Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Fiksie | Fiction

''Die boekklub''


Anna-Marie de Vos - 2006-09-08

Ek dink nog steeds dis ‘n goeie idee. Dis net dat die tyd my ‘n bietjie ingehaal het, soos gewoonlik. Ek wou nog ‘n woordeboek koop en eers bietjie daarin lees om gewoond te raak aan die gebruik van minder bekende woorde – sodat dit interessanter sou klink – maar daar is nou nie meer tyd daarvoor nie. Al wat oorbly, is gewone woorde. My deelname aan die skryfgroepie (wat begin is vir oefening) is deel van my plan om groot geld te maak met die skrywery. Ek gaan erotiese Afrikaanse verhale skryf vir geld. Nie ligsinnige hygromans nie, maar iets met meer om die lyf. Maar ek dink vir die skryfgroepie sal oefen met hygroman-inhoud vir eers goed genoeg wees.  

My probleem is net dat die woorde nou nie wil kom nie. Eintlik is dit meer my gedagtes wat so half gaan staan het. Nie dat ek skaam is oor erotiese stories nie. Die ding is net, dis soos seks wat nie kan gebeur as mens nie in die bui daarvoor is nie.
 
Ek neuk vanaand ál na die gewone dinge toe. Gedigte oor die visportrette teen my muur, maar geen sweem van hortende asems, wilde lywe, swetende hande of iets dergeliks nie.
 
                               Twee visse hang verdwaas teen my muur
                               Ek het hulle gevang
                               Jy’t hulle geskilder
                               Ons het hulle geëet
 
                               Hulle sien nie meer die blou blou lug nie
                               Hulle voel nie meer die koue groue see nie
                               Hulle voel nes ek
 
Nou kom Gert Vlok Nel in my kop op. Sal nooit ooit weer nie.
 
Hierdie skrywery gaan nêrens heen nie.
 
Skielik huil ek oor Antjie se gedig oor die dogtertjie. Pleks ek liewer haar erotiese gedigte onthou.
Miskien help dit as ek meer Engelse woorde gebruik.                             
A very short story
 
Ek koop my kaartjie ongemaklik, alleen, en neem vinnig my plek in. Ek hoop nie iemand kom sit langs my nie. Net toe ek dink ek is veilig, skuif twee dikkerige meisies redelik luidrugtig links van my in. Ek probeer so ongemerk moontlik een stoel terugskuif. Toe kom daar nog een en sak langs my neer. Dis ‘n meisie, langerig, met dun, kort, swart seunshare. Sy het te veel pakkies en stamp heeltyd teen my daarmee. Ek voel dadelik haar lyf se hitte en wonder onmiddellik of sy ook bewus is van my liggaamshitte. Ons sit albei doodstil deur die hele fliek, maar haar been raak heeltyd aan myne. Ek roer nie (wat sou my besiel? wonder ek, maar ek roer nie). Aan die einde, voor die ligte nog aangaan, staan sy op. Ek staan ook op en stap agter haar by die teater uit. Sy draai soos ek gehoop het sy sou, maar terselfdertyd ook voor bang was: links na die toilette. Ek wens ek kon eerste ingaan, wat my sou vrymaak van enige besluite. Ek voel effens koorsig as ek kyk hoe haar jong lyf voor my by die deur inswaai. Aan die manier waarop sy beweeg, weet ek sy weet van my.
 
Selfs met die Engelse opskrif wil die storie nie verder nie. Miskien maar beter so. Skielik is ek honger. Sal maar vir vanaand die skrywery moet los en iets gaan kry om te eet. Môre weer probeer.