Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > Artikels | Features

Bistro Boer'geoisie: Hier skort net 'n vuur en die Bosveld


Yolanda McCabe - 2008-01-16

Bistro Boer'geoisie
Dertiendestraat, Menlo Park
Pretoria
Tel: 012 460 0264

Met die eerste oogopslag is ek onder die indruk dis 'n Griekse of Italiaanse restaurant. Daar’s geen opsigtelike naambord om dit te verkondig nie, net 'n ou omie op die stoep besig om sy oggendkoffie te drink. Ek stap in en voel "underdressed" in my sloffie-klere, maar die kelnerinnetjie verseker my dat daar niks mee fout is nie. Daar is geen ander mense binne nie. Orals is skilderye en ander oudhede waaraan ek nog nie aandag kan gee voordat ek nie my eerste koppie koffie gedrink het nie. Hulle bedien Diazza D'Orro-koffie en ek glimlag breed. Operamusiek speel saggies in die agtergrond.

Ek merk die eienaar/bestuurder op. Hy kom voor soos enige ander restaurantbestuurder, maar een ding is vir seker: hy het geweet hoe om ‘n gemaklike atmosfeer te skep. Hy stap in en sy eerste woorde is: "sagter, sagter", verwysend na die musiek, neem ek aan.

By die eensame tafeltjie vir twee kry ek my spyskaart … en ek kan my oë nie glo nie! Dis boerekos! Soos vlindertjies, pap en wors, pofadder, vleis en pap! Asook ander disse wat heerlik lyk, byvoorbeeld die hoenderfilet wat om fetakaas gedraai is, diep gebraai is en dan in 'n suurlemoen-roomsous voorgesit word. My mond water en my hartjie klop warm. Op die spyskaart sien ek vir die eerste keer die restaurant se naam en 'n lig gaan vir my op: Boer’geosie. Vriende van my het gepraat van hierdie plek en hulle was ekstaties oor die kos. Ek was maar skepties toe ek daarvan gehoor het, want die boerekultuur word gewoonlik kru voorgestel, in mens se keel afgeforseer, en die kos mag dalk baie eenvoudig wees. Maar tot dusver is ek aangenaam verras en beïndruk met die plek.

Oudpresidente en hulle vrouens se gesigte pryk teen die mure en ou boere-instrumente soos emmers en ornamente is oral uitgestal sonder om platvloers voor te kom. Iets sê my dat die persoon wat die restaurant besit, die diepte van die Afrikanervolk verstaan. Daar is simboliek en fyn Afrikaanse humor oral te sien. Die spyskaart het byvoorbeeld ‘n dis met die naam "Brenda Kemp's strips". Die musiek is nie oorverdowende boeremusiek nie. Dis ‘n mengsel van klassieke, smaakvolle Afrikaanse en strelende swart musiek (ek kan ongelukkig nie aan 'n beter beskrywing dink nie – dis nie kwaito nie en ook nie RMB of jazz nie).

Ek hou van dit hier. Dit laat my trots voel om 'n Suid-Afrikaner te wees vir die eerste keer in ...? Ek weet nie of ek al óóit so gevoel het nie! Namibië was nog altyd vir my meer 'n tuiste as Suid-Afrika en selfs as ‘n buitelander in Engeland het ek meer tuis gevoel. Maar hierdie plekkie is 'n oase in die woestyn van ‘n meesal aangeplakte lewe. Ek gaan nou my pap en wors eet en my koffie drink ...

Die kos is heerlik! Hoe verlang ek nou na my ma-hulle. Hier skort net 'n vuur en die Bosveld. My siel voel sommer gelawe en ek’s geïnspireer om die dag aan te pak.

Hierdie is die tipe plek waarheen jy mense van oorsee af kan bring sonder om jou te skaam oor ons sogenaamde boerekultuur, wat meesal uitgebeeld word as dom en astrant en vlak. Hierdie restaurant maak nie net heerlike kos nie, dit laat mens ook besef dat Boere bestaan uit Nederlanders, Grieke, Italianers, Duitsers, Afrikaners, Tswanas, Zulu’s, Xhosas en so baie ander mense. Dis hoe dit is, en dit is hoe dit gaan bly, en dit is wonderlik.

Welgedaan, Boer’geoisie!