Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Fanus Rautenbach: Umfaanus

Treurwilg? Nie Umfaanus nie!


Fanus Rautenbach - 2008-01-14

In die fliek in die Nouveau draai op die oomblik ‘n buitelandse rolprent, The Willow Tree (miskien moes die naam The Weeping Willow (treurwilg) gewees het, maar dis nie ‘n treurige fliek nie, dog wel ‘n hartseer ene, eintlik ‘n treurspel. Die "weeping willow" is so genoem want volgens die Oxford verwys die "weeping" na die voorkoms van die boom, nl "drooping" (soos in "drooping moustache", hang-snor); daarom word ‘n tragedie ‘n treurspel genoem … en die blinde hoofkarakter in The Willow Tree is dan eintlik ‘n treurspeler.

Nou kom ek by my storie: die Kangogrotte (daar is meer as een, in teenstelling, terloops, met die Uniegebou, waarvan daar net een is, sodat dit dus nie Uniegeboue is nie) in Oudtshoorn se wêreld. Die seun van die oorspronklike eienaars van die Kangogrotte was my buurmanin Oudtshoorn. Sy naam was John van Zyl, en die plaas waarop (waarin)die Kangogrotte is, was op (in) hulle plaas. Die Van Zyl-saal is dan ook na sy pa vernoem. Daar was egter ook ‘n Willie van Zijl, wat in 1910 Kango gestook het (verkorte naam vir Kango-brandewijn). Maar omdat hulle nie self die Kangogrotte kon ontwikkel nie, het die staat dit onteien, maar net die grotte – die Van Zyls mog nog in hulle plaashuis woon en die plaas bewerk.          

John van Zyl word toe ‘n gids en dit was sy voorreg om as jong seun die Koningsgesin in 1947 die grotte te gaan wys. Dit was baie steil en modderig en John het ‘n tou gespan en die lede van die Koningshuis "op sleeptou" geneem.            

Net voor die Eerste Wêreldoorloghet een van die boere opgemerk dat die vee wat in die Kangovallei gewei het, in beter kondisie was as dié in die res van die distrik. ‘n Duitse plantkundige en veearts het dit toegeskryf aan die weiding – daar was baie wilgerbome. Hy het ook waargeneem dat die koeie daar vrugbaarder was as ander in die streek en ook meer kalwers gegooi het. Na baie proefnemings kom hy tot die oortuiging dat die wilg baie voedsaam is, en dat die vee baie van die wilgerbome se bas gevreet het.

Maar toe maak die Duitse navorser geskiedenis. In die wilgerboom ontdek hy ‘n geneesmiddel wat aspirine genoem word. Dit is onder andere goed vir hoë bloeddruk, pyn en ander krankmente. Hy bring dit toe onder die aandag van die Duitse Weermag, en baie Duitse gewondes is met aspirine verpleeg. En genees.

“Gee vir ons ook van julle aspirine!” het die Britse Weermag gepleit.

“Maak julle eie!" was die Duitsers se antwoord.

Toe maak die geallieerdes Aspro!            

Nou weet ons almal dat baie krieketkolwe uit wilgerhoutstompe gemaak word – en ook dat die Wes-Indiese krieketspan baie van die aspirine gebruik, want die Proteas is vir hulle ‘n groot kopseer.

Ons taalbulle het Graeme Smith ook dikwels daaraan herinner dat dit die treurwilg is wat hom so treurig laat speel – en het ons die Graeme verander na Granny, en sy volle naam dus na Grannysmith. Nou is dit duidelik: as Grannysmith sy kop en sy voete gebruik, word die Proteas Golden Delicious, want die appels val nie ver van die ouma nie.