Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Artikels | Articles

Top tien flieks vir 2007*


André Crous - 2008-01-14

1. The Bourne Ultimatum
2. Zodiac
3. Me and you and everyone we know
4. The prestige
5. Marie Antoinette
6. In the valley of Elah
7. Little children
8. The lives of others
9. A mighty heart
10. Shortbus

* Hierdie lys bevat slegs films wat wel in Suid-Afrika vrygestel is. Hoewel die films almal redelik goed is, is dit nogtans 'n teleurstelling, omdat After the wedding nie daarop kan pryk nie.

"Dis 'n briljante fliek, so natuurlik sal dit nie in Suid-Afrika vrygestel word nie." Ek het my onlangs in 'n gesprek bevind waar ek hierdie stelling gemaak het, weliswaar met 'n tikkie uitlokkende oordrywing. Die punt is egter dat my eintlike topfilm van die jaar, net soos twee jaar gelede, een is wat nie in Suid-Afrika uitgereik is nie en waarvoor geen planne beraam is om dit wel uit te reik in die nabye toekoms nie.

In 2005 was dit Undertow, 'n pragtige, gewelddadige aksiedrama wat in die Suide van die VSA afspeel in die styl van Terrence Malick: poëtiese beelde wat swaar weeg met atmosfeer, gestreel deur die minimalistiese musiek van Philip Glass. Die storie is eenvoudig en akteurs soos Dermot Mulroney, Josh Lucas en Jamie Bell vertolk die hoofrolle. Dit is 'n uitstekende film (boonop in Engels!) en nogtans het dit steeds nie in Suid-Afrika verskyn nie.

Hierdie jaar is dit die beurt van 'n Deense film met die naam After the wedding (Efter brylluppet), en nie eens 'n Oscar-benoeming vir die beste buitelandse film kon die aandag van Suid-Afrikaanse verspreiders daarop fokus nie. Dis verfilm met draagbare kameras in Indië en Denemarke, en daar is stories en geheime by elkeen van die vier hoofkarakters wat ontwikkel, verstrengel, verduidelik en uitgepluis word. Mads Mikkelsen, wat die skobbejak Le Chiffre in die mees onlangse Bond-film, Casino Royale, vertolk het, speel die hoofrol met absolute oortuiging, maar kykers in Suid-Afrika sal hulle maar moet wend tot DVD-handelaars of webwerwe soos die uiters goed-toegeruste pushplay om dié unieke film in die hande te kry.

Want duidelik is dit te goed om in die filmsale te wys.

'n Ander film wat die slagoffer was van 'n erg beroerde verspreidingsveldtog was The assassination of Jesse James by the coward Robert Ford, wat op 14 Desember uitgereik is, maar wat ek twee weke later nêrens meer kon opspoor nie. Hierdie periodefilm van 155 minute met Brad Pitt en Casey Affleck het teen 28 Desember slegs nog by Cinema Nouveau in Rosebank gedraai en ek het dit ongelukkig misgeloop, omdat ek in die Kaapstad-area woon. En dít terwyl As it is in heaven na byna ses maande steeds vertoon word.

Twee films wat wel gewys het en wat ek graag wou sien, maar waarby ek met hierdie skrywe ongelukkig nog nie uitgekom het nie, is Black book en La vie en rose.

Op filmgebied was hierdie jaar heel skaflik, met 'n hele paar films wat net-net nie my lys van bestes gehaal het nie. In Babel vervleg drie stories oor ewe veel kontinente en nog meer tale om 'n idee te gee van die tragiese resultaat wat gebrekkige kommunikasie kan hê. Rendition, die Suid-Afrikaanse regisseur Gavin Hood (van Tsotsi-faam) se Hollywood-debuut, was 'n nodige film wat met 'n baie slim narratiewe struktuur wys dat die Bush-regering niks teen terreur het aangesien hulle dit sélf pleeg nie. Suid-Afrika het ook nog 'n baie goeie film hierdie jaar op eie bodem geproduseer, die komiese swart-wit Bunny chow.

Wat 2008 aanbetref is daar 'n hele aantal opwindende vooruitsigte, selfs al is After the wedding nou ongelukkig nie een van hulle nie. Julian Schnabel, die regisseur van 2001 se Before night falls, het die ondenkbare reggekry en die storie van die verlamde Jean-Dominique Bauby sorgvuldig, deeglik en onsentimenteel verfilm in die boeiende The diving bell and the butterfly.

There will be blood is 'n pragtige dog erg ontstellende film oor die Amerikaanse oliebedryf in die vroeë twintigste eeu, met Daniel Day-Lewis in die beste rol van sy loopbaan as 'n ambisieuse olieprospekteerder (regie deur Paul Thomas Anderson, van Magnolia-faam).

Daar is drie verwerkings van bekende romans waarvan groot dinge verwag word: Love in the time of cholera, gebaseer op Gabriel García Márquez se boek; Atonement, 'n verwerking van Ian McEwan se roman wat die kortlys gehaal het vir die Booker-prys; en No country for old men, die Coen-broers se jongste film, wat na alle verwagting die Oscar vir beste film gaan opraap in 2008.

Daar is 'n oulike nuwe Wes Anderson-film, The Darjeeling limited; 'n manjifieke nuwe film van Quentin Tarantino, Death proof; Sean Penn se hoog aangeprese Into the wild; en 'n komedie van die regisseur van Thank you for smoking, Jason Reitman, getiteld Juno, waarvan groot dinge verwag word. En dis alles net in die eerste drie maande van die jaar!

Hier volg die voorlopige datums waarop bogenoemde films in 2008 uitgereik word in hierdie land, soos aan die einde van 2007 deur die Suid-Afrikaanse verspreiders deurgegee:

11 Januarie: Into the wild
18 Janurarie: The Darjeeling limited
1 Februarie: Atonement
8 Februarie: Love in the time of cholera en There will be blood
22 Februarie: Death proof
29 Februarie: No country for old men
14 Maart: Juno
21 Maart: The diving bell and the butterfly.

'n Resensie van The Darjeeling limited sal eersdaags op hierdie webtuiste verskyn.