Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-kommentaar

Desmond Painter se bespreking van Siegfried ontoeganklik


Rudolf Stehle - 2008-02-15

Desmond Painter se resensie van Willem Anker se debuutroman, Siegfried, is beslis nie ʼn lesersvriendelike resensie nie; in elk geval nie vir die nie-akademiese leser nie. Siegfried, bygesê, is ʼn komplekse werk en tot Painter se krediet moet gesê word dat hy alles in sy vermoë doen om die roman se raakpunte met die teorieë van Deleuze en Guattari aan die oningeligte leser uit te lig.

Desnieteenstaande faal hy myns insiens daarin om die leser se aandag te behou om twee redes. Eerstens gaan hy, veral in die tweede paragraaf, te tegnies in op waarom die roman as ’n nomadiese roman gelees kan word. In dié paragraaf verloor hy die leser se belangstelling, aangesien dit ’n paar keer se oorlees verg vir die leser om naastenby te begryp wat Painter bedoel. Painter se gebruik van hoogdrawende woorde, waarvoor daar eenvoudiger plaasvervangers bestaan soos ‘lateraal’, ‘immanente’, ‘wording’ en ‘katatoniese sametrekking’, strem die lees van die resensie. Slegs die gedissiplineerde, doelgerigte leser sal na die tweede paragraaf kans sien om verder te lees.

Tweedens is die resensie eenvoudig te lank. Painter sou veel meer lesers kon bereik het deur korter te skryf en minder aandag aan ingewikkelde detail te bestee. Die resensie is immers nie ’n analitiese opstel nie, maar ’n bekendstelling van die roman aan die leser. Tot sy krediet moet gesê word dat die resensie, wat van ʼn belesenheid in die sielkunde getuig, tog waardevol kan wees vir menige akademiese leser wat meer belangstel in die intertekstuele verwysingsraamwerk van Siegfried. Gelukkig verstrek Painter genoeg besonderhede oor die intrige van die verhaal vir die deursnee leser om te snap waaroor die boek handel. Hoewel die resensie nie ’n kreatiewe inleiding het nie en dit die leser allermins boei, is dit in pas met die ernstige roman wat dit bespreek en die verwikkeldheid van betekenis daarin vervat.


Rudolf Stehle