Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-kommentaar

Hemelhel-resensie: Reg of weg met Marais se eksperiment?


JM du Toit - 2008-02-15

Dit is met groot nuuskierigheid dat ek Loftus Marais se resensie oor Martinus de Beer se debuutroman gelees het. Vir my moet 'n roman drie belangrike aspekte hê voordat dit as goeie leesstof beskou kan word. Die titel van die roman trek altyd eerste my aandag, dan die omslagontwerp, en die inhoud van die roman.

Marais gebruik die titel van die roman op 'n intelligente manier om sy resensie in twee te verdeel: Hemel en hel. Hy spreek eerstens die "hel"-aspekte aan en daarna volg die "hemel"-aspekte. Marais lewer deurentyd positiewe en negatiewe kritiek oor die roman. In die eerste plek haal hy Steve Hofmeyr se woorde aan wat in die roman verskyn. Ek stem nie saam met Marais nie, Hofmeyr se woorde is baie wys omdat dit betrekking het op hoe die hoofkarakter, Matthys, voel. Die leser verkry insig tot die karakter se gedagtegang.

Marais slaag daarin om in beide die hel- en die hemel-gedeelte van die resensie, die storielyn, die karakters, en die verloop van gebeure in die roman in diepte te ontleed. De Beer se skryfstyl word deur Marais uitmekaargetrek, maar terselfdertyd gebruik Marais in sy resensies verskillende jargon-tipes wat enige leser slapelose nagte sal gee.

Die gay-tema wat nie dadelik deur De Beer aangespreek word nie, is baie opvallend. Die rede hiervoor is nog steeds onbekend, maar Marais kom nie by hierdie onderwerp baie objektief voor nie. Die vraag kan gevra word of Marais se eie geloofsoortuigings die oorhand hier kry?

Marais se resensie het self 'n paar haakplekke, maar hy maak wel 'n hele paar goeie opmerkings in die algemeen. Vir my is Hemelhel 'n kort en kragtige titel en die omslagontwerp trek my aandag om die boek te koop. Of die inhoud van die roman wel my aandag (met hulp van Marius se resensie) getrek het, bly 'n ander vraag.


JM du Toit