Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-kommentaar

Dié jakkalsresensie laat vinnig snork


Chrisanth M Rosant - 2008-02-15

Ek het nog altyd gemeen 'n resensie moet die leser tot 'n sekere mate tot aksie laat oorgaan of ten minste 'n bietjie reaksie uitlok. Na die lees van 'n resensie moet die leser óf sy koerant netjies opvou en sorg dat hy by die naaste Exclusive Books uitkom, óf 'n rukkie wag en dan by die volgende familiebraai maak asof hy die boek self gelees het en eenvoudig net die resensent direk aanhaal sodat hy (die resensieleser) kan lyk asof hy die een is met die kritiese oog. (Moenie so verbaas lyk nie, hierdie soort ding gebeur byna elke dag in Suid-Afrika).

Johan Anker se resensie oor Dirk Jordaan se Die Jakkalssomer lok geen of bitter min reaksie. Die enigste spontane reaksie aan my kant was toe my ooglede nader aanmekaar beweeg. (Ek moes hulle weer oopmaak net om hierdie kommentaar te skryf.) Hierdie resensie is baie neutraal geskryf, maar van wanneer af beteken neutraal persoonlikheidloos? Ek sou graag wou hê dat die resensent my as leser net so bietjie meer gee om mee te werk. Anker verafsku duidelik nie die boek nie, maar sou hy dit aanbeveel? Beveel hy dit enigsins aan in die resensie? En die feit dat hy dit " 'n stilsit-eenkeer-deurlees-storie" noem, laat dit klink of hy lui lesers probeer werf.

Die resensie is inhoudelik bevredigend, maar dit maak nie op vir die resensent se tekort aan pittigheid nie. Mens verwag nou nie hartjies of kopbene in die kantlyne van sy resensies nie, maar 'n duideliker indikasie of meer oortuigende oordeel is sekerlik nie te veel gevra nie. Dit gaan dus nie oor wat Johan Anker kwytgeraak het nie, maar hoe. Hy kon gerus die leser 'n bietjie meer gee om mee te werk. Hy sal Britney se raad moet volg "Gimme gimme gimme MORE" ...


Chrisanth M Rosant