Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Theunis Engelbrecht: Sound Bites

Koningskos, koolkopbreine, krismis en blou knaters


Theunis Engelbrecht - 2007-12-13

NOG TWEE VUURWARM DVD’S
 
Springbok Nude Girls
 

Dit is simpel om altyd vergelykings te tref en te sê dit is beter as dat en hierdie of daai is die heel beste van alles en almal, maar as jy na dié DVD kyk, kan jy nie anders nie as om te dink Springbok Nude Girls (wat in Europa net as Nude Girls bekend staan) is loshande die vuurwarmste Suid-Afrikaanse rockgroep. Die DVD is opgeneem tydens die bekendstelling van hul jongste album, die briljante Peace Breaker. Op die verhoog is die groep ‘n kookpot van energie en intensiteit. Die liedjies is deur die bank uitstekend. Daar is 19 van hulle – van nuwes soos “Illuminate” tot ou staatmakers soos “Genie”, “Blue Eyes” en “Bubblegum On My Boots”. Die DVD sluit ook die musiekvideo’s in van “Illuminate” en “Fallen”, asook ‘n kort dokumentêre stukkie oor die opbou tot die vertoning. ‘n Moet vir elke liefhebber van Suid-Afrikaanse rock. Wat ‘n ervaring. Dit is nou een van die enkele dinge wat ‘n mens nog trots Suid-Afrikaans laat voel!

 
Elvis Presley
Elvis: The King of Rock ‘n Roll
 

Met 30 liedjies is hierdie DVD die ideale geskenk vir dié onder ons wat obsessiewe Elvis-aanhangers is. Dit is ook ‘n stukkie kosbare rockgeskiedenis. Daar is altesame 30 liedjies te sien en te hoor – en al die groot treffers is daar. Baie daarvan is opgeneem by TV-optredes, by konserte in Hawaii en Las Vegas, en van hulle kom ook uit rolprente, wat dit nog interessanter maak. Die vroegste materiaal is in 1956 verfilm en die laatste in die 1970’s. Saam met die tydlose musiek is die DVD visueel ook besonder interessant, omdat dit jou terugvoer na vroeër tye en jy jou kan verkyk aan hoe mense en die wêreld destyds gelyk het, hoe hulle aangetrek het en wat vir hulle belangrik was. Dis ook boeiend om Presley in verskillende gedaantes te sien soos hy met die jare ouer geword en verander het. As bonusmateriaal is daar twee TV-perskonferensies wat Presley in 1960 en 1962 gehou het. ‘n Lekker DVD dié, baie lekker.

 
 
VROUE, VROUE, ORALOOR LIEFLIKE VROUE
 

Nou kom ons by die nuwe CD’s. Ons wil nie seksisties klink nie, maar daar is voorheen in Sound Bites gesê van 2007 se lekkerste musiek is weer deur vroue gemaak. En so op die fyndraai van die jaar het nog ‘n hele klomp hul stemme dik gemaak en genotvolle albums opgelewer.

 
Vanessa Carlton

Ons is gewoonlik skepties oor al die hype wat altyd gedruk staan op plakkertjies op CD’s, maar alles wat op die plakker staan op Carlton se CD is die waarheid – Stevie Nicks wat sê: “I think Vanessa is one of the great ones”, en Billboard Magazine wat skryf van “admirable complexity and masterful musicianship”. Tussendeur verskynsels soos die Spice Girls en Britney Spears moet ‘n mens diep dankbaar wees dat daar nog goeie albums soos dié uitgereik word, en Carlton verdien baie meer aandag as byvoorbeeld die genoemde meisies. (Dat sy dit nie kry nie, is ‘n skande en ‘n refleksie op hoe die Groot Gelykmaak al hoe dieper wegkalwe in ons koppe.) Ewentwel, die 43 minute wat jy na haar kan luister op die CD voel soos ‘n besoek aan ‘n oase. Uitstaande snitte is “Nolita Fairytale”, “My Best”, “Come Undone”, “The One”, die meevoerende titelsnit en die roerende “Home”. Carlton is nie jou tipiese Top 40-flossie nie – sy is ‘n ernstige, volwasse kunstenaar wat met dié album iets gelewer het wat van duursame gehalte is.

 
 
Kate Nash

Van al die nuwe CD’s deur fabelagtige vroue is dié een ons grootste gunsteling. Nash kom van Dublin. Sy het op skool begin klavier speel en ná skool drama en teaterwese aan die Brit School for Performing Arts and Technology studeer. Sy het in klubs begin optree en vir haar eerste optrede, in ‘n goth-klub, is sy ‘n skamele 30 pond betaal, lees mens op Wikipedia. Daarna het sy haar musiek op MySpace afgelaai en gou aandag getrek. Sy het ‘n bestuurder gekry wat haar gehelp het om produksieleiers te ontmoet. In April vanjaar het sy ‘n kontrak gesluit met dieselfde maatskappy wat die belange van onder andere Snow Patrol en The Cure behartig, en die resultaat is hierdie CD, ‘n debuut vol vars klanke, droë humorsin en ongewone stories wat vertel word in die lirieke. Bytend, skerp, eerlik, onthutsend … maar Nash is nie jou argetipiese tierwyfie nie. Sy kan mans goed uittrap op liedjies soos “Dickhead” en ‘n mens sou verwag sy sou haar woede uitskree, maar deur dit meer gedemp te vertolk gee sy groter skop daaraan. Die musiek is sterk klaviergedrewe, en ondanks insinkings soos “We Get On” is daar meer as genoeg om ‘n mens nuuskierig te maak oor dié kunstenaar, soos “Play”, “Foundations”, “Shit Song”, “Pumpkin Soup” en “Skeleton Song”. Een van die varsste nuwe stemme van die jaar. Lekker verby.

 
 
KT Tunstall

Ons was aanvanklik teleurgesteld met KT Tunstall se nuwe album ná haar vreeslik verdienstelike vorige werk, maar hoe meer jy hierna luister, hoe meer geniet jy dit. Sy is ‘n goeie liedjieskrywer en slaag daarin om onder jou vel in te kruip. (Hierdie tyd van die jaar is ons hier by Sound Bites se velle maar dun, en daar sal seker enkele dikvelliges wees wat dié CD sal afmaak as ‘n halfhartige poep in ‘n donderstorm.) Nie elke liedjie op die CD slaan ‘n mens se asem weg nie, en veral die eerste drie laat jou selfs neutraal voel, maar dis ‘n geval van hoe later hoe kwater, want dan kom KT na vore met sterk liedjies soos “White Bird”, “Funny Man”, “Hold On” en “Beauty of Uncertainty” waarmee sy bewys dat sy meer as net ‘n leëkop eendagsvliegie is. (Net jammer die CD eindig weer met twee ondergemiddelde, kermagtige liedjies.) Die meeste van ons by Sound Bites verkies Vanessa Carlton en Kate Nash se album bo KT s’n (vir die rekord).

 
 
Alicia Keys

Alicia Keys is die huidige geslag se moeder van soul en R&B en die gehalte van haar werk het van haar debuut af ‘n stygende kurwe vertoon (as ons vir ‘n oomblik soos ‘n uittreksel uit ‘n vrouetydskrif mag klink). Dis om een of ander rede lekkerder om na Alicia te luister as na iemand soos Beyoncé of Whitney Houston. As I Am bevat die groot treffer “No One”, wat ‘n indrukwekkende toonvenster van haar vokale vermoëns is – soos wat trouens die hele album dit is. Dit is die hoogtepunt van die album, maar snitte soos “The Thing About Love”, “Tell You Something (Nana’s Reprise)” en “Where Do We Go From Here” maak ook ‘n goeie indruk.

Moderne R&B is nie vir almal verteerbaar nie, maar as dit by die vrouekunstenaars kom wat hul merk in dié genre maak, troon Alicia Keys, wat ons betref, kop en skouers bo die res uit. As jy R&B glad nie kan uitstaan nie, bly weg. As jy van goeie musiek hou, probeer dit gerus en vel jou eie oordeel. Nie almal kan van dieselfde goed hou nie. Maar ons uitgefokte ou spulletjie hier by Sound Bites is uitgeboul deur Keys se passie en fantastiese stem.

John Mayer sing selfs saam op een van die liedjies, en daar is ook ‘n DVD met bonusmateriaal, soos drie liedjies wat sy in die Hollywood Bowl sing en ‘n agter-die-skerms-kykie na die vervaardiging van die musiekvideo van “No One”.

 
 
Lydia vom Hagen

Lydia vom Hagen is al lank op die toneel en het bekendheid verwerf vir haar optredes saam met Nataniël asook haar eie produksies, soos Head On, wat oor Marie Antoinette gehandel het. Sy is een van die heel beste sangeresse in Suid-Afrika en het ‘n ongelooflike stem – dit drup van die sensualiteit. Sy het die vermoë om musiek te maak uit erotiek sonder om te trap in die strikke van banaliteit of clichés – luister maar na “Ek voel jou”, wat ook al deur Karin Hougaard opgeneem is. Hierdie is een van daardie albums wat dieper en dieper op jou groei met elke luister en wat ‘n bykans hipnotiese uitwerking op jou het. Vom Hagen is self ook ‘n uitmuntende liedjieskrywer. Die produksie is van hoogstaande gehalte (lekker om weer iets te hoor waarvan Didi Kriel die produksieleier was) en Vom Hagen het enorme talent. Haar werk is volwasse en ernstig ­- moet dus nie simpel popliedjies verwag nie, maar mooi musiek wat kort voor lank by jou begin spook. Dit was hoog tyd dat sy haar solodebuut maak, en ‘n mens hoop jy hoef nie weer so lank te wag voor sy nog ‘n album maak nie. Stel gerus ondersoek in. Vom Hagen is een van die grootste talente in die land, maar is nog te veel soos ‘n versteekte juweel. Red is beslis een van die sterk Suid-Afrikaanse albums van die jaar.

 
 
Sarah Theron
Sit die ketel aan 

Theron kom ook al ‘n lang pad en is, soos Lydia vom Hagen, ‘n vrou met enorme talent en ‘n eweneens enorme stem. Sy moet ook meer CD’s maak, want sy blaas ‘n mens weg. As jy al die voorreg gehad het om haar op die verhoog te sien, sal jy weet waarvan ons praat. Dis baie verblydend dat kunstenaars soos Theron en Vom Hagen uit hul doppe kruip en wyer bekendheid verwerf.

Wat ‘n mens beïndruk van Theron se album, benewens haar goddelike stem, is die vermoë om ‘n album aanmekaar te slaan wat die perfekte fyn balans tussen kommersiële toeganklikheid en artistieke integriteit handhaaf. Dit is ongelukkig so dat ernstige volbloed-kunstenaars kompromieë moet aangaan as hulle albums wil maak, want dis ‘n duur ding om te doen en mens kan verstaan dat mense nie geld wil verloor nie. Om dus net vir die ingewydes musiek te maak, is nie die uitweg nie, want puik kunstenaars soos dié verdien veel groter en wyer blootstelling.

Theron kan rock met passie en skop – soos op die titelsnit, “Engel oë” en “Dirkie”, en laat jou heeltemal smelt met pragtige ballades soos “Die windpomp” en “Kom ons neuk die wêreld op”. Met sy 17 snitte wemel die CD van hoogtepunte, en in Theron se hande kry selfs ‘n redelik gemiddelde liedjie soos “Ek glo in jou” ‘n warmte van sy eie. ‘n Mens moet Theron komplimenteer met die verskeidenheid op haar album. Dit is slim saamgestel. “Kommersiële musiek” het in sommige monde ‘n vloekwoord geword, wat in baie gevalle onregverdig is. Met Sit die ketel aan bewys Theron dat ‘n mens musiek kan maak wat kommersieel toeganklik is, maar terselfdertyd stewige spyse is. Snitte soos “Daai blou kitaar” en “My ouma Sêra” verdien al die lugtyd wat hulle kan kry, en Theron se weergawe van “Dankie” verras ook. Sy het so ‘n ongelooflike stem dat sy enigiets kan sing en ‘n mens sal aan haar lippe kan hang. Sy gaan nog diep spore trap. Sy is ‘n groot gees.

 
 
Dame Shirley Bassey

Bassey is natuurlik ook ‘n groot gees wat diep spore getrap het. ‘n Mens het uitgesien na hierdie CD toe jy hoor dit het ‘n meer moderne aanslag, maar ongelukkig is die teleurstelling groot. Ja, dit is inderdaad Pink se “Get The Party Started” wat die titelsnit van Bassey se nuwe album is. Sy sing onder meer ook weergawes van Grace Jones se "Slave to the Rhythm" en Gloria Gaynor se "I Will Survive", asook ander ouer bekendes soos "Big Spender" en "I Who Have Nothing".

Die CD skop belowend af met die titelsnit – groots georkestreer, soos iets uit ‘n James Bond-fliek. Tweede op die lysie is ‘n eweneens baldadige “Big Spender”, wat belowend begin, maar dan bederf die verwerker alles met ‘n simpel diskorige klank wat hy byvoeg. "I Who Have Nothing" begin mooi, maar na 15 sekondes kom die drommasjiene weer in, met iets tussen ‘n bossanovarige en reggae beat. Daarna is dit afdraande al die pad. ‘n Mens het nie gedink Lionel Richie se "Hello" kan erger klink as sy eie, oorspronklike weergawe daarvan nie. Die onvergeeflikste is die laaste snit, "I Will Survive". Die ritme is verander en die hele ding val plat soos ‘n miskoek in ‘n deur droogte geteisterde mielieland.

Bassey het ‘n wonderlike stem en is ‘n uitstekende kunstenaar, daarom is dit des te meer ‘n skande dat hierdie CD ondermyn word deur patetiese verwerkings. Sy verdien meer respek.

 
 
Jennifer Lopez
Brave

Om een of ander rede is sy nie meer J-Lo nie, maar weer Jennifer Lopez. Sy maak oudergewoonte musiek gerig op die massamark, en daarom kan mens nie die woord kuns hierop stempel nie. ‘n Mens moet Brave vat vir wat dit is: verbruikerspop, dié van vervlietende aard gerig op dansvloere en mense wat deur hul hormone in ‘n toestand opgejaag word.

‘n Mens kan Lopez dus nie in die liga van die Heel Grotes plaas nie. Om haar musiek te ontleed en daaroor te intellektualiseer is onsinnig. Ons hier by Sound Bites sou graag ons wysneusies wou optrek vir Brave, maar tog is daar een of twee liedjies wat jou voete onwillekeurig aan die jeuk sit, soos “Forever” en “Do it Well”. Vir ‘n oomblik wonder ‘n mens of sy nie selfs al interessanter klink as Christinatjie en Britneytjie en Kylie en al die ander meisies met verkleinwoord-naampies nie, maar besef dan dis gelukkig ‘n kwessie waaroor ‘n mens nie jou kop hoef te breek nie – dinge soos dié vereis nie breinkrag nie.

Tussendeur die volspoed dansliedjies is daar selfs ook nommers waarop Jennifer haar sagte kant toon, soos “Never Gonna Give Up” met strykkwartet-begeleiding. Mense wat dink sy kan nie sing nie, moet bietjie na hierdie enetjie luister.

Die produksie en verwerkings is baie stewig en ‘n mens kan hierdie CD teen alle verwagtinge in geniet, en boonop sal jy nie naar word as jy dit deurluister nie. Dit sal nou wel nie jou lewe verander nie en jy sal dit nie eendag wil saamvat ouetehuis toe nie, maar jy kan darem wragtig ook nie sê dit is algehele, totale, volslae kak nie.

 
 
Tegan and Sara

Hier is nou vir jou iets baie spesiaal. Tegan and Sara is die identitiese-tweeling-susters Tegan Rain en Sara Kiersten Quin en hulle kom van Kanada. In 1998 het hulle ‘n Battle of the Bands gewen en sedertdien saam met groot name soos Neil Youg, Rufus Wainwright, Gogol Bordello, The Killers, Weezer, Sarah McLachlan en The Pretenders getoer.

The Con is hul vyfde album en is vir ons almal hier by Sound Bites ons eerste bekendstelling aan hulle. Enigiets wat vars klink laat ons ore altyd tuit, omdat ons deur so baie gemiddelde albums moet ploeg, en The Con het ons ore inderdaad laat tuit en fluit. Tegan and Sara maak moderne folk rock en herinner mens op plekke aan Fleetwood Mac, dan weer aan Siouxsie Sioux, maar uiteindelik is vergelykings onnodig, want hul klank en identiteit is hul eie en nie ‘n blote na-apery van iemand anders nie. Aanvanklik het hul stemmetjies drie van ons paneellede geïrriteer, maar ook hulle is met die tweede luisterslag bekeer en meen nou die album is nog een van die jaar se vele hoogtepunte, juis vanweë die oorspronklike aanslag en die feit dat mens kan hoor die susters skryf en sing uit hul harte, siele, derms en diepste binnegoed uit. ‘n Boeiende album wat jou uitboul, so lieflik is dit.

 
 
Celine Dion

‘n Mens hoef nie ‘n aanhanger van Dion te wees om te besef sy kan sing dat dit bars nie. Die titelsnit is ‘n reuse-treffer, en van al 16 liedjies op die CD behoort daar ook nog ‘n hele paar ander treffers te wees. Nie een van ons op die paneel was tot dusver aanhangers van Dion nie, maar het juis daarom die luister van hierdie CD ‘n openbarende ervaring gevind. Ons moet bieg ons was tot dusver bevooroordeeld en skepties oor haar, maar dis nie ons skuld nie, dis alles die temalied van Titanic se skuld, want dit was genoeg om enige regdenkende mens ‘n gly in die sanger daarvan te gee. En daar boul Dion 75 persent van die paneel uit, kan jy nou meer. Die produksie is van die hoogste gehalte, die keuse van materiaal is goed en uiteenlopend, die verwerkings is indrukwekkend – alles dinge wat ‘n mens kan doen as geld nie ‘n probleem is nie. ‘n Verrassing vir ons was dat Dion selfs kan rock as sy lus het, soos op “Can’t Fight The Feeling”. Glad nie sleg nie, al is die meeste van ons hier by Sound Bites al so afgestomp van al die genietinge dat ons nie elke dag na hierdie CD sal kan luister nie. Maar dat dit ‘n baie goeie stukkie werk is, kan nie ontken word nie, al wil mens dalk hoe graag.

Jy kry ook ‘n DVD as deel van hierdie album waarop Dion voorbrand maak vir haar DVD Live in Las Vegas: A New Day en waarop sy vier liedjies sing, onder meer “The Power of Love”, wat die meeste van ons hier helaas na ons kotsbakkies laat gryp.

 
 
Britney Spears

Ek het nog altyd vir my vriende en vyande gesê as die dag aanbreek waarop ek sê ek hou van Britney Spears, moet hulle my in die openbaar doodskiet. Wel, hulle kan nou maar hul gewere en pistole en pyl-en-boë en kruisboë uithaal, want ek het hierdie album geniet. Ek moet egter beklemtoon dit beteken nie ek is nou ‘n geswore bewonderaar (soos die paneellede Tom en Fritz) nie, dus hoef almal wat wil skiet, nie aan te lê en hul wapens te laai nie. Blackout is ‘n skadelose, energieke stukkie vermaak. As jy van Madonna se Confessions on a Dance Floor gehou het, sal jy aanklank hierby vind – die klem val op dansmusiek wat baie cool en o-so-sexy klink, en op plekke ook die nodige retro-gevoel bevat. Op “Piece of Me” reken sy ook lekker af met die bloedhonde van die geelpers en al die ander aasvoëls wat op haar toesak, en ander liedjies wat uitstaan, is “Get Naked” en veral “Toy Soldier”. Spears maak nie groot kuns op hierdie CD nie (iets waartoe sy nie in staat is nie), maar as ietsie wat dansvloere sal opkikker, is dit heel prettig. Ek moet byvoeg dat mens met die tweede luister egter moeg begin raak daarvoor en dat baie van die liedjies selfherhalend en simpel begin klink. 

 
 
EN NOU VIR DIE MANNE …
 
Darren Hayes
This Delicate Thing We’ve Made 

Nou is ons deur al die vroue en kom die mans aan die beurt. Gemeet teen die vroue is hul oes maar skraal en nie so opwindend nie, maar daar is nietemin ‘n hand vol goeie uitreikings, waarvan hierdie een is. Die Australiër Darren Hayes het bekend geword saam met die spookasem-rockgroep Savage Garden. Dié groep was nie sleg nie, maar het ook niemand se lewe verander nie, en nie een van ons op Sound Bites se paneel kan een van hul liedjies uit ons koppe onthou nie.

Hayes het baie gevorder sedert sy dae saam met Savage Garden, besef ‘n mens as jy na This Delicate Thing We’ve Made luister. Dit is ‘n dubbel-CD met 25 liedjies en ‘n mens vermoed hy het ‘n konsepalbum probeer maak, want daar is sirkulerende motiewe in die liedjies. Ongelukkig is die lirieke nie op die CD-boeke ingesluit nie en bemoeilik dit die proses om agter die kap van Hayes se byl te kom. Jy wil nog luister na die woorde, maar jou aandag word kort-kort afgetrek deur interessante klanke en verwerkings wat jou konsentrasie laat verskuif. Dis moeilik om sy musiek te kategoriseer, maar die veiligste is dalk om te sê dit is ‘n baie goeie suiwer popalbum. Daar is dansmusiek ook, asook ballades en eksperimentele stukke. Hayes is ‘n interessante kunstenaar, maar ‘n mens moet hare op jou tande hê as jy dié omvangryke album geabsorbeer wil kry. Almal op die paneel stem nietemin saam dat dit een van die beste popalbums van die jaar is. Ons sal nog ‘n klompie kere daarna moet luister om als te kan verteer.

 
 
Eros Ramazotti
e2

Hier is nou vir jou regtig ‘n lekker CD. Noem dit selfs sommer ‘n kwaai CD. Dié dubbelalbum bevat nie minder nie as 35 liedjies – waaronder nuwe weergawes van 17 liedjies, vier splinternuwes en 14 ouer treffers. Uiteenlopende musikante is saam met Ramazotti te hoor, soos Tina Turner, Cher, Ricky Martin en Anastacia, wat almal kwaai duette saam met hom sing, asook Wyclef Jean, Steve Vai, Carlos Santana, Rhythm Del Mundo, Take 6 en The Chieftains. Verskillende produksieleiers het ook van Ramazotti se ouer treffers onder hande geneem en dit klink nou weer so vars soos ‘n broodjie uit die oond. Ramazotti sing met passie en daar is ook ‘n groot verskeidenheid wat style aanbetref. Die meeste daarvan is Italiaans en selfs al kan ‘n mens nie ‘n dooie woord daarvan verstaan nie, laat die musiek jou allesbehalwe koud. Beslis iets om eendag saam ouetehuis toe te vat.

 
 
Dean Martin

‘n Gepaste titel, want dis ‘n baie cool album hierdie. ‘n Hand vol kunstenaars en produksieleiers het van Martin se ou opnames gevat en dit bietjie afgestof en varser laat klink. So kan onder andere Kevin Spacey, Robbie Williams, Joss Stone, Chris Botti, Dave Koz en Charles Aznavour nou saam met hom gehoor word. Daar is ook ‘n klomp interludes tussen snitte wat aan die CD ‘n gevoel gee van ‘n “cocktail party on record where all sorts of wonderful, unique guests get up and make music with the host”, soos die uitvoerende regisseur, Jane Ventom, in die CD-boekie sê. ‘n Mens is altyd met reg skepties wanneer kunstenaars die dooies se musiek as’t ware weer uit die hoed pluk om hul eie woordjie by die koortjie te voeg, want gewoonlik is sulke uitreikings net gemik op die melk van sentiment en om geld te maak. In hierdie geval werk dit egter soos ‘n bom en kan dit eerder beskou word as ‘n baie waardige, luisterbare en uplifting huldeblyk aan Martin. Iets besonders, inderdaad.

 
 
Wyclef Jean

As jy soek na lekker vuurwarm musiek waarin R&B, hip-hop, rap en urban saamgeklits word, sal jy dit op dié puik album kry. Saam met Timbaland se Shock Value is dit van die jaar se hoogtepunte in dié styl. Jean werk ook saam met uiteenlopende kunstenaars wat bydrae tot die wye spektrum klanke en style wat ‘n mens hier aantref – van Serj Tankian van System of a Down tot Akon, Sizzla, Paul Simon, Shakira, Mary J Blige, Norah Jones (haar bydrae tot “Any Other Day” is een van die hoogtepunte op die CD), Melissa Jiménez en Will.I.Am. ‘n Stewige album met 16 liedjies, waarvan nommer 13, “Touch Your Button Carnival Jam”, langer as 18 minute is en as een van die dansliedjies van die jaar beskou kan word. Wyclef Jean is nie lig in die broek nie. Hy ken sy storie. En hy kan op plekke sy luisteraars ‘n euforiese gevoel laat bereik. Hy mag maar.

 
 
Seal

‘n Nuwe CD van Seal is altyd ‘n gebeurtenis en in my boekie kan hy niks verkeerd doen nie. ‘n Mens kan al die jubelendste byvoeglike naamwoorde inspan om sy fenomenale stem mee te beskryf, maar laat ‘n mens maar volstaan met ‘n woord soos “goddelik”. Met die eerste luisterslag het sommige paneellede ‘n effense gevoel van teleurstelling beleef en meen hulle Seal het voorheen sterker en beter werk gelewer. Hoe meer hulle egter daarna geluister het, hoe meer het dit onder hul velle ingekruip. Met ‘n stem soos syne kan ‘n mens Seal enigiets vergewe, selfs as jy voel ‘n nuwe uitreiking is nie op dieselfde hoë vlak as die voriges nie. Al is van die liedjies op die album dus gemiddeld, lig sy stem dit daarbo uit en maak dit op sigself die moeite werd om daarna te luister. Die paneel se eindbeslissing is dat die album die moeite werd is en dat as jy ‘n Seal-aanhanger is en dalk teleurgesteld voel, jy net moet vasbyt en oor en oor daarna moet luister en dan sal jy uiteindelik wel daarvan hou.

 
 
Jacques

Ja, dis die einste Jacques wat ‘n paar jaar gelede een van die finaliste in Idols was. ‘n Mens kan nie verkwalik word as jy skepties is oor Idols se CD’s nie, want tot dusver het niemand wat danksy hul sukses in dié reeks CD’s uitgereik het, vreeslik beïndruk met hul werk nie. Daarom is hierdie CD so ‘n verrassing – ons is dit eens dat die produksie van internasionale standaard is. Dis gemik op die dansvloer, met ‘n stewige skeut R&B by. Ek weet dit is al twee aaklige en holruggeryde woorde, maar hierdie CD is cool en sexy. Dit het ‘n vars klank en hope energie. Dit skop op ‘n hoë noot af met “Shake Shake” en Jacques hou die pas daarna goed vol, met hier en daar ‘n treffende ballade tussenin, soos die titelsnit, sonder dat dit stroperig raak. Op “Natural Born Hustla” kan Akon selfs saam met hom gehoor word. Heinz Winckler en die ander Idols (ons kan nie eers hul name onthou nie) kan maar gaan slaap, of moet by Jacques gaan kers opsteek.

 
 
Duran Duran

Daar is niks so erg soos postmiddeljarige mense wat probeer om weer jeugdig, hip en eietyds te wees nie. Dit kan ‘n mens net regkry as jy jonk van gees is. As jy so na die nuwe Duran Duran luister, twyfel jy oor hul inherente jonkheid van gees. Hulle probeer so hard om weer jonk en trendy te klink dat hulle selfs vir Justin Timberlake ingesleep het om uit te help op een van die liedjies (“Fallin’ Down”). As jy van Simon le Bon se stem hou, sal jy hierdie CD smaak. Ondanks ons voorbehoude is hierdie een van daai aaklige CD’s waaroor jy so graag wil sê dis kak, maar dit kan ons nie doen nie, want dan verkondig ons ‘n onwaarheid. Net soos wat ons sou doen as ons sou sê dis koningskos. Allesbehalwe. Vir mense wat nie van Duran Duran hou nie, is dit tussen die boom en die bas. Daar spat geen vonke nie. Aanhangers sal daarvan hou, maar moet vir hulle self besluit – fok tog, waarvoor het hulle dan breins gekry? Moet tog nie alles uit ons hier by Sound Bites se koolkopbreintjies wil pers nie; magtig, neem jul eie besluite, maak julle eie beslissings en vel jul eie gehalte-oordele! Hoe dit sy, vir ons by Sound Bites is Red Carpet Massacre maar een groot gaap.

 
 
Expatriate

Dis interessant hoe reklamemateriaal en hype iets beter en interessanter kan laat klink as wat dit is. As ‘n mens lees wat die Amerikaanse groep Expatriate se platemaatskappy oor dié groep te sê het, is jy dadelik nuuskierig en verwag jy iets wat jou gaan wegblaas. Ek haal lukraak aan: “The politics of the heart make an almighty clatter on Expatriate’s stunning debut album … the band suddenly had the freedom to experiment with their sound and discover a new sonic landscape … Finding themselves in the American countryside 40 minutes' drive from the music city of Seattle was like 'being dropped into a bookmark for the American dream'. The vastness of the water and sky, the separation from loved ones and the isolation in the midst of suburbia all served to influence the recording."

En verder: “This sense of alienation has always been a part of the band since its beginning. A band is an alliance and this one was built on common themes running through each member’s life. Ben lived much of his youth as an expatriate moving between Jakarta and Australia, and eventually returned home to Sydney to live. But what is home in this day and age? This feeling of alienation and displacement was a theme that also clicked with Chris, the son of migrant parents, a person of ‘the world’ through circumstance. Damian’s love for production – the light and shade of sound – and his ability to bring out the ‘ethereal’ in music connected with Ben and Chris. And so ‘Expatriate’ was formed.”

So, die verwagtinge is hemelhoog wanneer ‘n mens die CD inglip. En hoe afgehaal voel jy nie! Daar is niks wat ‘n mens dadelik gryp en boei nie. Dit klink maar soos die tipiese ou generiese Amerikaanse rock wat ‘n mens al baie gehoor het. Die liedjies is niks besonders nie. Tog is daar mense wat anders dink, want kyk wat lees mens nog oor die groep: “Expatriate reveals a confidence and breadth in songwriting rarely heard on a debut record. The end result is an album that has a sense of poetic urgency, as love is lost and found and a transient desperation takes hold.” Genade, waar kom wie ook al hierdie teks geskryf het, aan soveel onderdunde stront? ‘n Mens sidder om te dink hoeveel mense deur hierdie soort prulskrywe-reklame verlei en gebreinspoel word. As jy lus is vir rock, is daar baie meer en baie beter keuses. En die hype doen die groep ‘n onreg aan, want dit skep hemelhoë verwagtinge waaraan hulle nie kan voldoen om hul lewe te red nie.

 
 
Avenged Sevenfold

Lekker donderweerswaar metaalrock. As jy van Metallica en System of a Down hou, is die kanse goed dat jy hiervan sal hou. Bebliksemde kitare al die pad, ‘n drommer wat klink asof hy totaal befok is, ‘n sanger wat sing asof sy lewe daarvan afhang, orrelklanke wat enersyds ‘n 70’s-retro- en Gotiese klanke skep. Daar is so baie swaar metaal en baie van dié musiek begin baie dieselfde klink. Tog is daar iets wat Avenged Sevenfold uitlig bo die gemiddelde, grotendeels danksy die befokte kitare en verwerkings. Die sanger is maar so-so – hy het byvoorbeeld nie soveel bôls soos die sanger van daardie prima swaarmetaalgroep Kobus! nie, en as hy skree asof hy besig is om waansinnig te raak, is daar so ‘n klankie van moegheid en afgeleefdheid in sy stem, iets wat jy nooit by Kobus! sal kry nie. Dit sal interessant wees om te hoor wat volbloed-swaarmetaalkoppe self hieroor te sê het. Ons hier by Sound Bites is net vryskut-swaarmetaalkoppe.

 
 

‘n Interessante albumtitel, want die meeste van die liedjies speel hulle inderdaad in negatiewe ruimtes af. Kyk maar na enkele titels: "Like Suicide", "Fake It", "Breakdown", "Fallen", "No Jesus Christ", "Eyes of the Devil", "Don’t Believe" en "Waste". Hier in sonnige Desember het ons hier by Sound Bites nie die krag en energie vir sulke swaarheid, donkerte, angs en depressie nie (“Fuck me like you hate me!” skree die sanger gepynigd in een van die liedjies. Wat sou Freud of Dr Adri daarvan sê?) Ons moet ons egter haas om by te voeg dat ondanks ons onbehae oor die tematiese inhoud, die musiek baie goed is. ‘n Mens kan trots wees op Seether: hulle maak goed naam in die buiteland, en kom oorspronklik van Suid-Afrika – ek het selfs gerugte gehoor dat dit Vishoek van alle plekke is. Binne die enger dampkring van rockmusiek was Seether nog altyd ‘n naam om mee rekening te hou, en hulle bewys met dié album dat dit steeds so is.

 
 
Rooney

Ondergemiddelde Amerikaanse rock. Hoekom kom daar so baie kak rock uit Amerika? Gee ons maar enige tyd die Britse ouens. (Hoewel ons nou seker lelik veralgemeen.) Die ergste is dat Rooney geïnspireer is deur Britse rock (en helaas ook 1980’s-pop) en hulle is al vergelyk met The Beatles, The Cars en Blur. Stront. Dis alles net breinlose hype. Vir The Cars voel ons vere, maar om Rooney darem met The Beatles en Blur te vergelyk is verregaande. The Beatles en Blur het net soveel meer oorspronklikheid aan die dag gelê. Hul musiek het uit hulself na vore gekom. Hulle was nie ‘n klompie Britte wat soos Amerikaners probeer klink het, of omgekeerd nie. Dis dan die probleem met Rooney: hulle het nie hul eie stem nie, want hulle probeer te hard om te klink soos iets wat hulle nie is nie. Hul belangstellings- en verwysingsveld blyk ook beperk te wees tot dié van soveel ander jong rockgroepe: hulle het almal blue balls en is almal jags en verlief en weet nie wat om daarmee te doen nie, en dan moet ons hul gejammer aanhoor. Dié soort rockgroep sal ons voortaan Die Blouknater-brigade noem.


 
Prime Circle

Prime Circle is in dieselfde weikampie as ouens soos Seether en Nickleback en daai. Sal mens dit stadionrock noem? Hulle is genadiglik nie deel van die Blou Knater-brigade nie, hulle is die ware hardebaarde. Ouens met wie jy nie kak sal soek op straat en ander openbare plekke nie. Bloubloed-rock. Dié CD bevat 17 liedjies en ‘n DVD met 15 video’s van liedjies.

Prime Circle is een van die gewildste groepe in Suid-Afrika. Daar is mense wat meen hulle is te ooglopend beïnvloed deur die Amerikaanse rock van mense soos Nickelback, maar dis onregverdig om hulle op grond van so ‘n veronderstelling bestaansreg te ontsê. Die sanger se stem het ‘n lekker growwe grein wat dit op sigself lekker maak om na Prime Circle te luister, en die musiek is nie vrot nie.

Desondanks is hul musiek nie baie uitdagend en avontuurlik nie, ondanks die feit dat dit luisterbaar is; hulle bly binne die gebaande weë van veilige rock, en hulle is nie naastenby so opwindend soos Springbok Nude Girls nie. En steeds wil en kan ‘n mens hulle nie afskryf nie. Die Café d’Afrique mix van "As Long As I Am Here" is subliem. Die laaste drie snitte is akoesties, en dit voeg ‘n verdere dimensie by die groep se klank. Dis selfs meer treffend as die volbloed-rockklank.

 
 
Santana
 

Dis onmoontlik om so ‘n versameling saam te stel – wat sit jy in, wat los jy uit met ‘n groep wat ‘n loopbaan het wat oor soveel dekades strek? As mens al hul bestes wil opsit, sal jy ‘n dubbel- of trippel-CD moet maak. Hierdie CD se titel is dus hoegenaamd nie die waarheid nie – moet jou nie laat mislei nie. Hierdie een bevat meer onlangse werk, soos "Smooth" met Rob Thomas, "Maria Maria" en "Put Your Lights On" saam met Everlast, en "The Game of Love" saam met Michelle Branch (‘n weergawe met Tina Turner is as bonussnit ingesluit.) Daar is ook ouer liedjies soos "Black Magic Woman" en "Oye Como Va". Vir jongmense en neofiete wat Santana nie ken nie is dit die ideale bekendstelling, maar vir dié outoppies en anties vir wie Santana se musiek ‘n passie in, is dit beter om al hul CD’s te koop, en hou ons steeds meer van die ouer liedjies.

 
Collective Soul
Afterword
 

Hierdie is weer een van daai frustrerende CD’s. Collective Soul is befok, maak geen fout nie, en hulle het al lekker albums gemaak. Die probleem is egter dat hulle nie meer so skerp en edgy klink soos vroeër nie. En dat ‘n mens hierdie album inderdaad ‘n teleurstelling kan noem. Daar is goeie liedjies, ja … maar baie daarvan begin bloot klink soos ‘n variasie op ‘n tema van ‘n vroeë suksesresep. Dit is regressie, nie progressie nie. Daar is lekker liedjies, ja … maar die probleem is dat hulle nie uitgevoer word met dieselfde energie en passie wat ‘n mens op die vorige albums gehoor het nie. Dalk is die albumtitel profeties?

 
Porcupine Tree
Fear of a Blank Planet 

Blouknater-brigade of hardebaarde? Hulle lyk soos lede van eersgenoemde, maar klink soos laasgenoemde – en ons moet by sê, ons het hierdie CD baie meer geniet as dié van Seether, Prime Circle, Collective Soul en Expatriate. Die groep skep ‘n groot rockklank – en nee, dis nie stadionrock nie, dis meer as dit: dit sal die stadions se bakstene en fondamente kan verkrummel. Die liedjies het epiese ambisies – die langste een is oor die 17 minute en die res dobber so rondom 7 minute. Hulle hou van kitare, maar is ook nie bang vir klawerborde nie. Daar is baie afwisseling van tekstuur in die klanklandskap (jammer as ons soos ‘n sin uit ‘n vrouetydskrif klink), en die groep het iets te sê – hulle lewer skerp kommentaar op die mentaliteit van ‘n verbruikersamelewing en hoe moeilik dit is om in so ‘n siek wêreld te oorleef. Hulle het gelukkig nie vasgesteek by die vagevuur nie en trek nou by die purgatorium. ‘n Boeiende album waarvoor ‘n mens tyd moet maak sodat dit op jou kan groei, anders gaan jy niks daaruit put nie.

 
 
Kosheen

Die eerste liedjie op hierdie CD laat ‘n mens dink jy kan spookagtige elektroniese goth met ‘n ligte dansbeat te wagte wees. Daar is ook iets wat ‘n mens aan Faithless laat dink, en ook aan Garbage. Ja, Kosheen se klank kan beskryf word as Garbage Lite. Dis dansmusiek met ‘n donker streep. Die tweede liedjie, “Overkill”, is genoeg om ‘n mens van Kosheen te laat hou. Boonop het die groep se sangeres, Sian Evans, ‘n lieflike stem wat dit ook lekker maak om na hierdie CD te luister. ‘n Album wat waarskynlik nie ‘n lang rakleeftyd sal hê nie, maar wat kortstondige betekenislose plesier bied. Iets soos ‘n one-night stand, dus. 

 
 
EN LAASTENS VIR DIE PARTYTJIEVRATE
 
Verskeie kunstenaars
The Best of Café d’Afrique
 

‘n Mens kan maar jou neus met reg optrek vir jappies, maar jy sal moet toegee dat die tipe lounge-musiek wat hulle in hul klubs speel, baie lekker is. Dis heeltemal ‘n trip van sy eie met subtiele erotiese skakerings wat jou laat voel soos ‘n koning in ‘n lugkasteel. Die Café d’Afrique-reeks het nog altyd ‘n hoë standaard gehandhaaf en as jy dit misgeloop het, is hierdie oorsig die aangewese ding. Dit bevat musiek van kunstenaars soos Honeyroot, Moloko, The Funky Lowlives, Roger Sanchez, die heerlike Goldfish en selfs ‘n opgewarmde boem-boem-boem-dansnommer waarop Dizzy Gillespie en Sarah Vaughan saam gehoor kan woord. Weird shit.

 
 
Lady Lea
Catch Me If You Can: 3rd Time Lucky 

Die probleem met jappies se lounge-musiek is dat dit ‘n mens so lui soos ‘n luislang laat voel – en hier praat ons nie van Glenda Kemp se luislang nie. As te veel lounge jou brein soos ‘n vervlietende seepbelletjie laat voel en jy wil weer ‘n bietjie ‘n ordentlike roering in jou litte kry, sal Lady Lea se keuse vir die Krismis- en Nuwejaar-dansvloere jou dalk stadig aan die gang kry. (O ja, Lady Lea is nie ‘n sangeres nie, sy is ‘n DJ. Sy het net die hele spulletjie aanmekaar gemix soos ‘n ervare naaister.) Die dansmusiek hierop is nie jou tipiese sokkie-stamp-stamp-stamp-kak nie, maar het ‘n meer urban en subterranean klank. Dit is ‘n dubbel-CD – die eerste een heet Warm Up en die tweede een Party Time. Lady Lea is ‘n verleidster van die opperste water – sy weet hoe om jou in te trek en haar spinnerakke om jou te weef en om jou uit haar hand te laat eet op die dansvloer. Sy begin rustig en raak stadig maar seker al wilder. Van al die nuwe partytjie-CD’s is hierdie een met sy 34 liedjies die een wat ons by Sound Bites beslis sal speel wanneer ons weer dansagtig voel. Nie een van die kunstenaars hierop se name lui ‘n klokkie by ons nie, maar dit maak nie saak nie, dis die grooves en die vibes wat tel.

 
 
DJ Heather & Onions
OM Summer Sessions 2

Hier is nou vir jou stamp-stamp en bump-bump-dansmusiek as dit die ding is wat jou laat tiek. Dis deurgaans vinniger as op Lady Lea se CD en sal ook met vrug aangewend kan word by aërobiese klasse. Dit is net vir deurwinterde, obsessiewe klubkoppe. Hier en daar is goed wat interessant klink, maar dit als word bederf deur die donderende, genadelose doef-doef-doef. DJ Heather & Onions moet by Lady Lea gaan leer hoe om verleidelik te wees. Lady Lea is koningin van die erotieke vibrasies op die dansvloer, maar dié twee DJ’s is nog nie eers naasteby aan prinses-status nie. Baie van die musiek hierop sal ook met vrug gebruik kan word deur paaldansers tydens hul vertonings.

 

Luisterpaneel: Beyers Eybers, Tom Blom, Yvette de Wet, Alice Ellis en Fritz Brits
Sameroeper en notuleerder: Theunis Engelbrecht