Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

O moenie huil nie, o moenie treur nie, die Stellenbosse boys kom weer!


Joan Hambidge - 2006-09-20

'n Vaste plek vir Afrikaans
Skrywers: Hermann Giliomee & Lawrence Schlemmer
ISBN 1-920109-16-1
SUN PReSS, 2006
R 150.00 (BTW ingesluit)


Ons leef in ‘n postmoderne wêreld, ‘n begrip wat alreeds ‘n cliché is. Wat dit egter in effek beteken, is dat daar geen oorkoepelende, standhoudende waarheid is nie. Vir elke persoon is sy interpretasie of posisie geldig. Die wêreld het vir die meeste mense tegelykertyd één geword en terselfdertyd verbrokkel.

Kompleks-teorieë bevestig eweneens hoe ingewikkeld en kompleks alles is. ‘n T-opsie, twee tale tegelykertyd in een klassituasie, word as ‘n oplossing “aangebied” aan die US. Dit is waarskynlik sonder dat diegene wat dit bedink en toegepas het, ‘n metafoor skep vir die proses van simultane sisteme wat tans bestaan: 
Ou Suid-Afrika versus Nuwe Suid-Afrika
Afrikaans versus Engels
nasionaal versus internasionaal
outyds versus modern
regs versus links …
En so kan ‘n mens ander opposisies byvoeg in die spel met oneindige binariteite wat geen versoening vind nie.
 
Vir sommige intellektuele is dit nie ‘n óf … óf nie, eerder ‘n én … én-situasie.
 
Om ‘n nuwe perspektief te gee op die US se taalbeleid is waarskynlik onmoontlik. Veral in Rapport en Die Burger het gewone lesers en ingeligte akademici kritiek uitgespreek op die T-opsie. Dit is ook onrusbarend dat daar telkemale in dagblaaie advertensies verskyn waarin veral Russel Bothma en Leon de Stadler die taalbeleid aan die US probeer verdedig.
 
Inmiddels het die omstrede rektor en vader van die T-opsie bedank aan die US. Wat net verdere onrustighede en spekulasies na vore gebring het.
 
Daar is geen eenvoudige oplossing te vind nie en die debat het skerp polemiese reaksies ontlok, oa van Breyten Breytenbach wat in ‘n gewraakte brief aan Die Matie in ‘n soort Kaapse Afrikaans die draak gesteek het met Brink en sy meelopers, soos Anton van Niekerk en Fanie Cloete.
 
Tog wil ek na aanleiding van Giliomee en Schlemmer se fassinerende studie oor hierdie kwessie ‘n paar knuppels in die hoenderhok gooi vanuit my posisie as ‘n Afrikaanse skrywer en dosent aan ‘n naburige universiteit (UK). (Boonop is die US my alma mater.)
 
Die boek is besonder goed nagevors, met belangrike punte vir die leser: soos dat daar 6 800 tale ter wêreld is en dat tale wél kan uitsterf. Die skrywers is besonder genuanseerd en hulle antwoord, dikwels subtiel, op aannames dat Afrikaans wél kan voortbestaan sonder enige beskerming. Ook wys hulle op die keiharde feite dat Afrikaans ‘n moedertaal is vir sowel wit as bruin sprekers. Dit is ‘n boek wat my voortdurend tot kanttekeninge genoop het soos: “Waarom moet Afrikaans as onderrigtaal verminder word aan die US as daar reeds twee ander Engelstalige universiteite in die Wes-Kaap is?” En “Meelopers van die T-opsie vergeet dat studente in ieder geval ‘n wetenskapstaal aangeleer moet word. ‘n Student van Upington weet so min van akademiese taal as ‘n Engelssprekende van Durban-Noord.”
 
Tereg word daar in debat getree met Brink se kontensieuse verslag No lesser place – The taaldebat at Stellenbosch, en die belangwekkende resensie van Philip John in Beeld word volledig geplaas. (Trouens, dit sou die kritiese leser baat om die Brink-boek sáám met hierdie studie te lees.) Philip John maak stellings waarop die kritiese leser moet let, soos Brink se hiperlogiese aanpak van die probleem. John skryf: “Waarmee hy nie rekening hou nie, is dat logika op verskillende maniere skuilplek bied vir vooroordele en magsbelange” (p 227).
 
Vir hierdie leser was die mees komplekse probleem die feit dat taal immers binne ‘n bepaalde kultuur gebed is. Waarom word Afrikaans telkens geposisioneer as die taal van die “verdrukker”, terwyl niemand dit sou waag om Engels as die taal van die “verdrukker” te sien nie, ten spyte van die geskiedenis in Suid-Afrika, oa die Anglo-Boereoorlog, die geskiedenis van konsentrasiekampe, en so meer?
 
En waarom ook die gedienstigheid aan Engels? Indien ‘n akademikus ‘n bepaalde internasionale posisie wil inneem, staan dit hom/haar vry om kongresse by te woon en referate in Engels te lewer, en selfs boeke in Engels te publiseer. Dit beteken egter nie dat Afrikaans as wetenskapstaal op voorgraadse vlak in die proses verminder of misken mag word nie. Met sodanige miskenning word die lang tradisie van Afrikaans se vestiging as wetenskapstaal ontken en verminder.
 
Philip John wys ook tereg daarop dat die hele kwessie van die taaldebat om die volgende punt sentreer: Vir wie is hierdie universiteit bedoel?
 
En sou dit enigsins korrek wees om te argumenteer dat ‘n universiteit alleen ‘n plek is wat kennis oordra? ‘n Mens sou hierby kon voeg: gestel jy sou vir ‘n geleerde aan die Sorbonne of Berlyn voorskryf dat die voertaal voortaan Engels moet wees of ‘n T-opsie? Waar het die onsinnige idee ontstaan dat Afrikaners hul eie kultuur as “minderwaardig” moet ervaar? En is dit absoluut korrek om te …
 
Philip John herinner die leser aan die implikasies van tweetaligheid aan Port Elizabeth, UWK en RAU. Philip John se slotargument is volledig in die kol: dit waarna gestrewe word as ‘n oplossing – die sogenaamde T-opsie – skep ‘n ruimte waarin almal ontuis voel.
 
En onseker.
 
Hierom is meertaligheid die antwoord. En die student moet steeds die keuse kan uitoefen om in Afrikaans te mág studeer. Nie kán nie. Mág.
 
Terug na Giliomee en Schlemmer: vir enige leser wat hom/haar besig hou met taalpraktyke, is hierdie boek ‘n aanbevole studie, ‘n kundige verslag waarin waar en wolhaar met ‘n luiskammetjie geskei word.
 
Die taalstryd word in ‘n wyer verband geplaas; dan word transformasie bespreek; en die probleem van voertaalopsies en veeltalige universiteite en die verskillende benaderings wat hieroor gevolg word. (Vir my was die belangrikste bydrae die afdeling oor Afrikaans as wetenskapstaal en die uitdagings na 1994.) Hierna word HAU’s beskou in kulturele en universiteitsverband en die groter transformasie aangespreek.
 
Aan wie is ons gedienstig as ons dink dat Engels die “oplossing” is? Of is ons soos Vaclav Havel se winkelier met sy bordjie (p 116)?
 
En waarom moet ‘n mens jou eie taal of kultuur verminder? Trouens, ek dink die erkenning van jou eie identiteit is juis binne ‘n meertalige samelewing cool! Maar laat ons dan liewers werk met tolke en Afrikaans of Engels. Keuses. Nie iets wat in jou keel afgedruk word nie – want dan word die werk wat sedert “Winternag” begin is, ongedaan gemaak.
 
Die boek word opgedra aan Neville Alexander, Johannes Degenaar en Van Wyk Louw.
 
(Hierdie is die eerste afdeling van my bespreking.)
 
 
Aantekening
Die volgende tekste het hulle aangemeld by die skryf van hierdie essay:
 
Boggom en Voertsek
 
Boggom en Voertsek het saam gepraat
Waar die akkerbome vrot
Afrikaans en Engels in ‘n klas tesaam
Die T-opsie bedink deur ‘n pc-lot.
Boggom en Voertsek het saam probeer werk
In Matieland waar die rooi voggies gloei
En rusies oor taal net boggomry versterk
En bloed soos ink in koerante vloei.
Boggom en Voertsek het teen mekaar gestry
Al gaan die rektor sy voertsek tóg kry.
Daar is niks uit hierdie stryd te trek,
Behalwe om toe te kyk hoe ‘n taal vrek!
 
– C. Lodewyk Laaipoldt
 
 
Die T-oepsie
- 'n satire
 
O geboortekront, my taal voel goed
Oh cuntry of birth, my language feels so good
jou het ek lief bo alles ... Al verdwaal
I love you dearly ... even if I lose the plot
ek deur die vers vol krinkels en kabels!
in the verse packed with chippies and nick-nacks!
Geen mindere plek, hierdie dorp van my
No lesser place, a town like wonders in Aliceland,
waar almal lekker raas en stry!
filled with fights to the brim!
By Pramberg blêr 'n Moflam!
At Titmountain bleats a gay lamb!
O landgenoot! O taalvennoot!
Oh cuntryman! Oh language fan!
T vir twee; twee vir T.
Tea for two and two for tea.
Lekka lekka ywe, laat die taalstryd lewe!
Lovely, lovely diligence, the lecture is over!
 
Joan Hambidge

September 2006