Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Fiksie | Fiction

Die afskeid


Sebastiaan Nouwen - 2008-01-24

Vyftien jaar lê tussen ons. 'n Ongelooflik lang tyd as jy uitgelewer is aan geloof, hoop en liefde. En die grootste hiervan is die liefde!

Seer is wanneer jy iemand liefhet en dit word nie beantwoord nie.

Seerder as dit is wanneer jy iemand liefhet en soos wat die tyd aanstap, kom jy tot die besef: you have to let go.

Nóg seerder as dit is die seer wanneer jy iemand liefhet en daardie persoon word van jou weggeneem. Ek ken nie dié soort seer nie.

Die séérste seer is wanneer jy iemand liefhet maar jy dit nooit vir hom gesê het óf sal kan sê nie.

So 'n jaar gelede het ek die strekking van dié sentimentele woorde op 'n swartbord in 'n leë lesinglokaal gelees. Ek het dit nie gememoriseer nie. My geheue het die woorde met eerste sig geabsorbeer en sal dit dalk eers eendag, as die vergeetsiekte met my die parte speel, weer die wyk laat neem. Ek vermoed dat dit selfs dan nie gaan verdwyn nie, maar in absurde kombinasies van onthou en vergeet my broosheid gaan blootlê.

Ons braai vir oulaas 'n vleisie.

Die aandtemperatuur is klewerig. 'n Sagte briesie lek met 'n hondetong aan alles wat kaal is. Ons bespiegel oor die sterrekonstellasies en filosofeer of sterre wel magiese kragte het. Nie een van ons is 'n boer nie, maar ons staar na die dreigende wolke asof daar 'n oes op die land is. 'n Pieringmaan hang in die noorde teen dieselfde helling waarmee Oupa soms aan tafel die warm koffie deur die vlei gejaag het.

“As hy so hang,” het Oupa gesê, “dan gooi hy uit.” Dan het man en muis moed geskep dat die ontsettende droogte en uitmergelende hitte tot 'n einde gaan kom.

Die Vaalrivier lê soos 1 Korintiërs 13 se dowwe spieël voor ons, met sy raaiselagtige "nou ken ons maar net ten dele". Daar is darem ook 'n belofte by: eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Ek dink aan die woorde: "Toe ek 'n kind was, het ek gepraat soos 'n kind, gedink soos 'n kind, geredeneer soos 'n kind, maar nou dat ek 'n man, is ek klaar met die dinge van 'n kind." Die lekkende geel tonge van die vuur skep 'n diep bewussyn in my van die misterie van menswees. Die gloeiende wit van die kole praat 'n dieper taal. Die taal van die kind in my wat spiritueel vermoor is, toe die eerste veraf tromme van my sekualiteit in my gesmoor is.

Die vleis word half oordadig en met oorgawe omgedraai en geskuif. Die toonhoogte van die gesprekke is 'n halwe tot een oktaaf hoër as gewoonlik. Lui clichés vul traag die gapings wanneer die stiltes tussen ons te té word. 'n Mens sou nie kon dink dat vyftien jaar se weeklikse gesels oor koeitjies en kalfies, oor diep filosofiese en teologiese vraagstukke, sulke vreemdelingskap tot gevolg kan hê nie.

Die hele aand is soos 'n uitgerekte uitvoering van Ravel se Bolero. Dit swel van strelende nostalgie tot 'n onheilspellende onrus. Hoe later, hoe dreigender die kermende instrumente teen die agtergrond van die tromme se reëlmaat. Die beslistheid van die lang blêrende note maak die einde ononderhandelbaar.

"Ek sal nou moet gaan. Ek het nog nie my mense vandag gesien nie."

Asof dit die teken is, sien almal daarin 'n geleentheid om op 'n ordentlike manier verskoning te kan maak en koers te kry.

Hy bly tot heel laaste.

"Kom ek help jou opruim," sê hy.

Opruim, dink ek by myself, is immers deel van afskeid neem. Maar wat ruim 'n mens na vyftien jaar op? Hoe ruim jy emosies, begeertes, behoeftes en verlangens op? Dit is die einde van soveel jare se ervaring van glo, hoop en liefhê. Van Dawid-en-Jonatan-wees. Heteroseksueel verstaan en verklaar.

Hy ken my geheim. Ek is 'n man deur 'n ander man. Hy was die eerste een teenoor wie ek gepraat het van die veraf tromme wat ek al vir baie jare agter in my kop hoor raas het. Wat ek geïgnoreer het. Gehaat het soos my bure se blaffende honde in die nag. Bang voor was. Oor gelieg het.

Ek het nie taal daarvoor gehad op die plattelandse plekkie waar ek grootgeword het nie. Ek het eers in my universiteitsdae die taal gevind vir die eienaardigheid in my. Ek het hulle sien dans. Dans op die ritme van die tromme wat ek al so lank hoor. In die wandellane, die coffee shops, teaters, rugbykleedkamers, oral. Sommige skaam. Ander in die geheim. Party asof daar geen issue is nie.

Ek het half onbewustelik onseker en skuifelend die ritme begin volg. Later het ek ook gedans. Onbeskaamd, in harmonie met die slag van die tromme. Dit was asof my lewe eers toe begin het.

Ek het my wel yskoud geskrik toe ek myself vir die eerste keer teenoor 'n man hoor sê: "Ek is gay." Hy het aandagtig na my geluister. Verleë geglimlag. Sy hande oorkruis in sy skoot gevou. Aan die einde het hy net gesê: "Dit is deel van ubuntu."

Ons het nooit weer daaroor gepraat nie.

Hy is die hele aand stil en afgetrokke. Die aand gaan oor hom. Hy het besluit om elders vir hom 'n nuwe lewe te gaan uitkap. Iewers anders vóór te begin. Hoekom, het hy nie gesê nie.

Ons is albei in professionele beroepe. So in ons vroeë dertigs. As daar 'n traan by een van ons is, dan sal die ander een dit nie weet nie, want die rook van die klam hout byt al die hele aand. Dán staan ons hier, dán daar. Ons dans die sirkeldans saam met die motte om die vuur. Soms dwing die dwarrelende rook ons onverwags saam. Wanneer ons armhare dan terloops aan mekaar raak, trek 'n trilling sonder die lek van die wind koud langs my ruggraat af. Die aanraking is kortstondig. Dit gebeur sonder voorspel. Eeue-oue inprenting van die bose wat skuil in liggaamlike kontak tussen 'n man en 'n man verwurg summier die orgasme in die kleine. Daar is ook geen naspel nie, behalwe dat elkeen vinnig seeroog in die rook skuiling soek.

Dit is nou byna heeltemal donker. Die laaste legkaartstuk van die wolke het sy plek gekry. 'n Kreukelrige donker spinasieblaardak doof die lig van die sterre en maan uit soos in die slottoneel van ‘n ballade.

Ons kou die aand, blaas borrels en trek lang drade daarmee. Kou dit weer en herhaal die proses. Dit is 'n kwessie van man teen man. Die draaiende rook van die laaste stomp dans stadig op die slotakkoorde van die lang-uitgerekte klanke van Bolero. Sterwende kole brand die stomheid tussen ons al dieper. Niks meer as clichés val na al die jare tussen ons nie. Die aand word smaakloos van die oor en oor kou op soek na woorde.

Ek vergewe en vergeet al die kere wat ek sinneloos om die vlam gesirkel het en laat my lyf toe om woordeloos na hom te roep. Jare se begeertes, verlanges, behoeftes kulmineer in wat die gode liefde sou noem. Onsekerheid, woede, twyfel, aggressie vermeng daarmee tot 'n laatnag cocktail. As dit nie liefde is nie, wat is liefde dan?

As hy net ten minste vir my sou sê: "Weet jy wat? Ek is ook gay" Dit sou my toenemende aggressie én aangetrokkenheid oor jare teenoor hom dalk op 'n manier opruim. Al is dit dan ook vanaand vaarwel.

Presies twaalfuur staan hy skielik op. Ek besef: die laaste noot is gespeel. 'n Bleshoender skrik en breek die stil spieël van die rivier in skerwe. Dit versplinter alles tot 'n bleekwit streep skuim. Ek voel asof dit my skuld isat die bleshoender in die vreemde gaan slaap.

“Kan ons Jockeys ruil?” vra hy krakerig.

Ek is meer verras oor die broosheid in sy stem as oor die versoek.

Onder die toemaakkombers van die wolke ontklee ons halfnaak. Die briesie lek klam en kielierig aan dit wat tot nou toe bedek was. Dit voel soos ‘n oerritueel. Met die uitruil van ons pante verblind 'n kronkelende soeklig hemel en aarde. Ons uithanghemde speel vyeblaar tussen ons. Dit bedek elkeen se broosheid. Daar is iets spiritueel daarin wanneer een man ‘n ander man toelaat om die mees persoonlike aan te raak. Maar net die strelende vingers van die ligte windjie verken vanaand onbeskaamd die intieme.

Hy is 'n pa van twee en ek van drie. Albei getroud.

Ons staan woordeloos teenoor mekaar.

Hy begin stadig aantrek, maar ek huiwer. Ek weier dat die gordyne oor so 'n slottoneel sak. Kry dan skaam en begin traag ook aantrek. Die klinkende metaalgespe galm in my kop soos ‘n simbaal.

Die ooptrek van die Velcro klink asof dit sê: "Dis seeeeer."

My hemp laat ek doelbewus uithang.

Hy groet. Met die hand. Ek vat met my linkerhand aan sy skouer, vir ingeval hy dalk wil "hug". Dit voel natuurlik om dit te doen.

In die tweespoorpaadjie dans die stof 'n requiem agter die twee rooi ligte aan.

Die hitte van sy liggaam in die binneste van sy Jockey vloei in my hande in. Die buitenste dele is alreeds koud. Met die biddende hande van Albrecht Durer vou ek die sagtheid van die katoen toe. Dit word ‘n naelstring tussen my en hom.

Ek staar soos ‘n hottentotsgod na die bondeltjie swart in my hande voor my. Die klewende reuk van sy lou lyf breek na vyftien jaar die reeds geknakte riet in my.

Die blits en slag is byna gelyktydig. Die Kommissaris van Ede teken bewend sy Naam in silwer teen die groot donker ruimte, waaragter die pieringmaan met sy flou lig hang. Geen aardse feessaal was nog ooit so verlig nie. En in die koepel … hoog ... naby die rek, sien ek 'n klewerige traan blink.

Môre, as die son weer skyn, sal dit melkwit teen die swart vlek.