Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Artikels | Articles

Top tien flieks vir 2007


Suzette Kotzé-Myburgh - 2007-12-19

  1. The lives of others
  2. Pan’s Labyrinth
  3. Babel
  4. In the valley of Elah
  5. Half Nelson
  6. La vie en rose
  7. Me and you and everyone we know
  8. Ingrid Jonker: Her lives and times
  9. As it is in heaven
  10. Perfume

Te midde van die stygende rentekoerse en kookpunt-politiek was 2007 darem nie ’n teleurstelling op die fliekfront nie. Ons fliekjaar het meer as ’n hand vol werklik goeie films opgelewer.


  1. The lives of others: Hierdie fliek oor ’n vaal, eensame Stasi-agent in Oos-Berlyn wat betrokke raak by die lewe van ’n groep kunstenaars, het nie verniet ’n Oscar en nog ’n klomp Duitse filmpryse ingeoes nie. Dat die regisseur spesifiek só ’n verhaal gekies het om die vraag “Wat is ’n goeie mens?” te ondersoek, vind ek geheel en al oorspronklik. Onderbeklemtoonde filmkuns op sy beste.

  1. Pan’s Labyrinth: Nogmaals word ’n onderdrukkende regime as vertrekpunt gebruik om universele vrae oor die menslike kondisie te stel. So onderbeklemtoon soos The lives of others is, so gevul met bloed en geweld en fantasmagoriese drama is hierdie Spaanse meesterstuk oor ’n jong meisie se inisiasie in die lewe – en dood. ’n Fliek wat jou winduit slaan.


  1. Babel: Regisseur Alejandro Iñárritu se ontleding van die huidige stand van ons samelewing is meedoënloos en ráák. Die lewens van mense op vier kontinente – die Amerikas, Afrika en Asië – raak en kruis mekaar, maar die resultaat is nie noodwendig eenheid of ’n gedeelde menslikheid nie.


  1. In the valley of Elah: Hierdie film is nie so goed soos sy voorganger, Crash, nie, maar dis nietemin uitstekend. Die Amerikaners se hoogheilige patriotisme word behoorlik ontluister (hoewel die uitbeelding van daardie patriotisme vir my net té was), en daar word deurgedring tot die boosheid wat uiteindelik aan die hart van oorlog lê. ’n Pragvertolking deur Charlize Theron.

  1. Half Nelson: Niks minder vernietigend as konvensionele oorlog nie, is die oorlog teen die self: verslawing, in hierdie geval dwelmverslawing. Die problematiek en tragiek daarvan word hier só subtiel uitgebeeld soos ’n mens selde in ’n film te sien kry.


  1. La vie en rose: ’n Besonderse biofliek oor die Franse sanger Edith Piaf. Ten spyte van haar talent en die roem wat sy daarmee behaal het, kon Piaf eenvoudig nie die trauma van haar jong lewe in die hole van Parys te bowe kom nie en was haar uiteinde verslawing, aftakeling en ’n vroeë dood. Haar Non, je ne regrette rien raak hier skreiende ironie.

  1. Me and you and everyone we know: ’n Vréémde fliek, met rare karakters vasgevang in ’n vervreemdende wêreld, maar tog beskik dit oor ’n soort onblusbare lewensdrif – amper ’n oorlewingsdrif. Dit bied nogmaals ’n blik op die broosheid van menseverhoudings, met ’n klompie humoristiese oomblikke (weliswaar van die swarter skakering).


  1. Ingrid Jonker: Her lives and times: Jonker is (vir verskeie redes) een van die bekendste digters in Afrikaans, en hierdie biografiese film bied ’n diepte-ondersoek na haar lewe en dood. ’n Eg Suid-Afrikaanse produksie om op trots te wees.


  1. As it is in heaven: Dié film, waaroor fliekgehore hierdie jaar gaande was, het my nou nie uit my sokkies bekoor nie, weens ’n klompie swak plekke, maar die (baie belangrike en tydige) spirituele boodskap word trefseker oorgedra. En “Gabriella se lied” sal ’n hoogtepunt bly.


  1. Perfume: Vir járre stel ek nou al uit om Patrick Süsskind se beroemde boek te lees, en dit was blote toeval dat ek uiteindelik die fliek te sien gekry het. Wat ’n aangename verrassing was dit nie – sekerlik die oorspronklikste uitbeelding nog van ’n reeksmoordenaar!