Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-kommentaar

Kommentaar op Loftus Marais se Hemelhel-resensies


Liske van Lill - 2008-02-14

Loftus Marais se resensie oor Hemelhel is toeganklik en sy eksperiment met die verdeling van sy resensie in twee is geslaagd: dit is belangrik om te kyk na beide die goeie en slegte eienskappe van die boek, die dualiteite. Tog is dit moeilik om presies te bepaal hoe hy oor die roman voel: sy argument bereik uiterstes, van hewige kritiek tot opbouende lof.

Hy verwys na die cliché-opvattings oor "die las van homoseksualiteit", ensovoorts, asook stereotipering – is die lewe self nie net bloot een groot stereotipe nie? Dit maak stereotipes dus 'normaal' en 'aanvaarbaar', 'n algemene verskynsel, en wys selfs dat só 'n situasie universeel is (hetsy dit gaan oor die gay-polemiek of kliniek-ervaring). Iets soos die gay-debat was voorheen 'n taboe; nou word daar eksplisiet/ oop-en-bloot daaroor geskryf.

Marais lig krities uit dat sommige dele melodrama bevat – goed, hierdie dele klink moontlik na mooiskrywery; tog laat dit hierdie leser vra wat dan verkeerd is daarmee om die mooi in die lewe raak te sien? Dit is die verteller se manier om sy lewe beter, hemels, te maak: verstaanbaar binne sy ingeperkte depressiekliniek-bestaan. Sy optrede spruit uit die stryd wat hy moet deurwerk. Die idee van die jin-jang-insig mag wel banaal en oordoen wees, dog dit is waar van meeste temas in die literatuur (oorspronklikheid skiet dikwels tekort). Bygesê, uit Marais se 'Hemel'-deel van die resensie besef ons dat hierdie banaliteit ontstaan uit die roetine van die verteller se lewe – hy is magteloos, vasgevang in 'n plek wat vir hom toevlug bied, maar tegelykertyd inperk/vaskeer.

Laastens stel Marais dat dié roman "nie sonder haakplekke en tekortkominge [is] nie". Dit is juis hoe die lewe is; niks in die lewe is werklik daarsonder nie. Marais het hom goed van sy taak gekwyt deur te kyk na die dualiteite, tog kon hy dalk eerder sy argument ineenvleg sodat sy persoonlike gevoel deeglik kan deurskyn.


Liske van Lill