Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Fanus Rautenbach: Umfaanus

Badwater


Fanus Rautenbach - 2007-12-10

Dis amper alweer Kersfees – tyd vir my om weer te bad.

Die badgewoonte kom doer uit die 1500’s van Engeland af: die meeste Engelse het in  Junie getrou, want hulle het hul jaarlikse bad in Meimaand geniet. En tog het hulle nog lekker geruik in Junie, die troumaand. Maar ingeval hulle in Junie begin ruik het, het die bruid ’n ruiker blomme gedra. Vandaar die ruikergewoonte.
       
Die baddens was ook maar soos dié wat ons gebruik het: sinkbaddens. Die pa (ook in my kleintyd!) het die eer gehad om eerste te bad, terwyl die badwater nog skoon en warm  was. Daarna het Ouboet gebad – en al die seunskinders in die huis. Ja, in dieselfde badwater! Daarna die dames, dan die kinders en laastens die babas. Teen daardie tyd was die water so vuil dat jy maklik iemand in die bad kon verloor! Vandaar die uitdrukking: “Moenie die baba saam met die badwater uitgooi nie.”
        
Die huisdakke was van strooi gemaak – gras – en die katte en honde, en selfs muise, het in hierdie strooidak gebly. As dit gereën het, was die dak glibberig en het die huisdiere deur die dak geval – vandaar die uitdrukking: "Dit reën katte en honde!”

Die arm mense het net grondvloere gehad. Die rykes se vloere was van leiklip – vandaar die Engelse uitdrukking: "to be dirt poor”.
        
As daar te veel mense in die huis was, is “dubbelverdieping"-beddens gemaak. Omdat Oupa nooit gebad het nie, en nie hoef af te geklim het nie, het hulle sy kos boontoe gevat. Die kos was in ’n piouterbord geskep en Oupa moes dit met ’n lepel eet. Die vroumense het hard gewerk en het nie Oupa se bord gewas nie. Die kinders het die bord en lepel na elke ete gaan haal. Oupa het met die lepel teen die bord gekap om hulle te laat weet dat hy klaar geëet het. Later het hy te oud en swak en sieklik geword om dit te doen, dan het hy  sommer die bord afgesmyt – en die lepel in die dak gesteek.