Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Fanus Rautenbach: Umfaanus

Waarvandaan kom die Armeense grappe?


Fanus Rautenbach - 2006-09-12

Van Armenië af.

Volgens David Marshall Lang, wat ’n boek oor Armenië geskryf het, Armenia, Cradle of Civilization (Londen: George Allen & Unwin 1978), hou die Armeniërs van argumente, maar het ook hierdie vreemde humorsin wat hulle, volgens oorlewering, by ’n denkbeeldige Radio Erevan aangeleer het.
Lang skryf dat ’n man vertel dat hy by die Ottoman-weermag gaan aansluit.

“Jy gaan in die Turkse Oorlog veg?”  vra sy vriend.

“Ja, ek gaan in die Turkse Oorlog veg.”

“Hoe kom jy daar?”

“Ek gaan saam met ’n kameel-karavaan.”

“En hoe kom jy terug?”

“In die koerant … of oor Radio Erevan!”

*

’n Egte, regte dame sit op in parkbank in Armenië. ’n Baie vuil boemelaar nader haar en vra: “Gee u om as ek langs u sit en ’n pypie rook?”

“Ja, ek gee om! Jy is smerig vuil en het ’n bad nodig, want jy stink … jy ruik na drank … Ja, ek géé om!”

“Weet u wie ek is?” vra die boemelaar.

“Nee, ek weet nie … en ek gee ook nie om nie!”

Die boemelaar lag met vuil, stompietande: “As jy nie weet wie ek is nie … hoe weet jy dan dis ek?”

“Waar hoor jy die storie?” vra die verteller se buurman.

“Vanoggend op Radio Erevan gehoor!”

Maar in die hele Armenië was daar nie een radio nie.

In Armenië word vertel dat Noag die eerste landbouer was, maar dat Satan sy handlanger was. Nadat die ark gestrand het, begin Noag dadelik wingerdlote plant …

Toe Noag strand teen Ararat;
die ark begin in puin raak,
toe sê hy: “Aarde, maar dis nat,
nou kan ’n mens weer tuinmaak;
had ek nie met die ark geswoeg
was ons nou in die pekel,
aan water had ons nou genoeg
’n lewenslange hekel.
Kom Sem en Gammie, graaf jul gou
vir Pa die wingerdslootjies
En Jaaf, my kind, kom plant jy nou
Vir Pa die wingerdlootjies.”
Die kromhout groei en Noag skink
Sy sap ’n bietjie later:
Daarin het sedert meer verdrink
As in die vloed se water!

Volgens oorlewering kom Satan by Noag en vra: “Wat doen jy, Noag? Plant jy tog nie wingerd aan nie? Moenie vir my sê jy gaan wyn maak nie! Dan moet ons eers offer. Ek het hier ’n lammetjie, ’n leeu, ’n aap en ’n vark. Na die eerste dop is jy so mak soos ’n lammetjie; na die tweede so sterk soos ’n
leeu; na die derde so laf soos ’n aap; en na die vierde dop maak jy ’n vark van jouself!”

Die volgende Armeense grappie kom van Henk Bierman af. Hy loop een aand en hoor die ouens speel krieket, in die donker. Dit was voor die dae (aande) van spreiligte en die spelers het met koplampe gespeel, die soort wat die werkers in die myn dra. Die kolwers het nie so goed gevaar nie, en een van die toeskouers bied aan om te help kolf.

Hulle wen ver, en na die wedstryd vra Henk hom: “Hoe het jy dit reg gekry, jy het nie eens ’n koplamp aan nie?”

“O, dit was maklik, “lag die kolwer, “jy sien … ek’s blind!”

Ek wil by Henk weet waar hy die storie hoor.

“Vanoggend oor Radio Erevan !”

• Terloops, David Marshall Lang verwys in sy boek onder andere ook na die plekkie naby Mesopotamië waar, volgens oorlewering, Noag se Ark gestrand het. Volgens Rapport van 27 Augustus 2006 is daar weer oorblyfsels van Noag se Ark in Armenië gevind, asook Sem se graf, maar die owerheid wil nie toestemming gee om dit op te grawe nie.