Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans

Ontmoet Elna Crouse, skrywer van Gestaltes van ʼn dogter: in konfigurasie


Elisabeth Mynhardt - 2007-12-04

Die eerste vraag aan enige skrywer is altyd: Hoe outobiografies is hierdie gedigte? Van die gedigte is so eerlik, en nooi mens so naby in 'n teer verhouding in.

Hierdie bundel vertel woord vir woord 'n ware verhaal. Dit is amper iets soos 'n gevallestudie. Dit is 'n tipiese verhaal van die tyd en ruimte waarin ons ons tans bevind in ons land. Die persoon wie se verhaal dit is, se identiteit is vertroulike inligting. Dit is plek-plek in die eerste persoon geskryf juis om die leser midde-in die gebeure te plaas. Dit is 'n storie waarmee ek self en elke ma van 'n dogter kan identifiseer.

Daar is 'n sterk mitologiese invloed in jou poësie. Van waar kom jou belangstelling in mitologie?

Enige student van die geesteswetenskappe, of meer spesifiek, die kreatiewe kunste, hetsy dit letterkunde, die uitvoerende of beeldende kunste is, se pad sal een of ander tyd kruis met die mitologie. Dit is onafskeidbaar deel van die wêreld se kultuurgeskiedenis. Dit is verder ook die vergestalting van die mens se geestelike evolusie. Vandat hy bewus geraak het daarvan dat daar begrippe buitekant die tasbare wêreld lê, wou hy dit verklaar. Dit is ook die geskiedenis van die mens se strewe om die onsterflikheid van sy siel te verseker. Dit is interessant om te ontdek dat begrippe wat mens altyd gedink het net hoort tot die Calvinistiese Christendom, reeds in die antieke mitologieë voorkom, byvoorbeeld die uitverkiesingsleer, die wedergeboorte ens.

Waar kom die titel vandaan?

Eerstens vertel die bundel twee stories - die mitologiese een van Demeter en Persephone en die werklike een met die verteller se eie werklikheid. Die verteller gebruik die mitologiese storie om haar eie werklikheid beter te verstaan. Haar dogter se verskillende fasette of gestaltes word geïllustreer en geïntegreer.

Die titel dui ook op die Gestalt-sielkunde, wat glo dat die mens 'n geheel is wat meer kompleks is as net 'n aggregaat van sy dele. Om werklike begrip te hê van 'n persoon moet jy hom sien as 'n eenheid met kontrasterende elemente wat almal in verhouding tot mekaar en in verhouding tot sy spesifieke omwêreld funksioneer.

Die bundel vertel die heelwordproses van die ma sowel as die dogter mbv Gestaltvorming. Hulle moet vanuit hul omwêreld en innerlike belewenis 'n geïntegreerde geheel of patroon van persepsie organiseer sodat hulle weer bevredigend kan funksioneer. Hulle moet bewus word van al hul kontrasterende ekstreme en dit in 'n harmonieuse geheel in elkeen se spesifieke omstandighede rangskik en saamvoeg. Daar is dikwels fasette van mens self waarmee jy jouself dissosieer omdat dit te pynlik is. Eers wanneer jy al jou eienskappe erken, ook die negatiewes, en dit integreer in die beeld van jouself, kom daar selfbegrip en heling. Die ma probeer haar kind verstaan omdat sy haar wil help en word self heel in die proses deur selfontdekking.

Die verhouding tussen dogter en ma is soms 'n komplekse een. In jou bundel is die verhouding baie teer. Het jy self 'n dogter en hoe is julle verhouding?

My verhouding met my dogter was beslis die emosionele verwysingsraamwerk wat my in staat gestel het om hierdie verhaal te vertel. Vandat ek die eerste keer die Demeter/Persephone-mite gelees het, het ek daarmee geïdentifiseer omdat my dogter my enigste kind is en ek 'n baie hegte verhouding met haar het. Wanneer mens so 'n enigste dogter het, is dit feitlik onvermydelik dat die verhouding baie vertroulik word met nuanses van kameraadskap en rolversteuring en dat dit swaar gelaai word met emosionele verwagtings. Soos enige ouer weet, is dit soms baie moeilik om 'n kind toe te laat om sy eie mens te word en die balans te handhaaf tussen kontrole en vryheid tot selfrealisering. My dogter is my geesgenoot, my beste vriendin en vir altyd die lam wat ek wil beskerm.

Jy is ook 'n sielkundige. Is jou ervaringe as sielkundige 'n groot pluspunt in jou skrywersloopbaan? Met hierdie bundel is dit asof jy nie net as ma skryf nie, maar ook met die objektiewe blik van iemand wat geestesgesondheid so goed verstaan.

Alles wat mens in die lewe leer, word mos maar deel van jou verwysingsraamwerk en beïnvloed jou persepsies. My sielkundige belangstelling en kennis help my helaas nie altyd om objektief te wees nie.

Ek glo in werklikheid nie dat objektiwiteit ooit moontlik is nie, selfs in wetenskaplike studie, want mens neem altyd waar vanuit 'n spesifieke oogpunt wat in verhouding staan tot jou omgewing. Daar is dus net verskillende persepsies en niemand kan aanspraak maak op objektiwiteit nie.

My belangstelling in hoe elke individuele mens se psige werk en sy keuses beïnvloed, is wel dikwels die motivering vir skryf.

Geweld in SA word daagliks erger. Almal leef binne een of ander graad van geweld. Dit maak die poësie so noodsaaklik. Wat is jou voorstel as sielkundige vir 'n mens en 'n gesin om iets so traumatiese soos verkragting te hanteer?

Ek dink nie daar is 'n resep wat vir almal werk nie. Die groot probleem vir hierdie tipe slagoffer is dat die breë publiek nie ondersteunend is nie, al sou hul graag wou wees. Simpatie is daar wel, veral aanvanklik, maar dit gaan gepaard met etikettering. Sodra dit bekend word buite vertroulike kringe, word 'n slagoffer altyd gesien as "die-een-wat-verkrag-is-en-nou-beskadig-is". Formele berading is nodig. Soek die regte terapeut, al moet jy tien beproef. Gun jouself tyd om alles te verwerk - dit gebeur nie oornag nie. Sien dit as 'n verdiepende ervaring wat jou uiteindelik laat groei.

Wat inspireer jou om te skryf?

Dit is onvoorspelbaar, soos Sheila Cussons dit so raak beskryf in Die sagte sprong:

Dit kom wanneer dit nie verwag
word nie: iets wat die bewussyn tot
in die lewe tref, iets soos 'n sagte sprong

Wanneer die stimulus jou bewussyn so in die lewe tref, begin die heerlike proses van ontdekking. Jou kreatiewe denke is aan die gang en jy ontdek wat jy wil sê. Jy verwerf een of ander insig wat jy wil deel en nou moet jy die raakste woorde vind om jou begrip oor te dra. Dit is absoluut verslawend.


Dink jy daar is nog plek in Suid-Afrika vir poësie?

Ja, so lank as wat daar taal is, sal daar poësie wees. Afrikaanse letterkunde se dilemma was maar nog altyd die klein leserspubliek, wat die kommersiële sukses van 'n publikasie beperk. Maar Afrikaners heg snobwaarde aan goeie kuns, goeie musiek en goeie letterkunde. Dit sal poësie deurtrek, want dit is letterkunde vir die fynproewer.

Jy is ook die skrywer van 'n bundel kortverhale, 'n Moeg hond onder die bed. Vertel ons meer van jou skrywersloopbaan en jou liefde vir skryf.

Ek was vandat ek kan onthou aangetrokke tot die geskrewe woord. Om te leer lees was sekerlik die grootste a-ha!-gebeurtenis in my lewe. As laerskoolkind op Vryburg het ek die dorpsbiblioteek se kinderafdelingboeke feitlik alles gelees en kon nie wag om twaalf te word sodat ek by die volwasse afdeling kon aansluit nie. Opstelskryf was 'n ernstige saak. My pa, wat 'n geweldige respek by ons gekweek het vir die kuns van skryf, was dikwels betrokke by my opstelle en sy belangstelling was die basis van my skryflus. Die wonder van poësie het ek egter eers werklik ontdek op universiteit. Ek is aangetrokke tot kortkuns omdat dit vir my 'n uitdaging is om 'n boodskap te suggereer. Mens kan soveel meer sê met min woorde.

'n Moeg hond onder die bed gaan hoofsaaklik oor mense wat voor 'n keuse te staan kom wat die verwerwing van selfkennis vereis. Hierdie proses word ook in Gestaltes verbeeld en as ek analities kyk, is dit seker die kern van my kreatiewe motivering. Gestaltes is nie my eerste poging tot dig nie. Daar lê honderde ongepubliseerde gedigte in my laai wat dateer vanaf my laat tienerjare tot nou.


Is daar nog gedigte in die pyplyn?

Ek is tans besig om 'n biografie te skryf en het nog nie weer 'n digbundel gekonseptualiseer nie, maar gedigte neerpen is iets wat maar voortdurend met my gebeur. Nog bundels is beslis 'n persoonlike begeerte.