Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > Artikels | Features

’n Juweel aan die voet van Du Toitskloof


Johann H Crafford - 2007-12-05

Kyk, as jy nou 999 gaar kreefsterte, bedrup met heerlike knoffelbotter, en ’n lewende en hardegat skerpioen in die lug gooi, raai watter een ek sal vang! Toe ek dus hoor ek het ’n prys gewen in die jaarlikse Shirazfeeskompetisie, was ek byna so verbaas soos Paris Hilton toe sy verneem dat reëls, regulasies en wette ook vir die rykes geld.

Die paar wyne, kase en olyfprodukte was op sigself al ’n groot glimlag werd, maar toe hoor ek die hoofprys is ’n naweek vir twee in ’n gastehuis daar aan die voet van die Du Toitskloofpas. En gepla soos ek nou maar is met wyne en die lekker lewe buite, doen ek bietjie navraag en vind uit daar is so vier of vyf wynprodusente in dieselfde omgewing, waarvan twee vir my heeltemal vreemd was.

En so vat ek en vroulief toe een Vrydagmiddag die N1 noordwaarts, draai links by Uitgang 62A na Worcester (Sonstraalweg) so skuins voor die tolhekke, regs by die stopstraat en oor die N1 tot by die stopstraat so 1,7 km verder. Daar draai ons toe links en so 1,6 km verder vind ons die ingang na Avondale, ons eerste besoek van die dag.

As jy nou al ooit ’n e-posboodskap of poskaart van Avondale ontvang het, sal jy weet wat daai kaal boude beteken. Hulle spog dat hul wyne au naturel isomdat daar op hierdie landgoed met sy pragtige uitsigte op die omliggende berge en Paarl-vallei volgens organiese beginsels geboer word.

In die ruim en indrukwekkende proelokaal met sy vele oudhede het Krige Visser, bemarkingsbestuurder, ons vertel dat Avondale maar een van sowat agt organiese wynprodusente is.

En toe het hy ons deur die wynproe geneem. Dis seldsaam dat ek ’n omvattende reeks wyne proe en van almal hou, maar hier was dit een van daai gevalle gewees. En selfs vroulief, wat nie haar mond aan enigiets sterker as ’n vrugtesap sit nie, se knie het geswig voor hul nuwe Rosé, wat van muscat de frontignan- en mourvedre-druiwe gemaak is.

Avondale (021 863 1976) se reeks wyne bestaan uit hul reserwereeks aan die bopunt en ’n premiumreeks. Hul vlagskip is die 2003 Les Pleurs Syrah, terwyl die 2006 Jonty’s Ducks ’n organiese rooi versnit van shiraz en cabernet sauvignon is. Dan is daar ook twee gefortifiseerde wyne.

Nouja, hiervandaan is ons terug na die teerpad, regs en so 1,6 km verder weer regs (Denneboompad), toe oor die N1 en die eerste stopstraat. By die tweede is ons regs op die Keerwederpad en sowat 1,8 km verder aan het Mellasat ons ingewag. Ry so 600 m verder aan met die grondpad en draai dan regs by die ingang.

Mellasat (021 862 4525) is in 1996 aangeskaf deur Stephen Richardson, ’n Engelsman met nog ’n plaas in Norfolk, maar Mallasat se geskiedenis dateer terug na 1693 toe hy as Dekkersvlei gevestig is. Hierdie boetiekwynplaas, met sy pragtige uitsigte op Paarl en sy bekende granietrots, het maar net agt hektaar onder wingerd, hoofsaaklik chenin blanc, cabernet sauvignon, shiraz en pinotage. Hoewel Stephen slegs vyf wyne produseer, het hy al pryse sowel plaaslik as oorsee gewen, en mens verstaan gou hoekom as jy die wyne proe.

Die wynreeks bestaan uit die Dekkers Valley Chenin Blanc 2006, die Dekker’s Valley Revelation 2005 (’n cabernet sauvignon), die Mellasat Pinotage 2002, die Mellasat Shiraz 2002 en die Mellasat “M” 2003, ’n Kaapse versnit van shiraz, pinotage en cabernet sauvignon. Dis ook die vlagskip.

Hiervandaan is ons terug na die teerpad, links en toe 1,8 km verder regs by die vierrigtingstop op die Sonstraalpad. So 1,4 km verder het Ashanti regs vir ons lê en wag, maar hy sou ons eers die volgende dag sien vir middagete. So 800 m verder het ons regs gedraai op die Watervalpad (as jy reguit aan ry, wag Nederburg vir jou aan die linkerkant) en 4 km verder weer regs op die Watervalpad na die Cascade Manor-gastehuis, ons basis vir die volgende twee dae.

As jy nou praat van ’n lus vir die oog, dan praat jy van Cascade Manor (021 868 0227). Majestueus, soos Versailles in Frankryk, pronk hierdie gastehuis tussen groen grasperke, sipresbome, eksotiese palms, olyfboorde en wingerde, en so ’n paar honderd meter verder in die kloof op hoor jy duidelik die waterval se roepstem.

Daar is altesaam nege en suite-kamers wat gemeubileer en toegerus is om jou en jou gesin van alle sorge te laat vergeet. Net een probleem: jy sal nie wil terug gaan huis toe nie.

Twee swembaddens, vir die kleingoed ’n klein speelparkie met ’n trampolien, kilometers se grondpaaie vir die meer energieke wat stap en bergfietsry as ’n wonderlike voorreg beskou, en ’n asemrowende omgewing met genoeg wynmakers om jou neus en tong lank besig te hou is meer as genoeg rede om jou hier te kom oorgee aan die natuur. Wie sê daar’s iets verkeerd met hedonisme!

Volker Goetze noem homself ’n stokperdjiekok, maar die disse wat hy daardie naweek voorgesit het, sal menige cordon bleu-sjef na die naaste houertjie vlugsout laat gryp. En dan maak hy ook nog olyfolie en salami wat jou aan die lekkerste lekker herinner.

En sy wederhelf, Maika, sorg dat alles om jou spreek van smaak, gehalte en professionalisme. Haar aandag aan detail is prysenswaardig.

Na ’n heerlike nagrus en ’n onverbeterlike ontbyt is ons tweetjies toe op soek na Mooi Bly, nóg ’n wynmaker in daai omgewing waarvan ek nog nooit gehoor het nie. Terug by die teerpad het ons regs gedraai, weer regs by die T-aansluiting so ’n entjie verder, regs gehou by die vurk en so ’n kilometer verder die eerste Mooi Bly-naambord gesien, waar ons links is, 500 m verder regs, en nog 500 m verder die ingang links gevind het.

Mooi Bly (021 868 2808) se Belgiese eienaars praat van ’n gasteplaas omdat daar nie minder nie as vyf selfversorgende kothuisies is, asook swembaddens en uitsigte om elke krieseltjie stres te laat verdwyn. En as jy nie lus voel vir stilsit nie, gaan op ’n staptoer deur die wingerde wat eindig in die kelder met ’n wynproe. Dis wat ons gedoen het en ek kan dit aanbeveel.

Hierdie privaat kelder spog tans met net vier wyne: ’n Chenin Blanc 2007, ’n Chardonnay 2007, ’n Cabernet Sauvignon 2006 en ’n Rosé 2007 wat van pinotage- en shiraz-druiwe gemaak is.

My maag het teen hierdie tyd teen my rug begin druk en ek het geweet dis tyd vir Ashanti en middagete by die landgoed se restaurant, Christine’s at Ashanti (021 862 6288). Ons is al die pad terug en verby Cascade Manor se afdraaipad, links by die T-aansluiting en ’n paar honderd meter verder weer links by die afdraaipad na Ashanti.

By ’n vorige geleentheid het ek en vroulief buite op die grasperk en langs die groot dam gesit en ’n heerlike ligte maaltyd geniet, maar aangesien dit bewolk en koelerig was, het ons besluit om ons binne naby die kaggel tuis te maak. Terloops, daar’s ’n klein speelparkie buite waar die kleingoed hulle gate uit sal geniet terwyl pa en ma hulle kan verlustig aan die watertandlekker disse uit die kombuis.

Nouja, daardie middag het ons in ons kamer gesit en kyk hoe die rooinekke met die bandiete afreken in die kwarteindronde van die Rugbywêreldbeker en later dieselfde aand hoe die hoenderhane die kiwi's se stertvere pluk.

Tussenin het Volker ons op die voorstoep getrakteer met ’n olyfolieproe wat ’n ware "eye-opener" was. Ek het nooit geweet olyfolies kan só van mekaar verskil wat reuk en smaak betref nie. Maar nouja, mens is mos nooit te oud om te leer nie.

Na nog ’n stewige ontbyt die Sondagoggend is ek en vroulief sak en pak terug huis toe, maar ons het onsself belowe dat hierdie omgewing ons beslis weer sal sien. Daar is net te veel om te doen en ervaar vir een naweek.