Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Artikels | Articles

Heath Ledger, 1979-2008
'n Kort oorsig oor sy films


André Crous - 2008-01-29

Vanaf: http://upload.moldova.org/movie/actors/h/heath_ledger/heath_ledger.jpgGeboortedatum: 4 April 1979
Sterfdatum: 22 Januarie 2008 

James Dean, 'n ander akteur wat in die fleur van sy lewe dood is, se naam het onmiddellik opgeduik toe ek die nuus van Heath Ledger se afsterwe hoor. Die assosiasie is baie verloklik, maar ook voortydig en nie heeltemal van toepassing nie. James Dean se reputasie berus net soveel op sy voorkoms as op sy intense karakteruitbeeldings in 'n somtotaal van drie films. Vir twee van hierdie drie films is hy vir 'n Oscar-toekenning genomineer (een vir beste akteur, in East of Eden, en een vir beste manlike byspeler, in Giant) en sy rol in Rebel without a cause was 'n watermerk in die realistiese uitbeelding van 'n sosiale werklikheid wat deur Hollywood geïgnoreer is. Met sy dood was James Dean maar net 24 jaar oud.

Heath Ledger, ster van nagenoeg vyftien rolprente in Australië en die VSA, het 'n ander paadjie geloop.

Na sy rolle in 'n aantal Australiese televisiereekse (hy is 'n boorling van die stad Perth), waaronder die eerste ernstige vertolking van 'n homoseksuele karakter in Sweat op die ouderdom van sewentien jaar, het Ledger die Amerikaanse mark betree as die raaiselagtige dog dinamiese Patrick Verona in 10 Things I hate about you – 'n baie los verwerking van Shakespeare se Taming of the Shrew wat in 'n Amerikaanse hoërskool afspeel. Die talle gerugte wat die ronde doen oor hierdie onvoorspelbare karakter, almal onwaar en heeltemal oordrewe, is amper geloofwaardig wanneer Patrick in 'n vroeë toneel in die biologieklas sy eie mes uitruk om die padda te dissekteer. Dié seun, wat volwasse is vir sy ouderdom, het egter 'n sagte hart en teen die einde van die film, onder andere danksy 'n heerlike toneel waarin hy 'n sangnommer op die voetbalveld het (http://www.youtube.com/watch?v=BIW7WXPb-dc), tem hy wel die meisie, Katarina. As kanttekening noem ek die oogpuntskoot wat Patrick by die groot hoërskoolpartytjie vervang en die kamera / die kyker Patrick se plek inneem – 'n baie belangrike besluit wat interessant (en nie sonder risiko nie) deur die kreatiewe span uitgevoer is om ons simpatie geheel en al by Ledger se karakter te plaas.

Sy volgende verskyning was in die grootskaalse oorlogdrama The patriot, waar hy die titelepiteton Benjamin Martin (Mel Gibson) se seun Gabriel vertolk het. Die storie, wat afspeel tydens die Amerikaanse revolusionêre oorlog, begin met Gabriel se besluit om teen die wense van sy pasifistiese vader by die weermag aan te sluit. Die film is 'n storie van wraak oor die onregverdige dood van talle karakters in die Martin-familie en Gabriel speel 'n belangrike rol in sy pa se ommeswaai van pasifis na reaksionêre aktivis.

As 10 Things I hate about you merendeels vir tieners was, dan het A knight's tale die totale spektrum van jeugdige (of jeughartige) kykers getrek. Dit was die eerste keer dat Heath Ledger alleen die volle gewig van 'n film op sy skouers gedra het en die manier waarop hy aangebied is, tesame met die rockmusiek wat skaamteloos regdeur die film gespeel en gesing word deur die toeskouers van die Middeleeuse steekspeltoernooie, maak van hom 'n ware sensasie, 'n rockster: Heath Ledger se waarde as bankwaardige kommersiële akteur styg oornag en so ook sy status as tienerikoon. Sy karakter wen nie net 'n reeks toernooie nie, maar ook die hart van die vrou wat hy lief het – en dié van 'n hele paar kykers.

Die karakter Sonny wat hy in die krities suksesvolle Monster's ball vertolk, is die seun en werkskollega van 'n tronkbewaarder, maar pa en seun verskil soos dag en nag. Wanneer die een gevangene die pad loop na sy teregstelling, word Sonny naar ten aanskoue van die res van die personeel en steek sy pa oënskynlik in die skande. Sonny is 'n sensitiewe seun wat nie die harde wêreldsiening van sy pa deel nie en geen teerheid of begrip van laasgenoemde ontvang nie, maar 'n punt bereik wanneer hy die onderdrukking nie langer kan verwerk nie en op bloedige wyse losbreek van die yskoue greep van sy vader.

Shekhar Kapur (van Elizabeth-faam) se Four feathers was maar bietjie van 'n vaal affêre – 'n neëntiende-eeuse oorlogfilm, met Heath Ledger as 'n Britse soldaat wat uit die weermag tree enkele dae voordat hy na die Soedan gestuur sou word. Hy word deur sy naaste vriende uitgeskel vir 'n lafaard en om sy reputasie te herstel vermom hy homself as 'n Arabier en gaan veg in die Sahara. Ledger, Kate Hudson en Wes Bentley se aksente verraai hulle as Amerikaners of Australiërs in plaas van die Britte wat hul karakters moet wees, maar die trane wat Ledger stort – meer as in enige ander van sy ander films – is heel ontroerend.

In Ned Kelly, amptelik sy grootste mislukking, vertolk hy die titelkarakter, wat in die Australiese bosveld die Kelly-bende op die been bring en 'n bank roof as 'n soort hedendaagse Robin Hood. Die film se rolverdeling sluit Orlando Bloom en Naomi Watts (met wie hy 'n ruk lank op romantiese gebied betrokke was) in en ek sal graag hierdie film wou sien, omdat dit nooit hier vrygestel is nie.

The order, ook bekend as The sin eater, is 'n donker besigheid waarin hy weer saam met skrywer-regisseur Brian Helgeland en aktrise Shannyn Sossamon (beide van A knight's tale-faam) werk. Dié film, waarin Ledger die rol van priester Alex speel, het ook sleg vertoon en weinig positiewe resensies ontvang.

Heath Ledger se rol in Lords of Dogtown was kleiner as in baie van die ander films waarin hy al verskyn het, maar sy invloed as 'n tipe peetpa vir die tienerkarakters is 'n nuwe een. As barmhartige, gerookte eienaar van 'n surf shop aan die Kaliforniese kus is Skip Engblom effens ouer as die outjies wat in sy winkel versamel om uiteindelik hul kennis van die seesport toe te pas op die wêreld van skaatsplankry. Wanneer hulle roem verwerf, word Skip en sy invloed op die vorming van die "Z-boys" tragies teruggeskuif na die vergetelheid. Die film is gebaseer op ware gebeure en na alle bewerings is Ledger se uitbeelding van die regte Engblom se uitspraak en maniërismes in die kol.

In die fantasiewêreld van The brothers Grimm vertolk Ledger een van die twee titelbroers, die mompelende Jake, wat meer naïef en impulsief is as sy broer Will (Matt Damon). Die Britse aksente, hoewel heeltemal onnodig binne konteks, is veel beter as met Ledger se vorige probeerslag. Die storie is onderontwikkel, met 'n onvergeeflike tekort aan intertekste, maar Ledger en Damon hou die aandag met hul vermaaklike manewales. 'n Kus van Heath Ledger red die samelewing.

Ledger se rol in die film wat filmkykers die wêreld oor gaande gehad het, die sogenaamde "gay western", Brokeback mountain, is sonder twyfel sy bekendste, en het gesorg vir 'n Oscar-nominasie as beste byspeler (hy het verloor teen Philip Seymour Hoffman vir sy spel in Capote). Ledger se vertolking van Ennis del Mar, die skaapwagter wat 'n verhouding aanknoop met Jack Twist (Jake Gyllenhaal), het gelyk of dit die deure wawyd sou oopgooi vir Hollywood om ernstige homoseksuele romanses met bekende akteurs na die skerms van populêre filmteaters te bring. Ons wag nog steeds vir die volgende een.

Casanova, vrygestel kort op die hakke van Brokeback, wou die kyker net herinner dat Ledger eintlik daarvan hou om die ander geslag beet te kry. Lasse Hallström se film het baie swak gevaar by die loket en een van die redes (buiten die louwarm romanse tussen Ledger en Sienna Miller en die lagwekkende visuele effekte) is die eendimensionele aanbieding van die hoofkarakter, wat uiteindelik tog wel die hart van die beeldskone feminis steel, hoewel hy, volgens haar eie erkenning, alles verteenwoordig waarteen sy skryf. Die keuse van Ledger in hierdie legendariese rol dui op die produksieleiers se vertroue dat hy die vroulike fantasie versinnebeeld.

Candy is 'n harde Australiese dwelmprent vol intense fisiese en emosionele houe wat die tragiese verhaal van Candy en Dan (Ledger) vertel; om hul verslaafdheid te finansier, laat Dan selfs vir Candy toe om haarself te verkoop vir geld. Daar is 'n rare komiese kleur aan een toneel wanneer Candy voorstel dat Dan dieselfde doen, omdat hy goed sal doen by die ouens op die mark, en hy daarop antwoord: "I'll be hopeless with the gay stuff!" Candy bevat 'n kragtige sekwens waarin die paartjie se onttrekkingsimptome oor 'n tydperk van drie dae gewys word en in die lig van die rol wat dwelms moontlik by Ledger se dood gespeel het, is hierdie film nou 'n besonder moeilike een om te sluk.

Todd Haynes, wat die regie van Far from heaven gedoen het (uitgereik in 2002), se I'm not there bring die lewe van Bob Dylan op bykans eksperimentele wyse na die skerm deur die hoofkarakter uit te beeld in ses verskillende manifestasies, elkeen deur middel van 'n ander akteur (of aktrise). Só weerspieël Ledger die ikoniese musikant in die vorm van die akteur Robbie Clark.

Heath Ledger se laaste verskyning sal wees as die karakter van die "Joker" in die volgende paneel van die Batman-filmreeks, The dark knight. Hy tree in die skoene van Jack Nicholson, wat dieselfde vreesaanjaende skurk in die 1989-weergawe van Batman vertolk het, en het volgens berigte 'n maand lank alleen in 'n hotelkamer spandeer om sy karakter van niks af op te bou. Die lokprent is reeds uit (beskikbaar op youtube) en die gesig van hierdie nuwe "Joker" is boweal skrikwekkend.

Terry Gilliam, onder wie se regie Ledger in The brothers Grimm gespeel het, se nuutste film is nou in die weegskaal weens die akteur se ontydige dood. 'n Groot gedeelte van die verfilming van The imaginarium of Doctor Parnassus was reeds voltooi, maar postproduksie visuele werk was steeds nodig en hierdie projek sal waarskynlik onvoltooid wees.

Hoewel Heath Ledger se Ennis del Mar in Brokeback mountain en Snowy Bowles in die televisiereeks Sweat albei gay was, het Ledger se eie seksualiteit nie die ambivalensie van James Dean se persoonlike lewe geken nie en kan daar met groot sekerheid gesê word dat Ledger heteroseksueel was. Sy gewilligheid om ook gay-rolle te speel, waarvan talle ander akteurs weggeskram het uit vrees of weens sogenaamde morele besware, het hom by baie gay-kykers bemind gemaak en sy vermoë om hierdie kykers (in die besonder) se simpatie te kry het bygedra tot sy verdere gewildheid onder kykers. Hy het die Oscar-nominasie vir sy rol as Ennis sonder twyfel verdien.

By die skrywe van hierdie artikel het ek die meeste van Heath Ledger se films (nog 'n keer) gekyk en net weer besef dat die filmmedium talle wonders het, insluitende die vermoë om vandag terug te gaan na die amper-werklikheid van gister; terwyl die storie vertel word is die blote teenwoordigheid van beweging genoeg om jou te oortuig dat daar 'n hart klop aan die ander kant van die skerm, selfs al is dit net 'n pure illusie.

Skok en verbasing sal nog 'n hele ruk lank by filmkykers hier en elders spook, en veral die onsekerheid rondom die omstandighede van sy dood – die groot vraag of dit selfmoord was of nie – sal bydra tot die mistifikasie van hierdie ster en tot die idealisering van sy potensiaal. As ons terugdink oor sy loopbaan, is daar reeds tonele en skote wat uitstaan: Casanova in die lugballon oor Venesië in Casanova; William Thatcher wat sy blinde pa ontmoet in A knight's tale; Patrick wat "I love you baby" sing in 10 Things I hate about you; Ennis wat Jack se blou hemp teen sy wang streel in Brokeback mountain.

Ons gaan hom nog baie mis.

The dark knight word in Suid-Afrika uitgereik in die loop van hierdie jaar se wintervakansie.