Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Artikels | Features

Die opgesmukte seun: ’n verhaal uit Gay New York, circa 1890


Hennie Aucamp - 2008-02-11

“I cannot help vanishing, disappearing
and dissolving. It is my foremost trait.”
: Stephen Crane in ’n brief aan Ripley Hitchcock,
1896.

“Lives do not have plots, only biographies do.”
: Guy Davenport in sy opstel “Stephen Crane”,
The Hunter Gracchus, 1996.

1

Die gay gemeenskap is geneig om selebriteite vir die “clan” op te eis, selfs waar daar onvoldoende, of selfs géén bewysmateriaal is dat die betrokkenes homofiel van aanleg is nie.

Twee internasionale skrywers wat baie jare reeds ’n beroep op die gay verbeelding maak, is Robert Louis Stevenson en Stephen Crane, en in Suid-Afrika, C. Louis Leipoldt. Karel Schoeman het ’n besonder fyn ontleding van die vermeende homoërotiese neiging by Leipoldt gemaak in sy fiksiewerk Die Reisiger, en Edmund White het die raaiselagtige Stephen Crane vir sy rekening geneem, in sy roman Hotel de Dream, wat in 2007 verskyn het.

Ten einde Edmund White se roman Hotel de Dream in perspektief te sien, is dit nodig om meer van Stephen Crane te weet. Ek laat ’n ingekorte en aangepaste weergawe volg van my artikel oor Stephen Crane wat in September 1985 in De Kat verskyn het na aanleiding van ’n herdruk van The Red Badge of Courage and Other Stories (1985).

2

Stephen Crane is in 1871 gebore en is in 1900 oorlede. Sy lewe was kort, as gevolg van koors, infeksie en ander beproewinge wat hy opgedoen het as Amerikaanse verslaggewer op sendings na afgeleë wêrelddele soos Meksiko, Kuba en die Grieks-Turkse front. Hy is uiteindelik aan tering oorlede.

Stephen Crane se lewe bevat al die elemente van ’n sensasieroman of -rolprent. Om mee te begin, lyk hy, volgens foto’s en ’n beroemde profielportret deur die skilder Linson, na die tipiese lydende held van die Hoogromantiek: donker en smeulend, met ’n hang na melancholie. Sy akademiese opleiding was lukraak en kort van duur; sport was vir hom belangriker as formele studie.

Crane wou “lewe” met ’n hoofletter ervaar. Daar was komkommertye tussen opdragte van koerante, en in dié periodes het hy ’n boheemse bestaan in New York se berugte Bowery-area gevoer. (Bowery na die Nederlands: Bouwerij.) In die jaar 1897 was hy op pad Kuba toe op ’n vrybuiterskip wat gesink het, en hy het ternouernood met die lewe daarvan afgekom. Die resultaat van hierdie episode was een van sy skitterendste verhale, “The Open Boat”.

Dit is ironies dat sommige van sy romans, soos The Red Badge of Courage en Maggie: a Girl of the Streets, wat beide as baanbrekerswerk van die Amerikaanse Naturalisme geld, suiwer verbeeldingswerk is. Eersgenoemde is geskryf sonder regstreekse ervaring van oorlog – voetbal, sê Crane, het hom alles van oorlog geleer – en Maggie: a Girl of the Streets is geskryf voordat hy prostitusie van naderby leer ken het.

Dis waar dat Stephen Crane talle dokumente geraadpleeg het voordat hy The Red Badge of Courage geskryf het; veral visuele dokumente, soos die skilderye van Winslow-Homer, en Matthew Brady se merkwaardige foto’s van die Amerikaanse Burgeroorlog. Sy belangrikste inspirasiebron was egter Oorlog en Vrede van Tolstoi. (Een van sy laaste hondjies op aarde het Tolstoi geheet.)

Crane het ook poësie en kortverhale geskryf.

Jy soek vergeefs na Stephen Crane se naam in The Oxford Book of American Verse, terwyl talle bladsye aan Hart Crane gewy word, ’n digter met wie hy dikwels verwar word. Stephen Crane se poësie, ’n baie flou afskynsel van dié van Emily Dickinson, is vergeetbaar, maar sy beste kortverhale bly internasionale klassieke.

Die beelde in sy prosa is soveel skerper, en bly jou veel langer by, as dié in sy poësie. Daar is die slotbeeld in “The Bride comes to Yellow Sky”, wat ’n sleutel tot die verhaal is, want die spore wat die gefnuikte Scratchy in die sand laat, is tregtervormig, en roep ’n uurglas op. Dié uurglas-beeld sê in soveel woorde dat die Ou Weste verby is, of dalk nooit bestaan het nie. Ook in ’n ander verhaal, “The Blue Hotel”, openbaar Crane hom as een van die subtielste, en tog simpatiekste, demitologiseerders van die Weste.

Maar die verhaal wat by Crane-bewonderaars spook, is Flowers of Asphalt, wat miskien nooit voltooi is nie, of wel voltooi is, maar voor Crane se dood vernietig is. Dit gaan om ’n seunsprostituut in Ou New York, en kon ’n baanbrekende werk binne die geskiedenis van gay literatuur gewees het, dekades voordat Der Puppenjunge van John Henry Mackay privaat uitgegee is; eweneens ’n verhaal oor ’n seunsprostituut.
Dis presies op hierdie punt dat ek Edmund White as verbeeldingsgetuie gaan inroep, rakende die geval Crane en sy verhaal Flowers of Asphalt.

3

Dit is wenslik om die nawoord tot Hotel de Dream heel eerste te lees. Edmund White sê: “This novel is my fantasia on real themes provided by history,” maar uit sy “Postface” blyk dit gou dat sy fantasie stewig in feite en in dokumente veranker is. Die titel wat so “corny” klink, was werklik die naam van die hotel cum bordello wat aan Stephen Crane se sogenaamde vrou Cora behoort het. (Vir die hele wêreld was hulle ’n egpaar, maar Cora kon nooit haar vorige man opspoor om haar huwelik met hom gekanselleer te kry nie.) Die vorige eienares van haar hotel was ene Mrs Dreme, en dit het tot ’n woordspeling gely.

Die belangrikste inligting in die nawoord is die herinnering van die New York-kritikus James Gibbons Huneker aan ’n aand toe hy en Stephen Crane saam op pad was en ’n oorgegrimeerde seunsprostituut teëgekom het. Huneker het hom iets in die hand gestop, maar die seun het hulle bly volg. Huneker het dadelik gesien dat die seun ’n prostituut is, maar Crane, wat alles van vrouens geweet het, was totaal onkundig oor gay aangeleenthede. Crane het oor sy weersin gekom en geïnteresseerd geraak in die opgesmukte seun. Die seun was volledig uitgeput en Huneker en Crane het hom na ’n restaurant geneem waar hulle vir hom kos bestel het. Crane het sy molvelboekie uitgehaal, die soort wat nou weer so populêr is, met rek en al, en aantekeninge begin maak.

Edmund White kon dankbaar gebruik maak van die kennis van Crane-kenners soos Paul Sorrentino en Stanley Wertheim, maar verswyg jammer genoeg die Stephen Crane-omnibus van 1952, saamgestel deur R.W. Stallman. Die hele omvang van Crane se belangstellings – oorlog, die see, “sleazy” New York, die Wilde Weste-mite, die bra anekdotiese Whilomville – word in dié omnibus gedek, volledig geannoteer, met inleidings by elke afdeling.

White het by George Chauncey, die skrywer van Gay New York, aangeklop om raad oor gay sleng in die negentigerjare van die neëntiende eeu. Gay sleng is periode- en omgewinggebonde, selfs in Suid-Afrika, en ouer gays kan literêr getipeer en gedateer word bloot al deur die sleng wat hulle besig.

Dis interessant dat enkele sleng woorde uit die New York van Stephen Crane die tyd oorleef het. Daar word vandag nog na ’n polisieman as “Betty Bangles” verwys, vanweë die polisie se nare gewoonte om boeie om onskuldige polse te slaan. En klaagsieke queens sê nou nog: “I’m not a well woman.”

Die vraag wat telkens by Crane-navorsers opduik, is dié oor Crane se belangstelling in prostitusie. Hy het twee romans oor prostitusie geskryf, waarvan net Maggie: a Girl of the Streets oorleef het. Hy het saamgeleef met ’n vroeëre bordello-madame, en dis van die fiktiewe Cora (gestel teenoor die historiese Cora) dat ons verneem dat Stephen Crane volkome heteroseksueel was, en ’n seksatleet in die bed. Daar kan ’n ry kaal mans by Stevie verbyloop, het Cora vertel, en hy sou nie opkyk nie, maar laat daar ’n vrou verbykom, en hy spring onmiddellik op aandag.

Prostitusie speel, kwantitatief sowel as kwalitatief, ’n groot rol in Hotel de Dream. Die gesprekke tussen seunsprostitute is net so lewendig en outentiek soos dié tussen die seunsprostitute in die Berlyn van Mackay in die jare twintig van die vorige eeu, en Crane se verbeelde gesprek met ’n transvestiet – eintlik ’n “she-male” – is ’n virtuose demonstrasie van periodeherskepping, na aanleiding van kleremodes, kosmetiek, ameublement, versiering. Die “she-male”, Jennie/Ralph, is ’n kind van haar tyd, en het onmiddellik op Art Nouveau-tendense toegeslaan. Jennie is ’n “intellektuele” prostituut, en verwys in presieuse Latyn na sekstegnieke.

Sommige lesers mag die wenkbroue lig oor ’n belese prostituut, maar dié soort was altyd daar, in die letterkunde sowel as in die werklike lewe, tot vandag toe. Die klassieke voorbeeld is The School of Whoredom van Pietro Aretino (1492-1555), in 2003 heruitgegee deur Hesperus Press. Die hele werk is ’n dialoog tussen ’n ervare prostituut van Rome, ene Nana, en haar dogter Pippa. Die moeder is besig om die dogter te onderlê in die fyner kunste van die oudste beroep op aarde. Pippa is vlug van begrip, en meer as gewillig om te leer. Die moeder se aanvanklike waarskuwing is ’n aanduiding van haar wysheid en humor:”Becoming a whore is no career for fools, well I know it, and I won’t be hurried in your case; it calls for more than lifting your skirts and saying: ‘Come – I’m coming,’ if you don’t want to close up shop the day it opens.”

Dis een van die vele verdienstes van Hotel de Dream dat dit ’n kreatiewe diskoers oor prostitusie in die letterkunde aanstig. Van Aretino kan die lyn na La Maison de Madame Tellier van Guy de Maupassant getrek word, en De Maupassant is astraal aanwesig in die liriese piekniektoneel in Last Exit to Brooklyn van Hugh Selby, Jnr. Van die raakpunte tussen Der Puppenjunge en Hotel de Dream is reeds gewag gemaak. Maar ook Die Reisiger van Karel Schoeman bied hom aan vir ’n vergelyking, by name in die Havana-toneel, wat van Schoeman se beste prosa bevat. Hy herroep die “stomende” sekssfeer, die prostitusie, die “gender bending” in Havana in Leipoldt se tyd op ’n selfs meer grafiese wyse as wat Edmund White dit doen in sý herskepping van Havana, dié keer die Havana van Stephen Crane.

Oor die redes vir Stephen Crane se belangstelling in prostitusie kan bloot gegis word.

Hy was nuuskierig na die lewe, maar sonder die oogklappe van vals moraliteit. Dit wil nog lank nie sê dat Crane immoreel of amoreel was nie. Hy was die veertiende kind van ’n dominee, en iets van sy moeder se strewe na die opheffing van die medemens sou straks oorgegaan het op hom.

Die verklaring wat Edmund White gekies het, is vereenselwiging. Stephen Crane het homself as ’n getekende, selfs sterwende gesien, en dit kon hom laat uitreik het na “the painted boy”, oftewel seunsprostituut Elliott, wat sienderoë die prooi van sifilis was en nie lank meer sou lewe nie. Elliott is ook klein van postuur, vyf voet ses duim lank, nes Stephen Crane, en beide is skraal. Elliott word Duke genoem deur Theodore, sy beskermer en vroetelpappie, net soos Cora vir Crane in teer oomblikke Duke noem.

Edmund White se vereenselwigingsteorie sal geen kans in die hof hê nie. ’n Advokaat sal geërgerd uitroep: “Conjecture, my Lord, conjecture.” Die redes vir Stephen Crane se vriendskap met ’n hoerejonge – ás dit ’n vriendskap was – sal waarskynlik nooit bevredigend verklaar kan word nie.

Al wat met stelligheid gesê kan word omtrent die “many layered” roman Hotel de Dream, is dat prostitusie die basislaag daarvan vorm.

Nóg ’n belangrike laag in Hotel de Dream is dié van vertelhoeke en -perspektiewe.

Daar is die romankarakter Stephen Crane se perspektief op homself, en dié van sy “vrou” Cora op hom. Daar is die perspektief van Theodore Koch op Crane, opgeneem in “The Painted Boy”, Edmund White se herskepping van Stephen Crane se vernietigde manuskrip, Asphalt Flowers. Om die leser nie totaal te verwar nie, word “The Painted Boy” in vetdruk aangebied, en paaiementsgewyse oor Hotel de Dream versprei. Stephen Crane, reeds sterwende, probeer sy verlore manuskrip herskep, en dikteer dit aan Cora. Cora, moet dadelik gesê word, was óók ’n verslaggewer, en dis op die Grieks-Turkse front dat sy en Stephen mekaar leer ken het.

Hotel de Dream is ’n ambisieuse onderneming. Edmund White bring al sy vaardighede as biograaf na Hotel de Dream. Hy bied enersyds ’n fiksionele biografie van Stephen Crane, en meer afgestem, van Cora. As “bonus” aan die literêre publiek, en meer in die besonder aan ’n gay publiek, kom hy met ’n verbeelde weergawe van die legendariese verlore manuskrip Asphalt Flowers.

Slaag Edmund White se gedurfde eksperiment? Soms, en soms meesterlik; maar nie oral nie. White sukkel byvoorbeeld om sy roman aan die gang te kry. Dit begin in Engeland, waarheen Stephen en Cora uitgewyk het, omdat Engelse skrywers Stephen se talent hoog geskat het – Joseph Conrad, Henry James, Wells, en ander. Hy is as ’n gelyke deur vakgenote behandel, anders as in Amerika waar hy, ten spyte van sy roem, deur sekere skrywers gepatroniseer is.

Maar White moet nou ’n groot stuk agtergrondsinligting oordra aan die leser, en wat doen hy? In “hoofstuk” 1 kry ons die gedagtepraat van Stephen Crane, in “hoofstuk” 2 die gedagtepraat van Cora. Dis die oudste foefie in die bedryf, en nie besonder verhaalmatig nie. Die raak kameë wat ons van onder andere Henry James en Joseph Conrad kry, kompenseer in ’n mate vir die lomp begin van Hotel de Dream.

Die probleem is dat Edmund White te veel gee: te veel “periode”-inventarisse, te veel argivale inligting.

Al die perspektiewe raak weldeeglik aan mekaar. In White se herskepte weergawe van Asphalt Flowers, word Stephen Crane self, baie postmodernisties, ten tonele gevoer. Tog voel hierdie skrywer dat daar ’n ander verhaal gevange sit in Hotel de Dream; ’n verhaal oor seunsprostitusie in Ou New York, met Elliott, “the painted boy”, en sy “sugar daddy” Theodore as die middelpunt daarvan. Crane mag ’n rol speel – iemand moet immers rapporteer oor die seksbedryf, die sakkerollery, die Italiaanse mafia, die hele Sünde Babel – maar Crane moet hoogstens ’n byspeler bly. Soos Hotel de Dream nou staan, is dit ’n hibried, nóg ’n volkome oortuigende biografie, nóg ’n volkome oortuigende stuk fiksie.

Laat filmmakers maar met “regstellings” kom, want Hotel de Dream pleit om verfilming. Dis ’n intens visuele roman, soms rou realisties, dan weer liries-impressionisties.

Intussen wag die publiek op Paul Sorrentino se groot biografie oor Stephen Crane, en miskien kan ’n feminis, vrou of man, aandag gee aan die robuuste Cora Crane wat, dekades voor dié term gemunt is, reeds “the New Woman” was, maar terselfdertyd ’n “good fellow”, in Crane se woorde.

Terloops, Cora is terug Amerika toe na Stephen Crane se dood, en het opnuut ’n hotel cum bordello geopen.