Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Fanus Rautenbach: Umfaanus

''Die Bybel is kinderspeletjies!'' sê Henk Bierman vir Umfaanus


Fanus Rautenbach - 2008-01-28

Henk Bierman, wat voorheen by die SAUK ’n baie bekende omroeper was en onder andere die besonderse program “Wat sê Die Bybel?” aangebied het, het op Stilbaai gaan uitspan, en sommer so ewe stilweg ‘n besonderse boek geskryf en sommer self uitgewer gespeel ook. Ek sê uitgewer “gespeel”, want die titel van die boek is Leer die Bybel speel-speel ken. Dusver het niemand nog teen die boek se titel beswaar gemaak nie, en dis goed so, want niemand het nog die boek bestudeer nie … behalwe miskien net Umfaanus, wat die voorreg gehad het om dit deur te werk en een voorwoord te skryf.

Waaroor gaan dit?

Dis teen sinnelose en losbandige TV en teen verveling en 'n teenvoeter vir niksdoen, saans om die etenstafel, vir die hele gesin.

Faan van Umfaanus se pa het saans by die etenstafel gesê: “Boet, gaan haal my baadjie”, en dit het beteken dat die Bybel reeds op die tafel was, maar oom Frans had respek en het altyd eers sy baadjie aangetrek voordat hy in die Heilige Boek gelees het.

Waaroor gaan dit dan?

Die doel is om onse Afrikaanse mense weer te laat belangstel om die Bybel self te lees en nie wat ander mense oor die Bybel te sê het nie. Daar is baie inligting in Henk se boek waaroor nooit gepreek word nie en wat nie in dogmaboeke geskryf word nie, maar waarvan die meeste mense nog nooit gehoor het nie, hoewel hul huise vol Bybels rondlê, en stof versamel. Hoekom?

Omdat hulle net die bekende, en mooi, stukkies oor en oor lees, ás hulle dit óóit lees. Henk se boek is daar om die Bybel speel-speel te help lees.

Vir wie is dit geskryf ?

Vir die gesinne wat saans met vierkantige TV-oë net na twak en strooi kyk. Vir Bybelstudiegroepe. Vir ouderlinge tot hulp wanneer hulle ‘n kansie kry om weer outydse huisbesoek te doen. Vir wie is hierdie boek nog geskryf? Vir almal wat kan lees, en die nood uit nood wil haal.

Die Bybel, van Genesis tot Openbaring, is in Henk se boek in 14 afdelings ingedeel. Daar is ag soorte vrae wat gestel word:

a. Staan dit so in die Bybel, of nie?
b. Waaraan of aan wie dink ek?
c. Wie het DIT gesê?
d. Roepers
e. Kriptiese leidrade of anagramme
f. Dui die plek aan
g. Pasmaats
h. Kom gou uit die doolhof

Voorbeeld van b: “Waaraan of aan wie dink ek?”

1. Hy en sy was kinderloos.
2. Hy het tog uiteindelik 8 seuns by 3 vrouens gehad.
3. Met 2 vroue was hy wettig getroud.
4. By 1 vrou het hy 6 seuns gehad.
5. Hy speel ‘n baie belangrike rol in die hele Bybel.
6. Sy tweede seun was besonder geseënd.
7. Lees van hom in Genesis 25.

As die antwoord reeds met behulp van net die eerste leidraad gegee kon word, 6 punte. By die tweede 5 punte. By die derde 4 punte. Die vierde 3 punte. By die vyfde 2 punte. By die sesde 1 punt. Geen punte nadat die Skrifgedeelte gelees is nie.

Leer die bybel speel-speel ken kan per vonkpos bestel word by Henk Bierman by hbierman@telkomsa.net

of

Posbus 444
Stilbaai
6674.

Die prys is R130, posgeld ingesluit.

Henk Bierman se telefoonnommer: 028 7542413

Oorbel (gewone mense noem dit ‘n selfoon): 073 322 4668

Dit kan ook deur LitNet bestel word by: naomibruwer@litnet.co.za.