune. Ons stem. Sonder om “uit-die-blou-van-onse-hemel” retoriek in te sleep. Met apologie, of dalk juis daarsonder ...



Missie

As kysmetmy dus 'n teater skep, is dit veel meer as 'n blote plek. Dis 'n beweging, 'n forum, 'n groep mense in wie se belang dit is om hul stemme op verskillende kreatiewe wyses met mekaar te laat harmonieer.

Die kern-oogpunt van so ʼn teater is dan ook voorts om ʼn gemeenskap – saamgestel uit ’n wye verskeidenheid van individue en groepe van alle ouderdomme – betrokke te kry by hul taal en kultuur via 'n medium wat homself deur die eeue juis hiertoe verleen: die kunste. 'n Saamtrekplek vir Afrikaanse kunstenaars in Kaapstad. Moet ons nie verkeerd verstaan nie: ons wil geensins 'n Orania-perd opsaal nie. Dis holruggery en gooi selfs geharde ruiters af. Met meestal lagwekkende en selfs skandalige gevolge. Meer nog, dit laat tradisie sy gat sien. En dit is gevaarlik. Soveel soos ons grense wil afbreek, wil ons tradisie (of wat oor is daarvan) behoue laat bly. Hoe eng of wyd dit ookal mag klink.

Bid jou dit aan: 'n Nuwe generasie met ruggraat! Met trots. Met rede.

Agtergrond

Na afloop van die Jannewales-fees by Hoërskool Jan van Riebeeck in 2006, het die skool vir Floyed de Vaal genader om een van hul drome te help realiseer: ʼn Teater.

Maar ʼn teater wat gatskop. Die teater is nie slegs ‘n gebou nie, dis ʼn idee, ʼn beweging, ʼn groepering van mense wat dit belangrik ag om hul stemme op verskillende kreatiewe wyses met mekaar s’n te laat harmonieer.

Die idee is groot, kleurryk en parmantig, en sal die gesegde “Afrikaners is plesierig” vanuit sy kassie lig, opwen en rond laat rits met ʼn splinternuwe baadjie aan. En die beste is, hy kan met sy nuwe baadjie spog in sy eie valley. Hier in die stadskom gaan ons die idee op'ref', uit'pimp' en daarmee wegjaag.

Ons sal baie graag wil hê dat die teater ʼn instelling word in ons 'valley'. Ons beoog verder om die Boerneef Teater ʼn afsetgebied te maak vir individue en groepe met unieke talente en produkte gerig op die vermaaklikheidsmark.

Wie is kysmetmy?

Kysmetmy is ʼn geselskap van teaterskeppers met onder andere dramaturge, musici, tegnici, akteurs en administreerders gevestig in Kaapstad. Ons het as gemene doel die bevordering en verryking van die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf in en om die Kaapse metropool.

Kysmetmy se projekbestuurspan bestaan uit Jana Berry, Marteni Burger, Frieda van den Heever en Floyed de Vaal. Ons span medewerkers sluit in Catherine Channing (die vrou van staal) wat die rol van tegniese bestuurder beklee, Johan Nel wat verantwoordelik is vir alle multimedia, Tanya van Tonder wat optree as kysmetmy se skole-verteenwoordiger en Philip Brand wat die finansiële direkteur van die span is.

Floyed de Vaal het na skool vir twee jaar Amerika en Europa platgetoer waarna hy sy voorgraadse studies in Drama te Stellenbosch en sy nagraadse studies aan Rhodes Universiteit voltooi het. Vanaf 2003-2006 het hy aan die Universiteit van Stellenbosch gedoseer in Fisiese teater en Beweging. Floyed het sedert 1997 al aan 45 teaterproduksies deel gehad as akteur en/of regisseur. Hy het gespeel in professionele produksies vir Roy Sergeant, Marthinus Basson, Albert Maritz, Gary Gordon, Chris Weare en Gaerin Hauptfleisch.

Floyed behartig die regie van “Dames en here, Gouesneeutjie” en is ook verantwoordelik daarvoor om die kurrikulum vir die werkswinkels op te stel by die Boerneef Teater. Hy sal die spel en beweging by die werksessies aanbied.

Floyed het in sub B vir Rykie Neethling weggeswem in ʼn Bloemfontein-skoolgala.

Frieda van den Heever het, na twee jaar in C-KRUIS ('n bediening deur die kunste), haar voorgraadse dramaopleiding met onderskeiding voltooi aan die Universiteit van Stellenbosch en is tans besig met haar meestersgraad in kabaret. Sy het klavier- en sangopleiding asook musikale komposisie met lof geslaag olv Zorada Temmingh asook by die US Konservatorium. Sy doseer ook vir die afgelope twee jaar in kabaret by die US Dramadepartement en het (as aktrise en musikant) al rolle vertolk in produksies onder spelleiding van Marthinus Basson, Albert Maritz, Gaerin Hauptfleisch en Juanita Swanepoel. Sy tree verder op as dramaturg en regisseur in talle produksies.

In kysmetmy behels haar portefeulje dan ook musikale regie in produksies en musikale opleiding in werkswinkelverband.

Frieda is afkomstig van Springbok en het desondanks en derhalwe Springbok-kle(u)re in elke sportsoort onder die son asook blommekyk en skaak.

Jana Berry het haar dramagraad aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi. Daarna het sy haar Advanced Diploma in “Acting for Camera” by City Varsity, Kaapstad, met onderskeiding geslaag. Sy het in 12 teaterproduksies verskyn onder regie van onder andere Marthinus Basson, Samantha Pienaar, Rob Murray en Bernard Wolf. Verder het sy in nege studentefilms hoofrolle vertolk.

Jana het in 2007 die geleentheid aangegryp om private dramaklasse by Laerskool Jan van Riebeeck aan te bied. Sy was ook die vervaardiger van die oorspronklike “Gouesneeutjie” by die skool.

Jana behartig die vervaardiging van “Dames en here, Gouesneeutjie” as deel van haar portefeulje in kysmetmy.

Jana het eendag lank lank gelede by 'n Paarl-sokkie vir Schalk Burger, wat vir haar ogies gemaak het, die rooi kaartjie gegee ... het sy maar geweet ...het hy maar geweet ...

Marteni Burger het met haar voete vars uit die Mooirivier se waters in Stellenbosch aangekom om daar 'n 'aktrise' te word. Dit het nie vir Marteni uitgewerk nie. Maar tussen al die drama deur (drama … vang julle dit?) het sy haar liefde vir die pennevrug ontdek. Wel, Marthinus Basson het dit ontdek in die kabaretklas: "Die dag toe Marteni mens geword het." Marteni het desondanks wel 'n graad in drama verwerf en is toe terug om haar honneursgraad in skryfkuns en analise onder leiding van Temple Hauptfleish te voltooi. Hieruit het Marteni se eerste vier tekste gevloei en het sy in 2005 'n teaterproduksiemaatskappy met die naam 'Skouperd' begin.

"Sê jy ek's dik?" en "Housecoat Blues" is twee van die tekste wat uit dié perd se bek gekom het en toer al vir twee jaar die Wes-Kaap plat.

Marteni was vir 'n jaar tussen die kopieskrywers in die reklamebedryf maar sy het te veel woorde gehad en hul spasie was beperk. Daarna lok die dooies en rooies op die blaaie van 'n plaaslike poniekoerant Marteni se aandag en dit is waar sy haarself steeds bevind. Marteni was die dramaturg van die oorspronklike "Gouesneeutjie" by Laerskool Jan van Riebeeck, asook van "Dames en here, Gouesneeutjie". Sy tree op as karakterontwikkelaar, uitskeller, teksskrywer en wynconnoisseur vir kysmetmy. Marteni sal ook verantwoordelik wees om vir die aspirant-skrywers by die werkswinkels van kysmetmy te leer hoe om gedagtes op papier te kry en dit dan soos 'n roostuin te laat ruik.

Marteni is van Potchefstroom waar die damduikers en myners woon. Sy ken niemand belangrik of 'famous' nie behalwe vir Evelin Takanakie, die vrou met die baard en die spiere wie se huis deur klein kindertjies met eiers gegooi word voor hulle op 12 leer drink ...

Die Boerneef Teater en ander inisiatiewe


Met die stigting van die Boerneef Teater by Hoërskool Jan van Riebeeck beoog kysmetmy om die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf in en om die Kaapstadse metropool te bevorder en te verryk. Die kern-oogpunt van so ʼn teater is dan ook voorts om ʼn gemeenskap – saamgestel uit ’n wye verskeidenheid van individue en groepe van alle ouderdomme – betrokke te kry by hul taal en kultuur via 'n medium wat homself deur die eeue juis hiertoe verleen: die kunste.

Die stigting van die Boerneef Teater deur kysmetmy gaan gepaard met die oprigting van ʼn opleidingsentrum waarby hoërskoolleerders sowel as belangstellendes van die publiek die kans gegun word om werkswinkels in spel, regie, multimedia, musiek en musiekproduksie asook in beweging en mimiek by te woon. Die klasse word aangebied deur die hoogs opgeleide en talentvolle span van kysmetmy. Die inisiatief word dan ook heel gepas breimetmy genoem.

Kysmetmy spog voorts met drie ander inisiatiewe. Vrymetmy is ʼn been van kysmetmy wat oorspronklike multimedia-projekte behartig. Die groep se eerste 10-minuut kortfilm, Helseunki, Hoofstud van Vinland is in Desember geskiet en vervaardig. Die vollengte film St Tuiglik is tans in sy pre-produksie fase met die loodsfilm reg vir verfilming. Dié afdeling word bestuur deur Frieda van den Heever en Floyed de Vaal. Fortémetmy is 'n verdere inisiatief onder leiding van Van den Heever, met De Vaal wat die musiekproduksie behartig.

Partymetmy is die ontwikkeling van kysmetmy wat gebeurebestuur vir die maatskappy sal behartig olv Marteni Burger en Jana Berry.