Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-kommentaar

Kommentaar op Hemelhel-resensie


Martinus de Beer - 2008-02-11

Jippee!

Uiteindelik ‘n eerlike en opregte resensie. Ek wag al lank hiervoor. Dit is aangenaam om so iets te lees. Net ‘n bietjie kommentaar:

Eerstens, die kompetisie het ‘n wenner gehad – twee, actually: Derick Muller se Vuil Skottelgoed en SA Partridge se The Goblet Club.

Naamgewing:

Soos hierdie resensie was die boek van dag een af ‘n eksperiment – daarom soveel dinge wat anders is, veral die naamgewing. Die naamgewing is een van daardie dinge wat mense óf oor mal is óf haat. Die kommentaar wat ek daarop ontvang het was verskriklik uiteenlopend.

Ja, een van die redes is om die hoofkarakter se geheue-probleme te aksentueer, maar ook om aan te dui dat die karakters slegs gedeeltelik bestaan en nie in die geheel nie. Die karakters word herinneringe, nie volgens hulle name nie, maar wel volgens hulle aksies. Soms is dit baie moeilik om te onthou wat die name was van die persone betrokke in ‘n goeie storie as ‘n mens die verhaal later oorvertel. (Sjoe, dis ‘n lomp sin. Sorry!)

Ek hoop dit beantwoord ook jou kommentaar oor die karakters wat nie genoeg ontwikkel nie.

Spannend vs boeiend:

Tragies genoeg dui my woordeboek “boeiend” as “spannend” aan. Ek dink dit is verkeerd – gesê met baie respek teenoor LC Eksteen en MSB Kritzinger. Die herkoms van die woorde verskil. Ek glo dat Boerneef en sy kollegas nader aan die waarheid was – verwys die Tweetalige Woordeboek en ‘n goeie Oxford.

Daar is baie spannende romans, maar nie almal is boeiend nie. Spannend vereis ‘n spanningslyn en daarom intrige. Boeiend vereis iets anders – iets wat met die siel rondneuk. Ek stem saam dat die roman nie spannend is nie, maar dit is baie boeiend.

Anekdoties:

‘n Woord met ‘n baie uiteenlopende betekenisse, alhoewel ek glo ek verstaan wat jy bedoel. Ek neem kennis.

Sardonies:

Hier voel ek moet ek ‘n ander resensent verdedig, want “sardonies” word nie net op die omslag gebruik nie, maar ook in ten minste een van die resensies. Watter woordeboek beskryf sardonies as “galgehumor”, ”donker” en/of “smadelik”? Die verskil is dalk klein, maar tog van kritieke belang.

“Tot niet vergaan”:

Ja, dit is taalkundig ‘n bietjie oorbodig – ‘n mens sou verwag “tot niet gaan” of net “vergaan” – en tog nie. Die aanhaling was definitief nie ‘n grap nie, eerder ‘n slaggat. ‘n Slaggat waarin jy getrap het en my ‘n bietjie in die mou laat lag het. Daar is baie weggesteekte boodskappe in die boek – as ’t ware tussen die lyne – en verskillende goed spreek tot verskillende mense. Dit is ook ‘n verwysing na die feit dat die boek nie esoteries is nie en tog wel (verwys die titel Hemelhel). Ek los dit vir jou om uit te figure.

Oorwegend het die aanhaling persoonlike waarde. Dit was net so baie vir my bedoel as vir die leser. Dit is dalk ‘n letterkundige sonde, maar so what? Ek is nie ‘n puris nie.

Die “gay”-ding:

Ek is al vir meer as tien jaar baie nou betrokke by die gaygemeenskap. Alhoewel ek die punt verstaan wat jy maak, moet ek verskil daarvan. Dit mag die stereotipies klink, maar dit het baie waarheid in. Ek is nie – soos ek vermoed jy dink – homofobies nie. Ek het net die waarheid weergegee. Ongelukkig verskil waarheid van persoon tot persoon. As skrywer glo ek nie dat jy verantwoordelik kan neem vir almal se sienswyses nie. Dit is onmoontlik! Jy kan slegs verantwoordelikheid aanvaar vir jou eie sienswyse en dan dit ook net tot op ‘n punt moet debatteer. Anders gaan jy vir die res van jou lewe stry sonder om iets te bereik of ooit weer ‘n boek te skryf.

Iets wat jy nie weet nie is dat die naam Matthys nie ‘n sinspeling is op Martinus nie. Dit is ‘n sinspeling op Matthew. Die Matthew kom van Matthew Shepard. Ek weet nie of jy sy lewensverhaal ken nie, maar dit is die moeite werd om te gaan navors.

Polities onverantwoordelik:

Mense het jare gelede dieselfde gesê van Koos Kombuis, Antjie Krog, Johannes Kerkorrel, ens, ens. Ek glo nie dat daar in die skryfkuns iets is soos polities onverantwoordelik nie, net anders. Politiek is iets wat in die Parlement hoort, nie boeke nie. Dit letterkunde is reeds te veel vervuil deur politiek.

Banaal:

Ek verstaan wat jy bedoel nie, maar is speurverhale ook nie banaal nie? Ek besef dat baie mense graag iemand by ‘n dak wou sien afspring het, maar is dit ook nie banaal nie? Ek het op ‘n eerlike einde – waarvan ek baie hou en nie ‘n woord aan sal verander nie, al kon ek ook – besluit. Ja, ek glo in die jing-yan se boodskap – al glo nie almal daarin nie. Ek is steeds en bly ‘n gelowige Christen.

(Ns. die woord “banaal” is ook banaal.)

Oor die taalgebruik, cliché’s en oorspronklikheid:

To each his own.

Die hoofstukname en die res van die “hemel”-gedeelte:

Baie dankie! Ek waardeer dit innig. So ook die “hel”-gedeelte, alhoewel ek gevoel het ek wou graag kommentaar daarop lewer.

Baie dankie vir die resensie en dat jy die moeite gedoen het om die boek te lees. Ek het dit geniet om jou interessante resensie te lees.


Martinus de Beer