Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-kommentaar

Kommentaar op Louise Viljoen se resensie van Polaroid


Gertruida Grové - 2008-02-18

Louise Viljoen se openingsparagraaf trek onmiddellik die leser se aandag aangesien sy sonder meer inval deur te verwys na Dreyer se vorige romans. Die feit dat sy interessante aspekte van die eerste twee romans – naamlik “karakters”, “filmiese detail”, “geweldstonele” en karnavalagtige eindes”, sowel as die ruimtes waarin die romans geplaas is, beskryf, laat die leser wonder waarmee Dreyer in die nuwe boek vorendag sal kom. Die inleiding is treffend en boeiend.

Die bou van die resensie is logies. Daar is ʼn duidelike inleiding, bespreking en oordeel. Die resensent verwys in die openingsparagraaf na werke van tydgenote van die skrywer waarin daar ook oor gewone mense geskryf is, en waar daar ʼn strewe bestaan om weg te breek van die gewoonheid. Sy beskou die skrywer se wegbeweeg van die “gestileerde ballet van gebeure wat ʼn mens in Dreyer se eerste romans kry” as ʼn blyke van sy groei as skrywer. Die inhoud word boeiend deur die resensent aangebied in ʼn lewendige styl. Dit is duidelik dat sy die inhoud uitstekend beheers. Dit sluit nie net die inhoud van Polaroid in nie, maar ook ander relevante literatuur. Deurgaans word voorbeelde genoem om haar argumente te staaf, byvoorbeeld deur haar toeligting van die slotgedeeltes van die kortverhale.

Die resensent slaag daarin om ʼn duidelike, ondubbelsinnige oordeel te fel. Sy prys die feit dat die skrywer daarin slaag om soos altyd helder en toeganklik te skryf, maar skroom nie om kritiek uit te spreek nie, byvoorbeeld dat daar sekere verskrywings in die teks voorkom en dat die slot meer slaankrag kon gehad het. Alhoewel daar kritiek uitgespreek word, is dit egter duidelik dat die resensent die boek hoog aanbeveel.

Na my mening is dit ʼn logiese, weldeurdagte resensie wat getuig van die resensent se fyn waarnemingsvermoë en skryfvaardigheid. Selfs ʼn nie-vakgenoot sou die teks kon verstaan.


Gertruida Grové