Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-kommentaar

Daar is meer as een manier om naels te kou


Chanette Paul - 2007-12-14

Na aanleiding van onlangse resensies oor spannings-/speurverhale, onder meer Johan Anker s’n oor Uit die blou van onse hemel, asook vrae en gesprekke tydens die bekendstellingsgeleenthede van my spanningsroman, Springgety, besef ek meer as ooit tevore hoe daar in Afrikaans kleigetrap word ten opsigte van genres in die ontspanningsliteratuur – grotendeels omdat ons nie voorheen veel genreliteratuur in Afrikaans gehad het nie.

Ek het al ’n hele ent aan die manuskrip van Springgety geskryf gehad toe ek my moes afvra: Wat skryf jy nou eintlik? Ek het geweet ek wil binne die spanningsgenre skryf, maar het besef dat wat ek skryf, iets heel anders is as boeke van skrywers soos Deon Meyer, Margie Orford, Quintus van der Merwe en dies meer. Na ’n gesukkel op webwerwe wat mekaar oor genres en genre-indeling weerspreek, het ek op ’n boek afgekom wat vir my uiteindelik sin maak, naamlik How to Write Killer Fiction deur Carolyn Wheat[i].

Wheat tref ʼn duidelike onderskeid tussen "mystery" en "suspense" – at albei natuurlik in Afrikaans vertaal word as spanning. Ons kan moontlik tussen die twee onderskei as enersyds ʼn speurverhaal (mystery) en andersyds ʼn spanningsverhaal (suspense). Veral laasgenoemde vertaling is nie baie bevredigend nie, omdat dit steeds tot verwarring lei, maar voorlopig gebruik ek dit so.

Opgesom, sien die onderskeid so daar uit:

Speurverhaal
(mystery)

Spanningsverhaal
(suspense)

Die hoofkarakter is ʼn professionele of semiprofessionele speurpersoon en in beheer van die situasie – gewoonlik ʼn moordsaak.

Die hoofkarakter is nie ʼn speurpersoon van beroep nie en word in chaos gedompel wanneer iemand na aan hom/haar vermoor of te na gekom word.

Die verhaal is gekonstrueer soos ʼn legkaart. Die verhaal het die aard van die nagmerrie.
Die speurpersoon speel ʼn magspel. Die hoofkarakter is in mindere of meerdere mate ʼn slagoffer.
Hy/sy is toegerus vir die taak en het vaardighede en ervaring. Hy/sy (gewoonlik sy) is aanvanklik nie toegerus vir die taak nie en moet vaardighede aanleer.
Hy hou kop in die situasie. Sy word onverhoeds deur die situasie oorval.
Hy verskaf logika en insig. Sy probeer oorleef/seëvier.
Hy beredeneer dinge min of meer objektief, van buite af, en doen dit met sy verstand (reason). Sy beleef die gebeure op emosionele vlak / van binne af.
Denke word vooropgestel. Gevoel/emosie word vooropgestel.
Die leser is twee treë agter die speurpersoon. Die leser is twee treë voor die hoofkarakter.
Inligting word van die leser weerhou. Die leser het meer inligting as die hoofkarakter.
Die speurpersoon werk met leidrade.

Die hoofkarakter word verras / moet verrassende gebeure verwerk.

Die aksie is off stage, maw die speurpersoon is nie by wanneer die misdaadaksies plaasvind nie. Die aksie is on stage, maw die karakter is direk of indirek slagoffer van die misdaadaksies en beleef dit op emosionele vlak.
Sy wêreld verklein en sentreer om ʼn groep verdagtes. Haar wêreld verbreed om mense en optredes/dade wat nie deel van haar verwysingsraamwerk is nie, in te sluit.
Die speurpersoon ondergaan geen of min karaktergroei/-ontwikkeling. Definitiewe karaktergroei/-ontwikkeling. Die hoofkarakter is ʼn ryper en ryker mens aan die einde van die verhaal en het haar tekortkominge oorwin of ten minste aangespreek.
Die vraag in die speurverhaal is: Wie het dit gedoen / die moord gepleeg? Die vraag in die spanningsverhaal: Sal die hoofkarakter oorleef/oorwin /seëvier?
Die speurpersoon werk met verdagtes. Die hoofkarakter beleef verraaiers.

Vals leidrade bemoeilik sake ("red herrings").

Siklusse van wantroue trek die spanningsdrade styf.
Die leser se bevrediging lê op intellektuele vlak. Die leser se bevrediging lê op emosionele vlak.

Die onderskeid tussen die twee (sub)genres kan natuurlik nie verabsoluteer word nie en Wheat oorvereenvoudig die saak ter wille van die How to ...-aard van haar boek. Natuurlik is daar suspense-elemente in die mystery en omgekeerd, maar ek dink tog dis ʼn nuttige onderskeid waarvan ons in die Afrikaanse literatuur kan kennis neem.


[i] Wheat, Carolyn, 2003, How to Write Killer Fiction: The Funhouse of Mystery & The Rollercoaster of Suspense. Perseverence Press. ISBN 1-880284-62-6.


Ondersteun deur Grapetown.


Skrywers en digters is welkom om repliek op resensies te lewer. Oop gesprek tussen resensente, skrywers, digters en lesers word aangemoedig. Stuur jou kommentaar aan sharon@litnet.co.za.