Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-kommentaar

Kommentaar op Polaroid-resensie


Herman Wiid - 2008-02-13

Dit is met gemengde gevoelens en belangstelling dat ek Louise Viljoen se resensie, “Polaroid: Dreyer verken die binnelandskappe van sy karakters”, oor Tom Dreyer se nuwe bundel kortverhale, Polaroid, gelees het.

Ek sê altyd die toets vir enige goeie resensie is die volgende: Sal ek (student van die letterkunde) my ouma (hoogsverveelde nooi op die platteland) en my uiters naïewe kleinsus (wat onmoontlik is om te please) almal die boek in dieselfde lig sien?

Viljoen poog in haar resensie om reg te laat geskied aan Dreyer se breinkind en slaag grotendeels daarin. Vanuit haar perspektief as gerespekteerde literatuurwetenskaplike (sommige meen sy is selfs die nuwe Elize Botha) pak sy Polaroid sistematies van ʼn kant af aan. Die noem van haar deurdagte kennis van Dreyer se vorige werke skep die stemming vir die resensie. Alhoewel ek aanvanklik die idee kry dat sy wissel tussen die rolle van literêre kritikus en literatuurwetenskaplike, besef mens gou dat hierdie tannie wéét waarvan sy praat!

Haar goeie begrip van die onderwerp en raakvat van die verhale se swak- en sterkpunte open die boek se geslote wêreld aan die publiek. Dit doen sy aan die hand van voorbeelde en laat so ook reg geskied aan die kunsprodusent. Die vaktaal (jargon) laat sy ook meestal in haar kantoor agter, maar so karig soos vleis in ʼn koshuisbredie, so tref mens maar steeds hier en daar woorde aan wat ouma Jacoba gaan laat kopkrap.

Sy steek egter die grens finaal oor na literêre kritikus wanneer sy haar oordeel vel in die slotparagraaf en haar eie stempel afdruk. Viljoen haal na my mening hiermee die paal. Ek, ouma en kleinsus sal dus wel Polaroid in ʼn gemeenskaplike lig kan aanskou, al beteken dit dalk dat dit ʼn kerslig sal moet wees.

Herman Wiid