Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-kommentaar

Kommentaar oor Johan Anker se resensie van Die blou van ons hemel


Liezl Prinsloo - 2008-02-18

Die taak van die literêre kritikus word op verskeie wyses omskryf. Eenvoudig gestel kan ons verduidelik dat dit die taak van die literêre kritikus is om letterkundige werke te analiseer, te interpreteer en bekend te stel aan die publiek. Die kritiek of kommentaar van die kritikus of resensent is geslaagd as dit op so 'n wyse gelewer word dat dit vir die gewone leser (met ander woorde nie-vakkundiges) toeganklik is. In my opinie verrig Johan Anker sy taak voldoende in sy resensie rakende Quintus van der Merwe se boek, Die blou van ons hemel. Anker slaag daarin om 'n interessante blik te verskaf op die positiewe en negatiewe aspekte van die boek.

Eerstens verskaf Johan Anker slegs die nodigste inligting rakende die skrywer van die boek, Quintus van der Merwe. Dit is 'n belangrike aspek, veral omdat die leser hier te doen kry met die debuutroman van die skrywer, maar ook omdat dit die leser help om die skrywer beter te leer ken en die boek binne 'n bepaalde konteks te plaas.

In sy interpretasie van die teks verwys Anker na die boek as 'n spanningsroman - deur dié plasing van die boek binne die genre word die leser voorberei op wat om te verwag van die boek. Anker skenk egter 'n sekere mate van vryheid aan die publiek om self te gaan besluit of die skrywer die elemente van 'n spanningsroman voldoende integreer in die teks. Op dié wyse skep Johan Anker 'n mate van nuuskierigheid by die publiek om self die boek te lees en te oordeel of die spanningsroman vergelyk kan word met ander suksesvolle spanningsromans, soos byvoorbeeld Onsigbaar deur Deon Meyer.

Die styl waarin Johan Anker die resensie skryf kan beskryf word as kort, bondig, en selfs spannend. Anker verskaf byvoorbeeld 'n lys van al die aksie-elemente en temas wat in die teks na vore tree. Die skryfwyse is baie effektief aangesien die spannende styl van die resensie aansluit by die gesuggereerde spannende styl van die boek.

Anker verskaf ook toepaslike negatiewe kommentaar deurdat hy meld dat die moontlike spannende intrige nie altyd vlot verloop nie vanweë onderbrekings deur lang beskrywings en sekere "onbenullighede". Lesers wat dus verwag dat motors sal ontplof en die held in die been geskiet sal word binne die eerste paar bladsye, sal dus moontlik teleurgesteld wees. Anker meld egter dat die skrywer verskeie goeie elemente in sy teks aanspreek en dat hy verder daarop kan voortbou. Die publiek word dus aangeraai om die loopbaan van die skrywer te volg en selfs beter spanningsromans van hom in die toekoms te verwag.

In my opinie is die poging van Johan Anker om die skrywer sowel as die teks aan ons bekend te stel, deur sy resensie, suksesvol. Anker verskaf nie net die regte hoeveelheid inligting rakende die boek nie, maar ook die regte tipe inligting.


Liezl Prinsloo