Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Fiksie | Fiction

R-E-S-P-E-C-T!!!


Mario Jonathan Brown - 2008-02-11

Dis 04:45. Ja, dis nog donders vroeg, maar wat kan ek anders doen? Ek moet opstaan, want dis ‘n nuwe dag en ek moet weer gaan werk. Ja, ek moet in stad toe gaan. Ek bly mos hier in Bellville, so dit is presies 33 minute met die trein. Ja, die trein, maar ek kan nie kla nie, want ek werk vir die Departement van Vervoer, so ek is in ‘n mate besig om my deel vir die burgerlike samelewing te doen om die vervoerstelsel te verbeter. OK, genoeg van dit, ek wil by my storie uitkom!

Ja, dis 04:45 en ek is gereed om hierdie nuwe dag aan te durf. Staan toe op en sit dadelik my Aretha Franklin CD in en sy betower my vanoggend behoorlik met haar meloklanke. R-E-S-P-E-C-T! Nou het ek weer krag vir die dag. Ja, dit het ek hope van nodig. Want die afgelope tyd hunker ek na iets meer in my lewe. Nou gaan julle seker vra: Kan een song iemand so veel krag gee? Die antwoord is natuurlik nee. Maar op daardie oomblik het ek gevoel asof my vet tannie, Aretha, my weer lewenskrag gegee het.

Fok, ek moet loop, anders mis ek my trein!

Toe ek by die stasie kom is ek net-net betyds vir my trein, want ek het vanoggend weer die meeste gedraai. Het op pad stasie toe onthou dat ek nie my hare gejel het nie. Ja, ek het nie die stylste hare nie, maar fok, my hare wil darem iets aangesmeer hê om na iets te lyk, want op die oomblik het hierdie kop lanklaas ‘n barber gesien.

Julle dink seker nou ek is die befokste mens ooit, maar ja, julle ken mos die moffies.

Ek gaan nou by my storie uitkom! Wil maar net geïllustreer het in hoe ‘n moers goeie gemoed ek 04:45 opgestaan het. Nou moet julle mooi luister, want hier begin die kak.

Dis 06:37. Die trein vertrek uit Bellville-stasie in die rigting van Kaapstad. Die weer is fantasties en ek kan die heerlike koel windjie op my voorkop voel. Dit is ‘n effense verligting vir die alewige stank in die trein. Net gister het iemand besluit om in die gang van die trein in eerste klas te kots. Ek was heeltemal naar toe ek by die werk kom. Ja, ek gaan nou by die storie uitkom. Wil maar net illustreer in watter goeie gemoed ek is.

Soos gewoonlik luister ek eers weer na al die gepraat oor wat almal die vorige aand gemaak het vir aandete. Ek weet om vaders naam nie hoekom die mense met hul kombuise op die trein klim nie. Ek luister maar aandagtig na al die stories. Gewoonlik hou ek net my ore oop vir al die skinderstories. Ek wonder soms wat alles in die mense se lewens aangaan. Oprah sê mos altyd dat elkeen van ons ‘n storie het. Al is dit ook ‘n hartseer of gelukkig storie, maar ‘n storie het ons almal. Voor my is daar iemand wat Tupperware verkoop. Langs my is een wat kla oor die mense by die werk wat ‘n probleem het met haar spaghetti-toppies. Oorkant kla die een vrou oor haar eksman wat haar nie wil uitlos nie, al is hulle nou al meer as tien jaar geskei. Agter my raak die een omie befok want sy sudoku wil nie uitwerk nie (ek kan mos nie help as jy kak speel nie, oom). Een jong kêrel luister musiek deur sy MP3-spelertjie en sing saam, maar hy klink behoorlik sleg.

Ja, so bekyk ek maar die spul in die trein en dink aan al die stories wat vertel kan word.

Nou dink julle seker watse nuuskierige moffie is dit?

Ja, ek het ook ‘n storie, maar dit is nie die tyd en plek nie.

Nou by die storie. Ooo, maar julle mense is darem besig, sou my een vriendin gesê het!

Die trein stop eerste op Oosterzee-stasie. Ek haal toe my boek uit wat ek nou al vanaf September al lees. Ek het eenvoudig net nie meer tyd vir boeke nie. Ek's besig om ‘n Kas is vir klere deur Pieter Cilliers te lees. Ek's nog nie klaar met die boek nie, maar ek dink dit is een van die beste boeke wat ek al ooit gelees het.

Ek kan nie konsentreer op die boek nie, want die oom hier oorkant is aan die slaap en snork verskriklik. Ek besluit maar toe om die boek neer te sit en maar die mense rondom my dop te hou en te luister wat hulle te sê het. Dalk kan ek deelneem aan die geselskap. Maar die geselskap is nie vanoggend watwonders nie. Hulle is nog steed besig om Tupperware-pryse te vergelyk. Die ou wat die Tupperware verkoop uit sy katalogus, vra toe watter boek ek lees. Ek gee dit toe vir hom aan om te sien. Hy lees die agterkant en daar is toe ‘n stilte vir so ‘n paar sekondes. Die antie langs hom wil ook toe sien waaroor die boek gaan en sy begin lees. Dis hier wat die kak begin het.

Die antie maak toe die stelling dat Pieter Cilliers, oftewel alle gays, gebed nodig het. Gebed help volgens haar om die gay uit jou te kry. Ek was die moer in. Ek het haar so jammer gekry en net stilgebly. Ek gaan maar vir haar bid om die naïwiteit uit haar te bid. Hoe kan een mens so ‘n eng dink van gays het? Ek was so kwaad ek kon nie ‘n woord uitkry nie. Toe, om dinge nog erger te maak, sal die Tupperware-ou nie sê nie dat mense wat gay is, iewers in hulle lewens gemolesteer was. My fok! Ek was nog nooit gemolesteer nie. Hy voeg ook toe by dat dit ‘n besluit is. My fok! Sal ek nou iets wat so moeilik is om deur die samelewing aanvaar word, kies? Dis mense soos dié twee wat dinge vir die gays moeilik maak.

Daar is my dag in sy moer in! As sy dan die groot Christen is wat vir alles wil bid, waar is haar respek? Nou wil ek nie hulle twee se lewenstories weet nie.

Nou sien julle hoekom ek nou so befok is? Maar net môre gaan ek my boek Moffie deur Andre Carl van der Merwe op die trein lees.