Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-kommentaar

Bloujare so reg in hierdie plattelandse meisie se kraal


Jo-Lize Jubelius - 2008-02-14

Lenelle Foster slaag daarin om die leser te oorreed dat hierdie kortverhaalbundel die moeite werd is om te lees. Deur die landskap deel van die stories te maak, slaag die skrywer daarin om 'n sterk verbintenis tussen die mense van die streek en die area waarin hulle dikwels struwelinge teëkom as boere, te bewerkstellig. Hierdie struwelinge sluit primordiale struwelinge in waar daar vir 'n sekere graad van dominansie tussen man en vrou meegeding word.

Foster noem so ook dat vroue hul mans nie toelaat om in die huis te rook nie, en op hierdie gebied het vroue dan ook die hef in die hand. 'n Verdere struweling wat kenmerklik is van die boerelewe is die onsekerheid wat met boerdery bekendgaan. Die verskeie karakters in die kortverhale veg ook om beheer oor die natuur. Hierdie siening is duidelik te bespeur in die feit dat boere beheer oor die natuur probeer verkry deur hul gewasse daar te saai en dan met 'n trekker oor die aarde te trap.

Hierdie boek skep 'n gevoel van eenheid met die natuur wat 'n leser sal laat teruglê en ontsnap van die besige lewe wat soveel van ons vandag ken. As mens vind jy jou tradisionele wortels in vele van die stories – die uitbeelding van die aarde en natuurtonele verskerp hierdie tradisionele gevoel aansienlik. Verder sal lesers voel asof hulle hulself met die staaltjies in hierdie boek kan vereenselwig as gevolg van 'n gesellige aanklank wat deur die Noord-Kaapse dialek geskep word. As jy 'n leser is wat op soek is na 'n lekkerlees-boek propvol tradisionele en spekskiet-reisverhaalstories wat nie veel inset van jou kant verg nie, is hierdie boek perfek vir jou koffietafel.

Bloujare is die tipe boek wat jou sal laat voel asof jy met jou vingers in die grond speel en daardie natuurreuk inasem.


Jo-Lize Jubelius