Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Skole | Schools > Notas, toetse en vraestelle

Leesbegrip vir Primêre Taal Graad 10-11


2006-09-13

Beantwoord die volgende vrae nadat jy die artikel oor Deon Meyer gelees het. Dié artikel het verskyn in Insig van Mei 2003, en is effens aangepas.

 

Deon Meyer

Hou my vas, korporaal!
 
Deur EMILE JOUBERT
Foto's: PETER RIMELL

1

Die stuk brullende Duitse masjinerie beweeg teen 200 km/h oor die teerpad. Terwyl die tweewielknewel sy krag moeiteloos aanwend, tuit die wind deur my valhelm. Koel lug teen 'n nekvel waarby die dik baadjie nie kan uitkom nie. Die landskap, weet ek, flits vinnig verby. Maar ek sien dit nie. 'n Man se oë moet op die pad bly, iets waarvoor die alomteenwoordige adrenalien sorg. Die element van gevaar en waaghalsigheid word afgewissel deur 'n gevoel van rebelse, stroomop vryheid. Dis die dinge waarop motorfietsryers teer ... King of the road.
2 Die man in wie se hande my lewe en diverse liggaamsdele is, is Deon Meyer, romanskrywer, motorfietsfanatikus, joernalis en IT-sakeman, maar teen hierdie spoed stel ek net in Meyer, die Bekwame Motorfietsryer, belang. Hoewel dit einste sy spanningsroman Proteus is wat my agterop die brute BMW GS1150 laat beland het – die boek waarmee hy nou aangewys is as die ATKV se prosapryswenner van 2003. (In 2001 het hy ook dié prys met Orion gewen.)
3 Het Proteus se held, Tobela Mpayipheli, dan nie juis van Kaapstad af tot in Zambië gejaag op so 'n perd om uit die pekel te kom nie? In 'n oomblik van onverantwoordelike joernalistieke ingewing het ek my mos voorgestel Deon neem my op die eerste skof van Tobela se rit. Om die gevoel te kry, jy sien. Van Kaapstad af in die rigting van Worcester, oor die kronkelende Dutoitskloofpas. En nou sit ek hier en bibber en oë toeknyp en prewel af en toe onsamehangende frases van 'n godsdienstige aard.
4

Ons kronkel tussen die motors deur. O, die brose kwesbaarheid van mens op 'n motorfiets en spoed, amper gryp ek Deon om sy middel. Ek dra mos 'n allesvermommende valhelm, of hoe? Ons klim die Dutoitskloofpas darem stadiger uit en ek bewonder die fynbos en die aardse, kruierige reuk.

5 Volgende stopplek: Rawsonville.
6

Ons hou voor 'n eetplek stil. Binne is dit vol oudhede; daar's 'n paar gaste. Ons dik baadjies en valhelms word met agterdog bejeën. Ek vertel die tannie in die eetkamer dat ons na Rawsonville gelei is deur Alastair van Huyssteen se liedjie "Rawsonville se girls". Ek kon net sowel vir haar gesê het haar koeksisters is krom.

7 Ek en Deon praat daarom liewer oor Proteus.
8 "Die boek het 'n swart hoofkarakter gevra. Tobela figureer in my vorige boek, Orion. Proteus het by Tobela ontstaan. Die verhaal is om hom geweef nadat sy agtergrond in Orion uitgelig is."
9 Tobela se agtergrond is so Suid-Afrikaans as kan kom: Die stil seun van 'n Oos-Kaapse predikant raak betrokke by die struggle. Hy sluit hom aan by Umkhonto weSizwe, die ANC se militêre vleuel en word 'n suksesvolle sluipmoordenaar vir die KGB en die Oos-Duitsers – sy voorliefde: om opponente stilletjies met 'n assegaai te deurboor. Met die koms van die nuwe Suid-Afrika word Tobela vergeet. Hy word 'n onopsigtelike gesinsman – totdat daardie "een laaste opdrag" alles beduiwel, die opdrag wat lei tot die motorfietsrit van die Kaap na Zambië.
10 "Ek klim onder Tobela se vel in," sê Deon. "En soos in al my boeke handhaaf ek 'n stram spanningslyn. En jy weet, spanning bly die primêre uitdaging vir 'n skrywer van dié genre. Proteus is my mees komplekse roman tot dusver. Die boek loer agter die sluier van die Suid-Afrikaanse intelligensiedienste, die ou swartskoenbrigade, en dié klomp wat met 'n skoon lei wil begin."
11 Hoe het hy die donker wêreld van spioenasiedienste nagevors?
12 "Dis verstommend wat 'n mens alles op die internet kan kry. Daar is baie rekords beskikbaar, maar natuurlik het ek 'n paar persoonlike kontakte opgebou, mense wat betrokke was by intelligensie, ook ANC-comrades wat in die buiteland was. Dis mense wat my vertrou." Hy glimlag wrang voor die onvermydelike cliché: "Meer as dit kan ek nie sê nie."
13 Hy skryf elke oggend voor werk van vyf- tot sewe-uur. Net weekdae. "Dis deel van my," sê hy. "Dis 'n oerdrang om kreatief te wees."
14 Deon se werk word wyd gelees: in Engels, Nederlands, Italiaans, Engels, Tsjeggies en Bulgaars. "Die Europeërs vind die karakters, ons landskappe baie eksoties. Snaaks, van al die lande verkoop my boeke die beste in Italië."
15 En die gerugte – Meyer en Hollywood?
16 "Dit klink meer indrukwekkend as wat dit is," sê hy. "Die rolprentbedryf is vol warm lug en grootpratery, glo my. Ja, 'n Amerikaanse vervaardiger het 'n opsie op die rolprentregte vir Feniks. Maar dis net 'n opsie."
17 Meyer is bekend as besonder georganiseerd en doelgerig: bestuur sy internetmaatskappy; skryf artikels, rubrieke en romans; toer met sy motorfiets; en ruim genoeg tyd in vir sy gesin.
18 Op pad terug jaag ons verby 'n Golf. Drie jong meisies met sonbrille en wit glimlagte. Van agter die valhelm gee ek hulle 'n koel ysterperdkyk.
19 Maar natúúrlik kyk hulle net vir die ou voor my. Hy draai die enjin oop. Dit brul – al harder en harder.

 

Vrae:

  1. In die eerste paragraaf verwys die skrywer na die motorfiets as “masjinerie” en “tweewielknewel”. Watter eienskappe van die motorfiets, dink jy, probeer hy beklemtoon? (2)
  2. Watter aanduiding is daar in die eerste paragraaf dat die motorfietsryer die wet oortree? (2)
  3. Voltooi die volgende stelling deur 'n woord uit paragraaf 1 in te vul:
    Motorfietsryers wat van spoed en gevaar hou, kan beskou word as _______verslaafdes. (1)
  4. Verskaf 'n woord wat dieselfde beteken as “diverse” in paragraaf 2. (1)
  5. Waarvoor staan die afkortings IT en ATKV in paragraaf 2? (2)
  6. Verduidelik hoe Proteus vir Emile Joubert agterop Deon Meyer se motorfiets laat beland het. (3)
  7. Verduidelik waarom Emile Joubert agterop die motorfiets “onsamehangende frases van 'n godsdienstige aard” prewel (paragraaf 3)? (1)
  8. Vir watter moontlike reaksie van motoriste is Joubert bang wanneer hy in paragraaf 4 sê: “Ek dra mos 'n allesvermommende valhelm, of hoe?” (2)
  9. Waarom bejeën die klante in die eetplek in Rawsonville vir Meyer en Joubert met agterdog (paragraaf 6)? (2)
  10. Wat impliseer die volgende opmerking oor die tannie se reaksie in die eetplek: “Ek kon net sowel vir haar gesê het haar koeksisters is krom” (paragraaf 6)? (2)
  11. Word Meyer se opmerking in paragraaf 8, "Die boek het 'n swart hoofkarakter gevra”, letterlik of figuurlik bedoel? Verduidelik. (3)
  12. Haal een woord uit paragraaf 9 aan wat Tobela beskryf as iemand wat nie veel aandag trek nie. (1)
  13. Kan jy uit paragraaf 10 aflei wat die spesifieke genre is waarin Deon Meyer skryf? Gee slegs een woord. (1)
  14. Wat wil 'n persoon graag doen as hy “met 'n skoon lei wil begin” (paragraaf 10)? (2)
  15. Watter bronne het Meyer geraadpleeg tydens sy navorsing vir Proteus? (2)
  16. Hoe weet ons dat Meyer se boeke 'n internasionale aanhang het? (1)
  17. Haal 'n sin uit paragraaf 16 aan wat daarop dui dat Deon Meyer skepties is oor die moontlikheid dat Feniks verfilm sal word. (1)
  18. Watter aanduiding kry die leser aan die einde van die artikel dat Joubert die terugtog op die motorfiets meer begin geniet? (1)

Totaal: 30

Antwoorde:
 
  1. Die skrywer probeer die grootte en kragtigheid van die motorfiets beklemtoon. (2)
  2. Hy ry teen 200 km/h – vér bo die wettige spoedgrens. (2)
  3. adrenalien (1)
  4. allerlei, verskillende, verskeie, uiteenlopende. (1)
  5. Inligtingstegnologie; Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging. (2)
  6. In Proteus jaag die hoofkarakter op 'n kragtige motorfiets; Joubert wil graag self die gevoel kry van wat die hoofkarakter (Tobela) ervaar het. (3)
  7. Hy is bang vir die motorfietsrit ('n ongeluk). (1)
  8. Motoriste mag dalk dink hy is gay (of 'n sissie) as hy (uit vrees) vir Meyer om die middellyf vashou op die motorfiets. (2)
  9. Hulle dink dalk dié twee is rowwe kêrels of rowers wat hulself vermom in hul motorfietsuitrustings. (2)
  10. Die tannie het nie sy grappie oor die meisies van Rawsonville gesnap nie. (2)
  11. Figuurlik (ü). 'n Boek kan nie, soos 'n mens, vir iets vra nie.
    OF 'n Swart hoofkarakter sou die beste by die inhoud van die boek pas. (üü) (3)              
  12. onopsigtelike (1)
  13. spanningsroman (1)
  14. Hy wil van nuuts af (oor) begin, sonder dat dinge uit die verlede hom pla. (2)
  15. Hy het die internet gebruik en met mense gepraat wat betrokke was by die intelligensiediens. (2)
  16. Sy boeke is in ses tale vertaal. (1)
  17.  “Maar dis net 'n opsie.” OF “Die rolprentbedryf is vol warm lug en grootpratery, glo my.” (1)
  18. Hy gee die meisies in die wit Golf 'n “ysterperdkyk”. (1)
 
 
Totaal: 30