Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Skole | Schools > Rubrieke > Om eerlik te wees ...

Om eerlik te wees ... Klein dogtertjies moet liewer klein bly


Jasper van Zyl - 2006-09-12

If you tolerate this, your children will be next.
- Manic Street Preachers

Die wonderlike ding van evolusie (nie Darwin se kontroversiële makro-evolusieteorie nie, maar mikro-evolusie) is dat organismes oor tyd sekere aanpassings aan die struktuur van hul eie selle en weefsel maak wat daardie spesifieke organismes in staat stel om te kan oorleef in die tyd en plek waar dit moet voortbestaan en voortplant. Dat hierdie soort evolusie bestaan, word selfs deur kerkleiers en konserwatiste wat Darwin se teorieë van die hand wys, erken. Dis 'n feit soos 'n koei: die Pigmeë van die Australiese outback se voete is byvoorbeeld só aangepas om beter te kan boomklim. Woestynsoogdiere het langer Henlelusse in hul niere om meer water te bespaar. Dis die natuur. En dis goed so.

Ek wil eendag kinders hê. Meer as een. Maar ek weet nie aldag of ek dogters wil hê nie. Nee. Ek wil nie. Dis nie 'n seksistiese ding nie, meisies; inteendeel, daar is min dinge ouliker as klein dogtertjies. Dit gaan nie daaroor dat ek nie dogtertjies sal wil grootmaak nie. Ek dink dit is veronderstel om baie makliker te wees! Dit gaan daaroor dat ek weet dat as ek dogters het, ek nooit weer 'n nag in my lewe sal slaap nie.

Ek gaan kuier nou die dag vir my broer in Stellenbosch. Hy is 'n barman by 'n bekende nagklub daar, maar hy vat my toe na 'n ander kroeg waar hy soms uithang. Toe ons later dansbaan toe gaan in die einste kroeg, sien ek jong meisies (nie ouer as 18 nie) wat op tafels dans, in kort rompies. As jy opkyk, sien jy die son. In die mansbadkamer vry 'n meisie in net 'n bra en rompie met 'n man – presumably haar boyfriend.

Die ergste ding is: hierdie meisies is nie die weggooikinders van ons samelewing nie. Hulle kom nie uit slegte huise of shady agtergronde nie. Dis mooi meisies. Slim.

Ja, goed. Kom ons noem dit maar op die naam. Wat ek vrees vir my dogters, is seks.

Seks het 'n hartseerding geword. Ek praat nie namens ander nie. Ek praat namens myself. Dit gaan nie oor geloof nie. Dit voel net nie reg vir my om by iemand te slaap vir wie jy nie innig en opreg lief is nie.

Maar saamslaap is een ding. Hierdie meisies pave die pad daarvoor. Dis nog nie seks nie, nee, maar dis net 'n stepping stone. Ek het 'n vriendin, 'n eksmeisie, eintlik, vir wie ek baie lief is. Ek vrees volgende jaar. Ek vrees dit om nie te weet waar sy gaan wees nie, of wat sy gaan doen nie. Ek het al begin dink om van my vriende aan te sê om vir my uit te kyk vir haar (ek hoop om volgende jaar medies te doen, in Kaapstad, en sy gaan Stellenbosch toe ...). Dis 'n compulsion. Niks minder nie.

Hoekom is hierdie ding vir my so 'n issue? Ek kyk nou die dag Oprah en die sielkundige wat gereeld op die show verskyn, Dr Robin (dink ek), sê toe 'n ongelooflik interessante ding. Sy sê dat daar oor die afgelope tien jaar 'n nuwe ding onder Amerikaanse meisies ontstaan het. Tienermeisies sal doelbewus swakker in hul skoolwerk en op die sportveld vaar omdat hulle bang is dat die seuns daardeur geïntimideer sal word. My mond het oopgehang. Ek het die mense wat tienermeisies as helde beskou, stil-stil gevloek. (Ja, fok jou, Paris Hilton! Fok jou, Madonna!) Ek is seker die Here sal my daarvoor vergewe.

Terselfdertyd kyk ek toevallig 'n show op die Hope Channel (meer as 'n grap as enigiets anders – dié kanaal is 'n pirate-kanaal wat op 'n manier op my TV kop uitsteek. Ons los die Amerikaanse charismatiese teologie vir 'n ander keer). Op hierdie show praat daar toe 'n man wat glo dat verkeerde "date"-strukture die blaam moet dra vir die groot egskeidingsyfer in die wêreld. Uitstekend! Hy sê dat die regte manier om mense te ontmoet nie dates behoort te wees nie. Mense is glo baie meer soos hulself tussen ander as tydens one-to-one afsprake. Ek dink dis só waar. Die tiener-gehoor het die man omtrent gekruisig. Maar dis soos Dr. Phil altyd sê: "How's that working for you?" As 'n ding nie werk nie, moet mens dit natuurlik verander.

Ek het in 'n pastorie grootgeword. My een broer is net soos ek sover dit seks aangaan. Ek het al 'n paar mense gesien wie se lewens gebréék is daardeur. Enkelouers wat nie die mas opkom nie. Tienermeisies by my skool met hoogswanger mae. Maar dis seker ook nie waaroor dit gaan nie. Ook nie VIGS nie. Ook nie verkragting as sulks nie. Dalk gaan dit oor die weerloosheid van die meisie. Ek het nog altyd geglo dat die Here dalk klein bietjie meer tyd spandeer het toe Hy meisies gemaak het. Maar fisiologies is seuns sterker as meisies – dit is nou maar eenmaal so.

My pa is nét so. Jy vloek nie voor 'n vrou nie. Jy stap nie voor 'n meisie by 'n deur in nie. Waar is daardie respek? Dis dan basies! Niemand doen dit meer nie. Toe ek dit in graad 8 gedoen het, het selfs die meisies vir my gelag. Ek weet tog meer nie.

Ek dink dis tyd dat ons hierdie waardes begin herontdek. Ek dink dis tyd dat LoveLife en daardie soort programme begin fokus op onthouding eerder as beskerming. Dit hoef nie oor geloof te gaan nie. Ek glo nie noodwendig voorhuwelikse seks is sonde nie. Maar ek het 'n ruk gelede 'n mondeling in Afrikaans gelewer oor die hele Fokofpolisiekar-sage (daai een oor "Fok God"). Wat, het ek gevra, is die ergste: om "Fok God" te sê, of om "Fok God" te lewe? Wat is die ergste: die woorde wat Wynand Strydom op 'n fan se beursie skryf, of die halfkaal meisies in die FHM en op Rapport se agterblad, en 18-jariges wat in die Cosmopolitan spog oor hoe goed hulle blowjobs vir wildvreemdes gee?

Die evolusie is wonderlik, is dit nie? Organismes pas aan by hul omstandighede nes hulle moet. Dit was nog altyd so. Selfs mense pas aan – kyk maar na die Pigmeë. Ek is seker dat klein dogtertjies in die toekoms klein gaan bly. Noodgedwonge. Dit sal evolusie se payback wees. En dit sal nodig wees.

Evolusie maak nie foute nie.

Jasper