Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Artikels | Features

Die gay cowboy


Hennie Aucamp - 2007-12-05


We loved each other in the way men do
And never spoke about it, Al and me,
But we both knowed, and knowin’ it so true
Was more than any woman’s kiss could be.
Badger C. Clark, The Lost Pardner.

1

Die voorafreklame vir die rolprent Brokeback Mountain het sulke afmetings aangeneem dat van ’n veldtog gepraat kan word. Hierdeur het die prent die allure van ’n gewaagde en selfs kontroversiële rolprent gekry, wat dit hoegenaamd nie is nie: die gay cowboy is ’n ou bekende, en in talle media.

Deel van dié reklame is dat Annie Proulx se status oorbenut word. Proulx, wat eers ná vyftig begin skryf het, het ’n kultusfiguur geword in Amerika, dalk omdat sy ongewone temas aangesny het, wat die openbare verbeelding desondanks aangespreek het.

Ook binne gay kringe. Brokeback Mountain is byvoorbeeld opgeneem in die uitgebreide en hersiene uitgawe van The Penguin Book of Gay Short Stories, onder redaksie van David Leavitt en Mark Mitchell.

Hierdie skrywer het Brokeback Mountain in ’n uitgawe op sigself leer ken, maar tans is dit deel van ’n bundel buitelug-verhale van Proulx, Close Range: Brokeback Mountain and other stories. Maar met dié opportunistiese titel het die voorblad nog nie klaargespeel met reklame nie. Bo-aan die blad staan onvermydelik, “Now a major motion picture”, en dis geplaas oor een van die bekendste “stilfoto’s” uit die prent. Onder Annie Proulx se naam word vermeld: “Author of The Shipping News”; ’n roman wat eweneens ’n kultusrolprent geword het.

Onvermydelik ontstaan dié vraag: wat is die intrinsieke waarde van die kortverhaal sowel as rolprent Brokeback Mountain, en verdien dié waarde die oorverhitte reklame vir die rolprent?

Om dié vraag te beantwoord, moet omsigtig te werk gegaan word. Daar gaan agtereenvolgens na die historiese cowboy, die cowboy in vroeë Wildernis-literatuur, die cowboy in die rolprentgeskiedenis en die cowboy binne die kunste, en bowenal binne die pop- en die pornokultuur gekyk word, want dis hier waar die gay cowboy sy kontoere die duidelikste toon.

2

Die leser word na Chris Packard se akademiese studie Queer Cowboys and other erotic male friendships in nineteenth-century American Literature verwys vir ’n breed-uitgewerkte analise van die versluierde homokodes in James Fenimore Cooper se boeke, en meer literêr, ja, in só ’n mate literêr dat dit die lof van Henry James verdien het, in The Virginian (1901) van Owen Winster. The Virginian geld tot vandag toe as die eerste literêre cowboy-roman.

Die kameraderie tussen mans is dikwels tussen ’n ouer en ’n jonger man, soos in James Fenimore Cooper se Live Boys; or, Charlie and Nasho in Texas (1868). Ritueel en manbaarwording speel ’n belangrike rol in hierdie Wildernis-vriendskappe. Die cowboys besef dat hulle moet terugkeer na wat as die normale lewe beskou word, maar wat onvermydelik ’n afskeid beteken van alle natuurlikheid, spontaneïteit, vryheid. Reeds op sy wittebroodsreis sit die held van The Virginian saam met sy bruid na die kapperjolle van ’n wesel en kyk, nou in die water, dan in die riviersand. As ek sý taal kon verstaan, sê die Virginian, sal die wesel vir my sê: “What’s the gain in being a man? Come roll on the sands with me.”

Om as “man” te kwalifiseer, moet die Virginian getroud wees, ’n dilemma wat nooit bevredigend opgelos sal raak in die tyd nie, want een helfte van die wese van ’n man, hoe macho ook, word opgehef deur burgerlik-sosiale verwagtings. Hy word ’n getemde dier, ’n gedresseerde gemeenskapsdier.

Die Virginian se probleem vind naklank in Brokeback Mountain waar Enis en Jack die voorgeskrewe weg inslaan: hulle trou, maar nie met mekaar nie.

3

Die cowboy-leefwyse is visueel gekonsolideer deur die rolprentmedium. Daar is waarskynlik meer rolprente en fiksiewerke oor die cowboy as wat daar historiese navorsing omtrent die Ou Weste bestaan.

Hier is die boek Cowboy Dreams: Cowboy Nostalgia: Photographs from the Range, saamgestel deur Richard Collins, en ingelei deur Bob Edgar, ’n uitmuntende kontrole by latere romantiserings en, toenemend, ook dekonstruerings van die Weste.

Bob Edgar is ’n historikus, argeoloog en kurator van die Museum of the Old West at Old Trail Town, Cody, Wyoming. Nou is dit juis Wyoming waar die skryfster Annie Proulx leef, ’n wêreld waarvan die tydskrif Red onder meer die volgende sê, soos aangehaal in Close Range: “She (Proulx) tells of people facing the darker side of their psyches, set against the unforgiving landscape of Wyoming.”

Wat die historiese foto’s in Cowboy Dreams toon, hier teen die einde van die neëntiende eeu afgeneem, is dat die landskap in Wyoming inderdaad kaal en meedoënloos kan wees. Berge, dikwels met sneeupieke, is daar ook, soos die Brokeback Mountain van Annie Proulx, maar vistas van uitgestrekte vlaktes met buffelgras en min bome oorheers die tonele in Cowboy Dreams.

Die alleronherbergsaamste tonele is sneeutonele, met mens en dier, veral groot kuddes bees, wat deur sneeubedekte vlaktes ploeter. Een dubbelblad-sneeufoto het dié byskrif: “A long, long trail a-winding.” Dié foto is geneem deur die merkwaardige fotograaf Charles J. Benden wat dit hom ten doel gestel het om die Ou Weste, toe reeds aan die verbygaan, vir die nageslag vas te lê.

Die rolprent Jeremiah Johnson (1972) van die filmer Sydney Pollock, is een van die min cowboy-prente wat oorwegend in die winter geskiet is, en dit in bergwêreld met sneeu op die kruine. Op die koop toe het dié merkwaardige prent ’n gesofistikeerde morele onderbou.

Die fliekganger se beeld van die Wilde Weste is in hoë mate gevorm deur prente soos The Searchers (1956) van John Ford en talle ander wat teen die asembenemende, argetipiese en haas abstrakte landskap van Monument Valley, tussen Arizona en Utah in die Navajo Reservaat afspeel, met rotsformasies wat soos kastele rys uit die omringende vlaktewêreld.

Cowboy Dreams aktiveer die cow- in “cowboy”. Groot troppe bees van Texas is deur cowboys na die Montana-goudmyne gebring, natuurlik geborg deur ’n magnaat van die een of ander aard. Nelson A. Story wat ryk geword het uit goud in die sestigerjare van die neëntiende eeu, het sy goudstof vir $40 000 verkoop en 1000 langhoringbeeste gekoop en 25 geharde cowboys gehuur om sy stoet na Montana te neem. By Fort Laramie, ’n bekende naam in cowboy-eposse, het Story op skaal Remington-gewere gekoop vir sy manne, asook Colt-rewolwers, twee per cowboy. En dit was noodsaaklik, want aanvalle deur Indiane was ’n voortdurende gevaar, veral in skeurvalleie en in rotswêreld, net soos rolprente dit so grafies illustreer.

Natuurlik was daar ook die bymekaarmaak van wildeperde, en later die perdestoeterye en die rodeo’s. Die cowboys in Brokeback Mountain kan wel nog perdry, maar hulle het eietydse voertuie soos bakkies en karavane.

Ook bergskaap, waarskynlik ’n eiesoortige ras, word in Cowboy Dreams genoem. Miskien is die skaap in Brokeback Mountain afstammelinge van dié oerras.

Baie van die meer huislike tonele in cowboy-rolprente kan reëlreg teruggevoer word na die historiese foto’s van Charles J. Benden, Charles D. Kirkland, Erwin E. Smith en ander. Talle tonele toon cowboys aan die kosmaak om kampvure, toegerus met swaarboom-ysterpotte, ouderwetse koffiekanne en groot knieskottels. Waar die verblyfplekke van minder verbygaande aard was, is brood gebak en pasteie gemaak.

Daar is ook musiek gemaak om die kampvure, met viole, kitare en mandoliene as instrumente, straks ook mondfluitjies. ’n Mens kan jou voorstel dat “My Darling Clementine”, uit die goudstormloop-dae, baie gewild sou gewees het; ook “I’ll strike the trail to the Alamo”, en ’n cowboyliedjie wat ons as “Wanneer kom ons troudag, Gertjie”, ken.

Daar is geen foto in Cowboy Dreams wat homoërotiek suggereer nie; selfs die foto van ’n cowboy wat ’n maat liefdevol skeer, is waarskynlik doodonskuldig, want om hulle gaan die kamplewe rustig sy gang. Anders is dit gesteld met die omslagfoto van die Mei-uitgawe 2006 van Source, waar een man die ander skeer, beide in ontwerper-onderklere. Onskuldig? Die seksatmosfeer van dié tydskrif is bepland ambivalent.

’n Greep uit die outobiografie van Frank M. Canton, wat sy avonture as cowboy uit die tweede helfte van die neëntiende eeu nugter, sonder enige opsmuk, vertel, is die ideale begeleiding by al die óú swart-wit-foto’s in Cowboy Dreams. Ook brei dit die woordeskat van die leser uit. Skielik weet hy wat hy op die rolprentdoek sien, van prêriewolwe tot wildekalkoene, en bowenal die plante: grysgroen salie tussen buffelgras; sederbome en jenewerbessiestruike in die berge; eeue-oue dennewoude.

4

Die romantiese verbeelding het sekere argetipes geskep, soos die matroos; die soldaat; die gevangene en sy teenbeeld, die polisieman; en dan natuurlik die cowboy, en nog ander gestaltes in “uniforms”. Binne die gay verbeelding raak hierdie argetipes soms verhewig tot die karikaturale toe. Kyk maar wat die kunstenaars George Quaintance en Tom of Finland van byvoorbeeld die cowboy maak.

Die Western, om die meer gebruiklike term vir die cowboy-prent te gebruik, het van oudsher af die potensiaal van die cowboy as rolprentmateriaal ingesien, en daar is selfs in die stilprent-dae Westerns verfilm, maar net soos Philip French, bekende filmkritikus, is ek net in die Western met klank geïnteresseerd. French sê tereg dat ’n Western hoewegedonder, die gesis van pyle, die geklap van Winchesters wil hê.

Philip French sê dat die Western sy eie kommersiële formule gevind het, so onwrikbaar soos dié van die Kaboeki-teater. Ek sou eerder die lyn na die Griekse Tragedie wou deurtrek, en dis juis French wat daarop wys dat daar cowboyfilms is wat die Griekse tradisie as basis het. Hy verwys na The Stars in their Courses wat Philoktetes en Odusseus as gekamoefleerde karakters het. Die Klassieke tendens is ook by die kunstenaars Dalmas Howe en George Quaintance aanwesig in hul weergawes van cowboys; artistiek by Dalmas Howe, verspot en soetsappig by Quaintance.

Die vraag is nou of Brokeback Mountain die eerste onomwonde hoofstroom gay cowboy-rolprent is.

Die “phallic weaponry” subteks word ondeund aangesny in Red River (1948), waarin Montgomery Clift en John Ireland twee cowboys speel wat teen mekaar spog met hul wapens. Ingewydes het geglimlag, maar gelukkig het dié toneeltjie nie die argwaan van sensors gewek nie. Die kritikus Philip French is nie van die psigoanalitiese skool nie, en sê in sy inleiding tot Westerns: “. . . but in considering the central significance of, say, gunplay, I am reminded of Freud’s comment that ‘sometimes a cigar is just a cigar’.”

Dis ironies dat French homself weerspreek waar hy John Ford se opvallend falliese toespeling in My Darling Clementine “ontleed”: “This is most striking in the opening party . . . where Henry Fonda and Cathy Downs tentatively move towards each other across the floor and three saguaros stand in the background between them at the piognant moment when they look into each other’s eyes and then start to dance.” Die “sanguaros” verwys hier na die reusagtige Saguaro-kaktus, en op die koop toe plaas French ’n foto waar Henry Fonda, as Wyatt Earp, op ’n dak staan, sy rewolwer, baie sigbaar teen die luglyn, reg na die monumentale kaktusse gerig.

Die kaktusse figureer hier binne heteroseksuele konteks, wat glad nie wil sê dat Philip French ’n homofoob is nie.

One Eyed Jacks (1961), ’n film gemaak deur en mét Marlon Brando, is trouens een van French se gunsteling-cowboy-prente. French sê dat die atmosfeer in dié prent donker en pessimisties is, met suggesties van homoseksualiteit, maar noem ook dat dié kwaliteite glad nie vreemd aan die Western-genre is nie.

Sinspelings en toespelings op homoseksualiteit kan in talle Westerns waargeneem word, veral tans met DStv, wat gereeld Westerns vertoon.

’n Voorbeeld is Escape from Fort Bravo (1953), met John Sturges as regisseur. In dié prent, in die verlatenheid van die Wilde Weste, moet gevangenes van een politieke faksie bewaak word deur wagte van ’n opponerende politieke faksie; hul getalle gevaarlik na aan gelyk. Een van die gevangenes is ’n digter, wat sonder skroom sê dat hy lafhartig is en dat die leër geen plek vir ’n digter is nie. Hy loop weg, maar word onsagkens teruggebring kamp toe deur die bevelvoerder van die wagte. Die bevelvoerder ry te perd, en het die gevangene aan ’n leiriem vas, soos ’n dier. Ente ver word hy deur die stof gesleep. In die kamp aangekom, moet die digter na die siekeboeg, waar hy liefdevol versorg word deur sy kennelik meer-as-vriend. “Digter”, so weet ’n intelligente publiek teen dié tyd, is ’n eufemisme vir ’n homoseksueel. Die digter verrig één dapper daad, deur opportunisties weg te jaag tydens ’n onverwagte aanval; Meksiko toe, só word algemeen aanvaar. Hy het egter hulp gaan ontbied by die kamp, en so word die oorblywende groepie bewakers en gevangenes van totale uitwissing deur Indiane gered. Talle vegters is reeds dood wanneer hulp opdaag, en die digter se vriend is sterwende. Wanneer die digter se vriend sterf, is Hollywood op die punt om ’n soen tussen twee mans toe te laat, maar sensuur gryp in en bederf ’n elegiese oomblik.

Die publiek moes nog drie-en-vyftig jaar lank wag voordat twee cowboys mekaar dringend, aanhoudend, vol op die mond sou soen, soos in Brokeback Mountain.

5

As die literêre deurbraak na ’n gay cowboy-rolprent lank geduur het, moet gemeld word dat daar van die veertigerjare van die vorige eeu wegbereiders was. Die liggaamskultuur het uitgemond in sogenaamde gesondheidstydskrifte, en fotograwe en kunstenaars het vindingryk kodes deurgestuur na ’n gay publiek. Bruce van Los Angeles het gesonde plaasseuns met deurtrekkertjies aan gefotografeer, maar later het die stertrieme gewaai. Ook spot hy guitig met die cowboy-kultus. Van sy modelle is naak, op stewels, wyerandhoede en rewolwers na.

Die kunstenaar George Quaintance (1915-1957) het omslae geteken vir die gesondheidstydskrifte Body Beautiful en Physique Pictorial. Ook hy moes sensuur-voorskrifte eerbiedig. Sy modelle het vissers, mitologiese figure, matadors en bowenal cowboys ingesluit.

Is “Quaintance” die tekenaar se werklike van? Miskien wel, miskien nie, maar daar is ’n vermoede dat dit ’n skuilnaam is waarmee Quaintance ’n kode aan sy basiese publiek, naamlik ’n gay publiek, wou deurgee: “quaint” = “queer”.

Vandag tref Quaintance se werk jou as kitch, en ook sy credo, waarin die woord “dream” ’n hoë gebruiksfrekwensie het. Die penis in Quaintance se werk word konsekwent agter versperrings soos takke, blare en seepskuim versteek, en selfs sy perde lyk geslagloos.

’n Tipise Quaintance-cowboytoneel speel in ’n skuur af. Die skuurdeur staan wydoop, en hou die cowboys – meestal twee bymekaar – bewus van die somernag en sy sterre. Een leun terug teen ’n hooibaal, ’n strooitjie tussen sy vol lippe, die ander een is besig met take soos stewels en saal insmeer met bokvet, wasgoed uitwring, drank skink, om enkele clichés te noem.

Quaintance se kitch is sentimeters van porno af. In ’n pornotydskrif Cowpoke Tales kan ’n mens byvoorbeeld die volgende lokreëls by ’n verhaal lees: “There ain’t nothin’ like getting . . . as you lie back against a saddle, the smell of hay and mansex filling your nostrils.”

Quaintance se skildery “Night in the Desert” is in 1951 geskilder. Tom of Finland, lewensgul, sensuur-veragtend, het eweneens stal- en skuurtonele geskilder; een, uit die jaar 1975, toon twee cowboys in die hooi, een nog met ’n sokkie aan. Geen verbloemingstegnieke hier nie; net die naakte, erekte waarheid.

En dan is daar die meester van Pop, Andy Warhol, wat selfs ’n gay cowboy-prent gemaak het, genaamd Lonesome Cowboys; maar hoofstroom was dit nie.

Brokeback Mountain het dus talle aanlope en wegbereidings gehad. Die “skokkende” omtrent Proulx se verhaal en die rolprent wat daarop gebaseer is, is op die ou end dat beide literatuur is. Sonder blatantheid; sonder preutse verdoeseling, doodgewoon literatuur.

6

Hierdie skrywer moet erken dat hy Annie Proulx se prosa weerbarstig vind, veral as dit gestel word teen dié van ander Amerikaanse skrywers oor buiteluglewe, soos Jack London en Wallace Stegner. En dan is daar die sublieme prosa van Willa Cather, wat telkens in haar werk teruggekeer het na haar landelike verlede in Nebraska, en Caroline Gordon wat onder meer sterk jagverhale geskryf het, teen die agtergrond van haar hartland, Suidoos-Kentucky.

Annie Proulx is dus ’n soveelste merkwaardige “tomboy” binne die Amerikaanse letterkunde, maar kortverhale vergelykbaar met “The Wolfer” van Stegner en “Old Red” van Caroline Gordon het sy (nog) nie geskryf nie.

Brokeback Mountain het nie die eenheid en gekonsentreerdheid van ’n meester-kortverhaal nie; hiervoor is die tydspan wat betrek word, te lank: jy volg haar cowboys van hul jongelingsjare tot vroegmiddeljarigheid toe. Dis of die verhaal eintlik ’n novelle of ’n kort roman wou wees, maar dan tog nie die uitdaging aanvaar nie.

Die ingekortheid van Brokeback Mountain laat min speling vir karakteruitdieping en -ontwikkeling, en hier is dit veral die cowboys se vrouens wat verskraald daarvan afkom. Die gedugte omstellers van die kortverhaal na ’n draaiboek het getrou aan die gees van die verhaal gebly, met net ’n verduidelikende invoeging waar nodig. Hulle het hulle Oscar dubbel en dwars verdien.

Die weerbarstigheid van Proulx se styl blyk veral uit haar enumeratiewe strategie: sinne wat lank en swaar word, vanweë die opdamming van gegewens. Ja, opsommend vertel, dit kan ritmiese breuke veroorsaak.

Maar van ritmiese versteurings het hierdie leser niks gemerk toe hy na Campbell Scott se manjifieke voorlees van die volledige Brokeback Mountain op laserskyf geluister het nie. Campbell Scott, die jong seun in Dead Poet’s Society, het intussen ’n formidabele akteur en regisseur geword, en sy voorlees van Brokeback Mountain behoort in elke dramastudent se besit te wees, asook die teks waarom dit gaan.

Scott laat hom volledig deur die teks lei; ’n deinende gang, soos dié van ’n ligte wind in lang gras. Wat gaan hy met die epifaniese oomblik maak, wonder ’n mens benoud, daar waar Enis del Mar in oorlede Jack Twist se seunskamer staan en in ’n half versteekte hoekie twee hemde vind, een van Jack, nog hard van Enis se bloed van hul geveg die laaste middag op Brokeback Mountain, en binne-in Jack se hemp ingepas, een van Enis se hemde, die een waarna hy so lank gesoek het? Jack het die moue van Enis se hemp versigtig in sy eie hempsmoue ingewerk; ’n soort “till death do us part”-gebaar. En nou druk Enis vergeefs sy neus in die materiaal, want hy ruik nie meer rook, bergsalie, of die sout en tog soet reuk van Jack nie. Scott het die verstandige weg gekies: hy lees onderbeklemtoond.

Natuurlik is daar al ander verhale met presies dié soort epifaniese oomblik geskryf. Tydskrifskrywers het by herhaling oor ma’s geskryf wat op ’n onbewaakte oomblik afkom op ’n skoen of ander kledingstuk van ’n vroeggestorwe kind, en dan hartstogtelik begin huil.

Annie Proulx vermy dié sentimentele uitweg. Sy sê net: “. . . there was no real scent, only the memory of it.”

Die verhaal sluit met Enis del Mar se bondige lewensfilosofie: “. . . if you can’t fix it you’ve got to stand it.”

Die laaste ses bladsye van die verhaal Brokeback Mountain het hierdie leser se vooroordele opgehef, want hulle demonstreer dat Annie Proulx binne tragiese konteks ’n skrywer van formaat is. Sy is in beheer van haar medium, sy het die nodige afstand tot haar emosies en dié van haar karakters. Die leser van die verhaal, en ook die kyker na die rolprent, ervaar ’n groot droefheid teen die einde, maar ook die suiwering wat ’n katarsis is, en dis waarom dit gaan binne die ware elegie.

***

Enkele bronne

· Clark, Badger C., aangehaal deur Chris Packard in Queer Cowboys.
· Collins, Richard (red.) 1996. Cowboy Dreams: Cowboy Nostalgia: Photographs from the Range. London: Salamander Books Limited.
· French, Philip. 1973. Westerns. London: Secker & Warburg, in association with the British Film Institute.
· Harris, Ed (red.) Februarie 1996. Cowpoke Tales. Teaneck, N.J.: First Hand Specials.
· Néret, Gilles. 2004. Homo Art. Köln: Taschen.
· Packard, Chris. 2006. Queer Cowboys and other erotic male friendships in nineteenth-century American Literature. New York: Palgrave, Macmillan.
· Proulx, Annie. 2006. Close Range: Brokeback Mountain and other stories (film tie-in edition). London: Harper Perennial. (Dié boek is in 1999 deur Fourth Estate uitgegee as Close Range: Wyoming Stories.)
· Quaintance, George. 2003. The art of ______________. Simon’s Town: Janssen Publishers CC.

Diskografie

· Annie Proulx, Brokeback Mountain, read by Campbell Scott. CD; Simon Schuster Audio.


Die cowboys van Brokeback Mountain

Dit kon geen vrou ooit stil nie,
hul harde behoefte aan mekaar:
ongebreideld die omhelsings en soene,
die instoot en onbesuisd paar.

Buite hul tent die snywind
en die wrokkige blok van die berg
wat met swart maar suiwer kontoere
die mens aan sy Oppermag bind.

’n Poskaart van Brokeback – verskote –
herinner aan passie en gemis
en die weeïge reuk in ’n baadjie
van die cowboy wat nie meer daar is.

Onverhoeds kom gewaai uit dié poskaart
’n sneeuwind wat tref soos ’n vuis:
en ’n cowboy, gekrom oor homself,
kots hom leeg in sy woonwa cum huis.