Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-kommentaar

Kommentaar op Polaroid-resensie


Jana van Wyk - 2008-02-15

Louise Viljoen is soos ʼn gunsteling tannie wat jou oornooi om resensie-koekies in Tom Dreyer se karavaan te gaan bak. As meestersjef word die presiese bestanddele versamel om die aanloklikste brousel te vervolmaak.

Sy ken haar storie en tyd vir doekies omdraai bestaan nie. Sy benader die resensie-beslag sistematies, georganiseerd en volgens die boek. Sy prikkel jou belangstelling eers met geure van Dreyer se vorige werk. Sy laat proe jou selfs aan resensie-koekies van Botha en Fouché om jou net ʼn wenk te gee in watter klas Dreyer se koek gaan val.

Viljoen beoog om hierdie koekies vir die ganse Afrikaans-kontrei te bak. Veertien kilogram agtergrondinformasie word met elf liter interpretasie gemeng. So tussendeur klits sy vyftien lepels styl en tien milliliter beskrywing in. Ook knippies waardeoordeel, informasiewaarde en sorgvuldigheid word bygevoeg.

Haar mengsel vorder vinnig en jy moet kophou om by te bly met die opbou van die resep. Stilletjies en versigtig voeg Viljoen ʼn paar brandrissies by die beslag, want volgens haar kan Dreyer se werk op sekere plekke “beter uitgewerk” gewees het en van sy slotparagrawe meer “slaankrag” hê.

Sy noem dat Dreyer geneig is om “bekende dinge vreemd te maak” en dus sout sy die beslag met ingewikkelde smake soos “lonkonieke” en “Afrikaner-diaspora”. Hierdie kombinasie kan volgens my veroorsaak dat die eindproduk meer bevredigend op ʼn gevorderde Afrikaanse-palet sal val.

Fluit-fluit stop sy die finale beslag in die oond. Die aroma van Dreyer se resensie-koekies beloof dat sy werk “’n moment van ontsnapping na ʼn ander werklikheid” sal inhou. Ek is seker sy stories “smaak soos kuns”.


Jana van Wyk