Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Artikels | Features

Die kajuitjonge en die swart matroos


Hennie Aucamp - 2008-02-05

1
In 1895 het die Oscar Wilde-verhore plaasgevind, en in dieselfde jaar het die Portugees-Brasiliaanse klassieke werk Bom-Crioulo van Adolfo Caminha verskyn. Volgens EA Lacey, wat dié boek opnuut in Engels vertaal het as The Black Man and the Cabin Boy (1982), is Bom-Crioulo die eerste moderne gayroman, en as sodanig verdien dit die aandag van gender-navorsers. Lacey verswyg Billy Budd van Herman Melville, en tereg, want alhoewel dié novelle in 1891 geskryf is, kort voor Melville se dood, is dit eers in 1924 uitgegee. Laat dan aanvaar word dat Bom-Crioulo die eerste moderne gayroman is, tot verkeerd bewys.

Lacey se navorsing en vertaling is gedeeltelik gesteun deur die National Endowment for the Arts, Washington, DC, en met drie deeglike inleidings, een deur Raul de Sá Barbosa, een deur Robert Howes, een deur Lacey self, behoort die akademiese statuur van Bom-Crioulo bo alle twyfel te wees.

Tog skyn die aanvaarding van Bom-Crioulo, selfs in Brasilië, onwillig te wees. In 1930 het die Brasiliaanse Vloot die verspreiding van Bom-Crioulo probeer teëgaan, en ironies genoeg het hierdie leser die Lacey-vertaling van Bom-Crioulo in ’n pornosaak raakgeloop, uitgebreide voetnote en drie inleidings ten spyt.

As ’n boek ná meer as ’n eeu nog altyd as subversief beskou word, beteken dit dalk dat dit tydeloos modern is; kortom, ’n klassiek.

Om uit te vind waarin die subversiwiteit van Bom-Crioulo lê, moet teruggegaan word na die geskiedenis van sy skrywer, Adolfo Caminha, 1867-1897. Ek verlaat my hier op die inligting in die drie kundige inleidings tot die Bom-Crioulo-uitgawe onder bespreking.

Caminha was van kindsbeen af ’n buitestander, maar uit eie keuse. Hy het sport en ander kragmetings vermy en sy tyd aan studie, lees en skryf bestee. Hy was lid van die literêre vereniging van die studente, genaamd Phenix, en toe die keiser, Don Pedro II, die studente-huldiging van Victor Hugo in 1885 bywoon, het Caminha Hugo as republikein verheerlik. Don Pedro II het ingetree en gevra dat Caminha nie gestraf word nie, want die jong man, het hy groothartig gesê, het doodgewoon die fantasieë van ’n digter.

Caminha het ’n jaar later as adelbors op ’n splinternuwe oorlogskip vertrek op ’n instruksiereis, eers na New Orleans, toe na ander dele van die VSA. Hy het ’n reisboek gepubliseer ná sy reis, maar sy loopbaan in die Brasiliaanse vloot verbeur deur ’n onbesuisde verhouding met ’n getroude vrou van 16 aan te knoop, en dit binne die vloothiërargie.

Die res van sy lewe het armoede beteken, en in 1897, nog nie 30 jaar oud nie, sterf hy. Daar moes geld bymekaar gemaak word vir sy begrafnis.

Uit dié beknopte lewensverhaal kan Caminha se veragting vir politieke en seksuele taboes afgelei word. Hy het nugter geskryf oor die seksuele praktyke van mans in afsondering, soos op ’n korvet, maar dit het die Vlootmag teen die bors gestuit. Hy het die sadistiese geselings op skepe – in naam van dissipline – beskryf, en ook dít het hom nie gewild gemaak nie. Hy het seks oor ouderdomsbeperkings heen beskryf en nie daaroor gemoraliseer nie; en ook dít het teen hom getel.

O, ja, daar is ’n prys te betaal vir “moderniteit”.


2
Caminha se Bom-Crioulo beslaan 115 bladsye ná die inleidingsbladsye afgetrek is, sodat dié werk as novelle kwalifiseer, met al die artistieke voordele verbonde aan dié genre. Die novelle het die gekonsentreerdheid en pas van ’n kortverhaal, maar dit het ook wat die kortverhaal, behalwe die lang kortverhaal, selde het: ruimte vir karaktergroei, karakterontwikkeling, en in die geval van die titelkarakter, helaas ook karakterafwikkeling.

Bom-Crioulo het ’n strakheid wat die noodlotselement in die verhaal versterk. Vroeg reeds waarsku ’n somber subteks dat die idilliese verhouding tussen die swart matroos en die minderjarige Aleixo nie blywend hoef te wees nie. Seksinisiasie, by wyse van sodomie, het oor die vyftienjarige Aleixo se pad gekom, en hy het besef dat sy skoonheid, sy jeug en sy liggaam hom bedingingsmag gee, eers net oor die swart matroos, Bom-Crioulo, wat hom op die hande dra en hom met presentjies verwen. Later, wanneer Aleixo en Bom-Crioulo tydelik van mekaar geskei word, raak Aleixo die liefling van al die seniors aan boord van die korvet, en word hy weer eens met gunste verwen. Hierdie skeiding word ’n belangrike motoriese element in die verhaal. Bom-Crioulo begin tob, en raak moroos en wrokkig.

Dis in dié stadium dat dit duidelik word waarom die kajuitjonge Aleixo heet. Caminho speel in op die klassieke literatuur, en spesifiek op Eclogue 2 van Vergilius, waar die herder Córydon intens ly onder die jong Alexis:

For beautiful Alexis, the master’s favourite,
Shepherd Córydon burned, and knew he had no hope.
Only, he used to walk each day among the dense
Shady-topped beeches. There, alone, in empty longing,
He hurled this artless monologue at hills and woods:
"O cruel Alexis, have you no time for my tunes?
No pity for us? You’ll be the death of me at last."

Volgens oorlewering slaan Córydon op Vergilius self, en Alexis op die beeldskone slaweseun Alexander, wat aan Vergilius geskenk is deur sy beskermheer Pollio.

Baie jare na Caminho sou ook Marguerite Yourcenar haar tot die klassieke naam Alexis wend in haar gelyknamige gay-novelle.

Bom-Crioulo se werklike naam, Amaro, getuig van beplanning by Caminha. Raoul de Sá Barbosa herlei dié naam na etimologiese bronne. Amaro kom uit die Latyns Maurus, wat "Moor" of "swart man" beteken, maar kan ook “bitter” beteken, uit die Latyns amarus. Edward A Lacey, vertaler van Bom-Crioulo, kom met nóg ’n suggestie: amor, "om lief te hê". ’n Gelade naam; maar eintlik word Amaro selde by sy regte naam genoem. Sy bynaam, Bom-Crioulo, het ’n gunstiger gevoelswaarde, naamlik “The Good Black Man”.

Maar die bynaam The Good Black Man klink, baie bewustelik, teen dié van The Noble Moor van Shakespeare in Othello. Bom-Crioulo is sterk en dapper wanneer hy nugter is; onder die invloed van drank gedra hy hom soos ’n dier. Ook Othello is dapper en edel, maar onder invloed van “that green-eyed monster jealousy”, aangestig deur die verdagmakings van Iago, ontwaak hy tot “primitiewe” emosies. Dis duidelik dat beide Othello en Bom-Crioulo in die tragiese modus gegiet is, wat net maar in die dood van een van die partye van ’n liefdesvennootskap kan eindig.

Bom-Crioulo bevestig, nes Othello, wat Oscar Wilde in “The Ballad of Reading Gaol” na aanleiding van ’n passiemoord sê:

And all men kill the thing they love,
By all let this be heard,
Some do it with a bitter look,
Some with a flattering word,
The coward does it with a kiss,
The brave man with a sword!


3
Die verhaalgang in Bom-Crioulo is meedoënloos; die verhaal self eenvoudig. Dit gaan om ’n driehoeksverhouding, met Bom-Crioulo, Aleixo en Miz Carolina, die agt-en-dertigjarige losieshuisbestuurderes, as die drie sentrale komponente.

Bom-Crioulo, ’n vlugteling-slaaf van die suikerplantasies, haal die veiligheid van die see en ’n matroosbestaan, en word spoedig gerespekteer weens sy groot krag en hardwerkendheid. Hy raak betower deur die vyftienjarige kajuitjonge, Aleixo, maar speel eers ’n vaderfiguur. In sy beperkte gees worstel hy met dié probleem: Hoe is dit dat hy, deur en deur ’n man, verlief kan raak op ’n seun?

Die eerste geseling-toneel in Bom-Crioulo is deurtrokke van seks. Bom-Crioulo word gestraf omdat hy die jong Aleixo teen ’n ander matroos verdedig het, helaas onnodig gewelddadig. Maar ook Bom-Crioulo se straf is oordadig: honderd-en-vyftig geselhoue. Nou, so dink die swart matroos tevrede, sal Aleixo weet hóé lief hy hom het, en die terrein is voorberei vir die eerste seduksietoneel in die novelle.

Wanneer hulle oewerverlof het, betrek Bom-Crioulo en Aleixo ’n kamer van hul eie in Rio de Janeiro, wat hulle by ene Miz Caroline huur, en hierheen keer hul terug na ’n dagtaak in die hawe, want hul verwaarloosde korvet word skoongemaak en hernuwe. Miz Caroline is ’n ou vriendin van Bom-Crioulo – hy het haar eenmaal teen aanvallers beskerm – en sy aanvaar die verhouding tussen twee mans as volkome natuurlik.

’n Jaar lank lewe Bom-Crioulo en Aleixo tevrede en gelukkig in hul liefdesnessie, maar dan word dié idille versteur. Bom-Crioulo moet op ’n oorlogskip gaan werk en word van Aleixo geskei. Aleixo geniet sy vryheid, en word deur Miz Caroline verlei en “opgelei” as minnaar. Die hele verleidingstoneel word humoristies beskryf, en is ’n verademing binne ’n oorwegend somber verhaal.

Aleixo is teen dié tyd ’n deurtrapte hoer en fortuinsoeker, en word gruwelik bederf deur sy hospita. Van die mees sensuele beskrywings in Bom-Crioulo is die sekstonele tussen Aleixo en Miz Caroline, veral die naakte badtoneel in die put in Miz Caroline se binnehof.

Intussen kan Bom-Crioulo sy afsondering nie meer verduur nie. Hy loop weg van die eiland waar hy nou gestasioneer is, en in Rio de Janeiro vind hy by Miz Caroline uit dat Aleixo nog by die losieshuis kom. Bom-Crioulo se jaloesie styg ten top; hy drink te veel en raak in ’n straatgeveg betrokke. Weer word hy deur die owerhede gegesel, dié keer so erg dat hy na ’n afsonderingshospitaal gestuur moet word. Hy smokkel ’n brief uit die hospitaal na Aleixo waarin hy hom verwyt dat hy niks van hom hoor nie, en vra dan dat Aleixo hom in die hospitaal kom besoek. Dié brief word wel by Miz Caroline afgelewer, maar sy onderskep dit, met fatale gevolge.

In die hospitaal ontmoet Bom-Crioulo ’n besoeker, Herculano, een van die jong oortreders wat saam met hom op die korvet gegesel is. Herculano het ’n gedaanteverwisseling ondergaan, nes die opgeknapte korvet waarop hy nog altyd werk. Hy vertel dat Aleixo volgens gerugte by ’n vrou bly met wie hy ’n verhouding het. Kan dit wees, wonder Bom-Crioulo, dat hy verwerp is omdat hy swart is? Hy weet nou wat hom te doen staan. Hy ontsnap uit die hospitaal, huur ’n boot wat hom oor die kanaal neem, en is op pad na Miz Caroline se huis.

Hy is nie heeltemal by sy sinne nie, en is verswak deur sy siekte, in so ’n mate dat hy gedisoriënteer is. Hy moet by die bakkery oorkant Miz Caroline se losieshuis uitvind waar hy hom bevind. Die skinderlustige assistent van die bakker vertel hom van Miz Caroline se verhouding met Aleixo. Op daardie oomblik verskyn Aleixo oorkant die straat, netjies uitgevat vir sy dagtaak.

Bom-Crioulo konfronteer Aleixo; mense kom agter dat ’n geveg op koms is, en skielik is daar ’n skare.

Die slotbladsye van Bom-Crioulo is byna ondraaglik intens. Dis of Caminha met ’n buryn op ’n etsplaat werk, soos ’n Goya wat ’n rampspoedtoneel ets. Die skare trek weg, maak pad vir die polisie. Aleixo lê in ’n bloedbad op die grond. Bom-Crioulo word weggeneem deur die polisie; Aleixo is op ’n baar, leweloos, met ’n arm wat slap hang.


4
Waarin lê die krag van Bom-Crioulo, sommige bloemryke passasies ten spyt?

Caminha skep drie onvergeetlike karakters: Bom-Crioulo, Aleixo en Miz Caroline. Elkeen van hierdie drie karakters, gegee hul beperkinge as mense, stuur reëlreg op hul noodlot af.

Al drie bly – en ook hierin sit noodlot – op Misericórdia Straat. Terugskouend word dié noodlot uitgespel, want kort nadat die leser met haar kennis gemaak het, sê Miz Caroline: “I know this old world, my dear, and in my opinion it is all misery and suffering.”

Wou Caminha in Bom-Crioulo op beskeie skaal werk in die gees van Les Misérables van Victor Hugo?