Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Rubrieke | Columns > Marius Crous: Man-tot-man

M2M: ‘n Paar lesse geleer by straight mense


Marius Crous - 2008-01-24

1.
Een van die dinge wat ek geleer het, is dat straight mans* beslis ook mekaar se piele uitkyk. Daar word nou nie so uitgebreid en in detail daaroor gepraat soos by ons nie, maar ek dink tog mens kan die bewondering in hulle reaksies hoor wanneer hulle dit aan iemand noem. Onderweg van die kleedkamer by die strand moes ek dié Krismis hoor hoe Straight A vir Straight B sê: “Het jy daai ou met die geel hemp se meneer gesien? Liniaallengte.” Dis maar net een geval. In hulle lewens is daar heelwat gesprekke oor mans wat kwansuis “groot” is of “gewapend” is.

2.
Nog iets wat ek geleer het by straight mense, is dat hulle gou-gou op die verdediging is as jy net sou waag om iets oor ‘n mooi man te sê.

“Darem ’n mooi man met die jeans en die rooi hemp.”

“Dis X. Vergeet maar. Hy is straight.”

Dan mors ek nou nie eens my asem om hulle in te lig van my vriend se vatgemene onderonsies met straight mans in die kleedkamer by die gym nie. Geloof in die trouring wat die gate toestop, loop nog soos ‘n rooi draad deur die straight mens se denke. (Hoe sê W altyd? Selfs geringde voëls vlieg.) Ek wonder wat was die reaksie van mense op ‘n fliek soos Brokeback Mountain? Seker maar iets soos: Die moffies vat alles oor; selfs die Wilde Weste word nou verwyf.

3.
Onlangs sien ek iemand se gedrapeerde, geposeerde foto’s en wys dit aan ‘n vriendin. Nou dit is so gay as kan wees – al wat kortkom, is die reënboogvlag in die agtergrond om die tafereel te volvoer. Maar jou waarlik, die vriendin is dadelik verlief. Wie se skuld is dit? Is dit die skuld van die Cosmo wat vroue vir ‘n generasie vertel het dat daar iets is soos ‘n metroseksuele, sensitiewe man? Dat jou vriend meer mag weet as jy van grimering en die soetstroperigste ballades kan luister? Hy is sensitief van geaardheid. Noudat die straight kultuur baie van die gaykultuur oorgeneem het, kry ek vroue veel jammerder. Ek moet erken: my eie gaydar wil self soms nie lekker registreer nie, so ek kan hulle seker nie kwalik neem nie. Natuurlik moet mens die closet-gevalle hiervoor blameer – dit is nou diegene wat saam met ‘n gay man gesien wil word net as hy “straight acting” is.

4.
Straight mense soek tog so graag vir ‘n mens ‘n beduidende ander. Dis edel, maar in die proses word alle mans geklassifiseer as synde gay. Hy kan net te hard lag of sy jeans kan net te styf sit (vakansievet?) en hy is ‘n kandidaat. Hulle word aangetree: die haarkapper, die tuinier, die ou met die kuif, die gym bunny met die wit frokkie.

“Ek moet jou aan my haarkapper voorstel. Hy is ook so.”

“Jy en my tuinier sal ideaal by mekaar pas. Julle albei hou van klassieke musiek.”

In die aangetredene se oë sien jy die ontsteltenis: “Wat het ek gedoen om as een van sy soort gesien te word?”

5.
Straight mans beny gays hulle seksuele openhartigheid en hulle liggaamlike gemoedelikheid. Gay mans beny weer straight mans dat hulle vrede kan maak met hulle gewig en hulle lywe – maar dit los ons vir ‘n volgende artikel.

Gaan maar net saam met ‘n groepie straight mans na ‘n drinkplek en gou-gou praat hulle oor die meisies en die meisies se lywe en spoedig volg die sekspraatjies.

“Dis ‘n mansding. Hulle is heeldag jags en wil net heeldag naai. Hulle moet nie vir my kom vertel hulle is nie so nie en hulle is fynbesnaard en intellektueel. Bull, man!” merk ‘n alwyse vrou toe skielik oorkant my op.

“En moenie die moderne vrou weggooi nie,” laat ‘n ander alwyse van haar hoor. “Ons ook. Seks vir brekfis, seks vir middagete en seks vir aandete. En sommer nog tussendeur ook. Soos in Shirley Valentine."

Ek het tot op dié moment geglo: (1) straight mense glo net aan seks binne die huwelik; (2) mans trou net met maagde (hulle self wil nie meer maagde wees nie); en (3) straight mense slaap nie rond nie. Hulle hunker ook nie na ander seksgenote nie.

Onlangs het ‘n pel met betraande wange vertel dat sy girlfriend hom afgesê het omdat, in sy woorde, “[s]y tollie te klein was.” Eers het ek aan Samantha gedink en toe gevra: “Maak tolliegrootte vir meisies saak?”

“Wat dink jy dan van ons? Of glo jy nog daai ene van: Wat kielie die lekkerste – ‘n duifveer of ‘n teerpaal?”

Een of ander filosoof het eens opgemerk dat hy elke dag van sy lewe iets byleer. Wie weet hoeveel straight lesse is daar nog te leer? Een wat ek weet besonder lank gaan neem, is: Hoe oorkom ‘n mens jou vrees vir die vagina dentata?


*Name van vriende en vriendinne nie genoem nie.