Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Theunis Engelbrecht: Sound Bites

Die enigmatiese mnr Otis Fink
(is uitsonderlik flink)


Theunis Engelbrecht - 2007-12-04

Ons verloopte ou spulletjie hier by Sound Bites het dit goedgedink om hierdie keer net na DVD’s te kyk. Die DVD’s hier onder is min of meer in die volgorde waarin dit die lede van die kykpaneel die meeste meegesleur het.

 
Dave Gilmour

David Gilmour is dalk meer bekend as sanger en kitaarspeler van Pink Floyd, maar as solokunstenaar het hy ook al uitstekende werk gelewer, wat ‘n hoogtepunt bereik het op sy mees onlangse album, On an Island. Die konsert op sy Remember That Night-DVD is in Mei 2006 opgeneem as deel van sy On an Island-toer. Sy solowerk hoef geen tree terug te staan vir sy werk met Pink Floyd nie.

Hierdie dubbel-DVD is uitsonderlik. Die eerste DVD bevat die volledige konsert, met gaste soos Graham Nash, David Crosby, Robert Wyatt en David Bowie. Die musiek gryp jou vas en laat jou nie een oomblik los nie – Gilmour vat jou op ‘n trip soos min. Hy hipnotiseer met sy strelende stem en briljante kitaarspel – iets om op sigself te aanskou en te hoor. Sy solo’s skep ‘n vibe wat mens nie eers wil probeer beskryf nie, want dit is buitendien te wonderlik vir woorde.

Die tweede DVD bevat ‘n rykdom aan bonusmateriaal: drie boeiende dokumentêre, optredes by ander feeste en konserte, en twee musiekvideo’s. ‘n Mens kan akkoord gaan met ‘n uittreksel uit die musiektydskrif Uncut wat in die DVD-boekie aangehaal word: “It’s probably the most personal project of Gilmour’s career, one which finds him not so much slouching towards Bethlehem, perhaps, as gliding weightlessly toward some personal epiphany.” As jy Pink Floyd se Pulse geniet het, sal Remember that Night jou nie teleurstel nie. Moenie dit misloop nie.

 

In Julie 1965 het Bob Dylan die tradisionele Newport-folk-fees op sy kop gekeer toe hy besluit het hy en sy orkes gaan elektries speel. Dit was kort nadat hy “Like a Rolling Stone” opgeneem het en nie meer suiwer folk gespeel het soos op sy eerste drie of vier albums nie. Die puristiese folk-tradisionaliste het van hul koppe af geraak. Dylan is uitgekryt as ‘n verraaier en ‘n Judas. (Regtig! Vandag klink dit als baie vreemd, maar dis wat hierdie dokumentêre DVD - hierdie sprong van 42 jaar terug in die kultuurgeskiedenis ­- so fassinerend maak.) En o ja, een van die tradisionaliste het selfs vir Dylan se bestuurder gedonder en toe stoeiend met hom op die grond rondgerol. 

Daar word gekyk na Dylan se optredes by die fees van 1963 tot 1965, waar hy sy bekendste treffers van daardie tyd gesing het, en die hele optrede op daai befaamde Julie-aand in 1965 kan ook gesien word, met insiggewende kommentaar en vertolkings. 

Dis sterk te betwyfel of mense wat nie gesoute en deurwinterde Dylan-aanhangers is nie, hierdie DVD sal geniet. Maar saam met DA Pennebaker se dokumentêre prent Don’t Look Back oor Dylan se 1965-konserttoer na Engeland, wat vroeër vanjaar uitgereik is, bied The Other Side of the Mirror ‘n besonderse blik op belangrike fases in die loopbaan van een van die heel grootste geeste in die musiekwêreld. Ek vat hierdie twee DVD’s beslis eendag saam ouetehuis toe. Die res van die paneel stem saam. Is dit nie wonderlik dat daar nog sulke eensgesindheid kan bestaan nie? Vreemd …

 
 
Valiant Swart en Ollie Viljoen

Daar was ‘n hele paar hoogtepunte op die Afrikaanse musiektoneel vanjaar, en Valiant Swart en Ollie Viljoen se CD Vuur & Vlam was een daarvan. As ‘n ekstra spesiale kersie op die koek, en om die lekkerte van dié projek deeglik in te vryf, is dié DVD pas uitgereik.

Die DVD is ‘n dokumentêre film deur Otis Fink. Daar word nêrens gesê wie die enigmatiese mnr Fink is nie, maar hy het hier ‘n dokumentêre film gelewer wat ‘n mens laat hoop dis die eerste van vele, want die man ken sy storie. Mnr Fink is uitsonderlik flink. Hy het sy handlangers ook flink gekies: Neil Sandilands as regisseur en Albert du Plessis en Johan Badenhorst as uitvoerende regisseurs.

Luidens die persverklaring is meer as 100 uur se filmmateriaal tot 90 minute geredigeer en is die DVD tegelykertyd ‘n kultuurhistoriese dokument en vermaak met ‘n storielyn. Dis boeiend om te sien hoe Viljoen en Swart saamwerk, en hoe die idees vir liedjies kreatief ontgin en verder ontwikkel word tot die eindproduk.

Die atmosfeer van die enigmatiese mnr Fink se film is deurgaans warm en sy aanvoeling vir visuele afwisseling, verskeidenheid en jukstaposisie is van die boonste rak. Die gesprekke met Viljoen en Swart, en ook tussen hulle, dra by tot die gevoel van warmte en menslikheid wat uit hierdie DVD straal.

As kultuurhistoriese dokument is dit ‘n baie belangrike uitreiking, beklemtoon die Sound Bites-paneellid Tom Blom, en almal stem saam. Die soektog na die "roots" van musiek bly altyd interessant en dit is verblydend dat daar mense is wat dit met soveel passie doen soos Viljoen en Swart. Swart praat insiggewend en intelligent oor die wanpersepsies oor boeremusiek en hoe dit verkeerdelik as “kommin” geëtiketteer is (waarskynlik deur die intellektuele snobs en polities korrektes) en mense kan gerus kennis neem van wat hy sê.

Dit is ook ‘n vreugde om soveel briljante musikante in aksie te sien, soos onder andere die violis Wynand Davel, die tromspeler Barry van Zyl en die mondfluitjiespeler Dave Ferguson, om van die meesterlike Ollie Viljoen nie eers tre praat nie. Al die vroulike paneellede en twee van die mans dink ook Valiant is die oulikste en mees opvreetbare dingetjie op aarde en hulle hoop sy vrou koester hom soos die stukkie goud wat hy is.

Almal op die paneel stem saam: As jy lief is vir Afrikaans, is dit noodsaaklik dat jy hierdie DVD sien.

 
 
Chris Chameleon

‘n Mens hoef nie al die lofsange oor Chameleon te herhaal nie, jy hoef dit bloot te beaam en te bevestig en jouself byna nat te maak van vreugde as jy na ‘n lekker DVD soos dié kyk. Ons versufte siele hier by Sound Bites het sy Afrikaanse werk verfrissend gevind, maar toe gou daarvoor moeg word (‘n mens kan net sovéél keer na daai Jonker-vrou se bleek eksistensiële versugtinge luister). Toe het ons Boo! herontdek en na al hul ou CD’s geluister. Wat ‘n fantastiese ervaring.

Na ons beskeie, onwrikbare, weloorwoë, toegedane mening, liewe geteisterde broers en gefolterde susters en gefokte kinders, is Chameleon se musiek myle opwindender as sy Afrikaanse werk. Ontspan nou, ons sê nie sy Afrikaanse musiek is kak nie – sy Afrikaanse musiek is van die beste 20 persent wat jy in die mark kan kry, sê die paneellid Yvette de Wet, wat goed ingelig is oor die woelinge in die Afrikaanse mark.

Volkleur was natuurlik ‘n uitstaande DVD – die intieme atmosfeer en akoestiese optrede sonder ‘n orkes het die klem op Chameleon se enorme sang-, komponeer- en toonsettingstalent laat val en ‘n mens se bek laat oophang. Daarteenoor is Flight of an Extraordinary Alien ‘n skouspelagtige optrede saam met ‘n rockorkes, waarop Chameleon hoofsaaklik liedjies van sy Engelse album Shine sing. Daar is ook drie liedjies van Ek herhaal jou wat anders (en meer interessant en opwindend) klink as die oorspronklike weergawes.

Chameleon doen selfs ‘n paar sekondes lank head-bangingop “Korreltjie sand”. (Nie dat ons noodwendig head-banging aanmoedig nie, beklemtoon Yvette de Wet. Hoe jy ook al daarna kyk, sê sy, is dit maar ‘n simpel gewoonte waarvan mens die betekenis nie kan snap nie, behalwe dalk dat dit die kinders se manier is om die luise in hul hare van hul koppe afgeskud te kry.) Ook “My pop val stukkend” skop die luisteraar meer op hierdie DVD as die weergawe op Ek herhaal jou.

Dis ‘n indrukwekkende, kragtige konsert vol rou rockpassie (danksy die uitstekende orkes en hul vernuftige kitaarspeler). Daar is moeite gedoen met die visuele inkleding sodat dit nie vir die kyker na die tweede liedjie vervelig raak om die heeltyd na dieselfde soort beeld te kyk nie. Extraordinary is inderdaad die woord – nie net vir Chameleon en sy werk nie, maar ook vir die visuele aspek van die optrede.

Die bonusmateriaal is die musiekvideo’s van “Shine”, “Nothing” en “Groet”.

Daar is ook die insiggewende “Constructive Schizophrenia”, waarin Chameleon boeiend gesels oor die konsert, asook ‘n deel waarin hy vrae van sy bewonderaars beantwoord. Die vraag wat hom die langste gevat het om te beantwoord, is hoe hy van sy eiers saam met brekfis hou. Sy antwoord is baie snaaks. In hierdie dokumentêre dele besef mens opnuut hoe ‘n absolute darling Chris is, stem ons almal saam - hy het g’n primadonna-pretensies of ‘n ego so groot soos die Kimberley-gat nie.

By Boo! se konserte destyds het ‘n mens se bek ook oopgehang, want toe het Chameleon sy talente as sanger, komponis en skrywer verder heel aanskoulik gekombineer met sy talent as akteur, mimiekkunstenaar en baskitaarspeler. Die Sound Bites-paneellede Beyers Eybers en Tom Blom voel wat Chameleon se Afrikaanse musiek betref, sal hulle dit baie opwindend vind as Chameleon dit wat hy met Boo! gedoen het, voortsit – maar in Afrikaans. Ons twyfel of Chris al hierdie kak sal lees wat ons oor hom praat en skryf, maar Beyers en Tom vra hy moet dit doen. Skryf weer sulke lekker wacky, off-the-wall tunes. Pull ‘n Afrikaanse Boo! – trek weer kleurryk en kreatief aan, gaan mal met pruike en grimering en kombineer dit weer met mimiek en toneel – en as hy die Afrikaanse mark daarmee tref, kan dit straks iets wees wat die betrokke mark baie nodig het. “Blaas die boere!” is die volksvreemde Beyers se mening.

‘n Mens kan maar praatjies maak soos jy wil, maar kan daarmee volstaan dat Chris Chameleon een van die mees kreatiewe en boeiende Suid-Afrikaanse musiekkunstenaars is. Hierdie DVD stel ‘n nuwe standaard vir konsertoptredes in Suid-Afrika wat verfilm word. 

 
 
Primal Scream

‘n Mens sal verskoon word as jy dink Primal Scream is klone van The Rolling Stones, maar genadiglik doen hulle ‘n goeie job daarvan. Dis lekker rof en onbeskof, balle teen die walle, sopkop en lippe op die klippe. So, as jy lus is vir ‘n lekker rou, hardegat rock-ervaring, sal hierdie DVD jou baie genoegdoening bied.

Die DVD bevat ‘n hele konsert, asook 13 musiekvideo’s van hul grootste treffers. Die meeste van die konsertliedjies is van hul laaste CD, Riot City Blues, maar in die konsert en ook onder die musiekvideo’s is heelwat van hul ouer treffers, soos die bykans klassieke “Rocks”. As deel van die bonusmateriaal is daar ook ‘n onderhoud met die sanger Bobby Gillespie. En dis altyd interessant om te hoor hoe sulke oënskynlike uitvaagsels se koppe werk.

Al die mans op die paneel is mal oor die DVD, en van die vroue hou net Jana-Mariana en Alice daarvan. Hoe dit ook al mag sy: daar heers eenstemmigheid daaroor dat hierdie DVD waarde vir geld is, maar helaas nie onmisbaar nie.

 
R.E.M.

Jy kry nie net die DVD met die konsert waar R.E.M. al hul grootste treffers sing nie (altesame 22), maar ook ‘n CD met die einste konsert daarop. ‘n Mens wonder hoekom. Nie een van die paneellede het ‘n verklaring hiervoor nie.

Hier is niks uitspattig en bombasties nie en Alice Ellis en Tom Blom meen selfs dis als visueel baie vervelig en dat hulle eerder na die oorspronklike ateljee-opnames van die liedjies sal luister as om na die konsertweergawes te luister en te kyk. Die res van die paneel is ou geswore R.E.M.-aanhangers en het dit ‘n genotvolle ervaring gevind.

R.E.M. se sanger, Michael Stipe, is ‘n boeiende figuur met sy grimering wat hom laat lyk soos ‘n spook wat uit die graf steier. Met tye – of selfs meestal – is daar ook ‘n verskriklike hartseer uitdrukking op sy gesig. Almal op die paneel is mal oor sy sing en oor R.E.M. se liedjies, maar dis tog asof daar ‘n gevoel van teleurstelling was, ondanks die feit dat die DVD geniet is. Vermoedelik sal net aanhangers hierdie DVD van waarde vind. Daar is genoeg ander, en beter, DVD’s op die mark waarop ‘n mens eerder jou geld kan blaas. Nie sleg nie, maar nou ook nie juis iets wat jou kop oopskop nie. Een van daai tussen-die-boom-en-die-bas DVD’s.

 
 
Jan Blohm
Live at the Performer

Dié DVD is ook deur die flink en enigmatiese mnr Otis Fink vervaardig. Soos op Ollie Viljoen en Valiant Swart se DVD, is hier oorvloedige bewyse dat die enigmatiese mnr Fink oor die uitsonderlike vermoë beskik om die presiese aanvoeling vir ‘n spesifieke kunstenaar se eiesoortige ingesteldheid, talent en karakter te openbaar en weet hoe om dit visueel te vertaal, so to speak.

Die konsert bevat die liedjies van Blohm se derde CD, Groen trui. Al is die kykpaneel dit absoluut eens dat Blohm een van die beter Afrikaanse kunstenaars is, was daar ‘n paar ander menings.

Almal was beïndruk met die manier waarop die enigmatiese mnr Fink met die intrapslag atmosfeer skep en dit deurgaans volhou deur middel van subtiele beligting en deurdagte invalshoeke. Op die verhoog is Blohm ‘n broeiende, intense teenwoordigheid – dalk die naaste wat iemand in Afrikaans aan Bruce Springsteen kom, sê Alice Ellis. Sy en Jana-Mariana Human dóód oor Jan – hulle sê daardie moerse nuwe tatoe op sy regterarm is hulle doodsteek. Hulle swymel oor Jan die sekssimbool, en kan dus nie objektief oordeel nie, het Beyers en Tom beswaar gemaak.

Die paneellede Yvette de Wet en Fritz Brits is egter bekommerd oor Blohm se stem. Hulle sê as hy probeer om soos ‘n mengsel tussen Janis Joplin en Tom Waits te klink, kan hulle nie sy woorde hoor nie. (Dit het later geblyk ‘n algemene probleem onder die paneellede te wees.) As Blohm normaalweg sing, het hy ‘n pragtige stem, beklemtoon Yvette; daar is ‘n heesheid in wat sy baie sexy vind. Fritz sê as Blohm so skree en sy stembande soos ‘n derm ryg, klink dit of hy ‘n geweldig groot pyn iewers op ‘n ongemaklike plek het.

Daar is groot waardering vir Blohm se talent as liedjieskrywer, en die paneel is dit eens dat Blohm ‘n kreatiewe kroonprins is. Die aanwending van Engfrikaans het egter vir die helfte van die paneellede irriterend begin raak: volgens hulle is dit ‘n affektasie en derhalwe pretensieus. (Hulle sê ook “Breyten se brief” – wat nie hier gehoor kan word nie – is so ‘n mooi liedjie, maar word bederf en ondermyn deur die onnadenkende vermenging van Afrikaans en Engels. Engfrikaans is lankal nie meer cool nie, seuns en dogters, sê tannie Alice.)

Terug na die DVD: goeie produksie, lekker musiek, knap musikante, en lirieke wat diepte het en nie ‘n oppervlakkige getjommel is nie. Dis kort en kragtig: dit bevat net die konsert (tien liedjies), die musiekvideo van “Groen Trui”, en die TV-advertensie vir die CD (nugter weet hoekom dit hier ingesluit is). ‘n Mens word so bederf deur dokumentêre materiaal op ander DVD’s dat jy dit mis op Blohm s’n: ‘n kykie agter die skerms en ‘n diepte-onderhoud sou ‘n gawe idee gewees het. Maar toemaar, maan tannie Alice ons – miskien volgende keer.

 

Snotkop
Springlewendig

Oor hierdie DVD was daar hewige verskille en argumente onder ons rowwe ou spulletjie hier by Sound Bites.

Dis net tiete en boude en koketterige terte waar jy kyk, sê Tom, Fritz en Beyers opgewonde. Hul oë het byna uitgepeul. Daar is selfs ‘n liedjie met die naam “Pale toe” waarop daar paaldanse gedoen word dat die danseressies se wikkelende sterte skoon silwer gevryf word. Daai paal moes lanklaas so lekker gekry het, meen hulle.

Daar is ‘n karnavaleske atmosfeer wat aangenaam en kleurryk is, sê Alice. En HOPE energie. Dis soos vaudeville gemeng met ‘n sirkus en teater van die absurde alles deurmekaargeroer, sê sy. Sy het wel voorbehoude oor die “morele waardes” wat die DVD propageer – daar is byvoorbeeld ‘n toneel in een van die musiekvideo’s waarin ‘n hele hoop warm en oënskynlik erg bronstige meisies op Snotkop sit. Propageer hy groepseks? vra sy. Is soveel dekadensie werklik nodig?

Die manne op die paneel vind die dekadensie juis weer prikkelend. Volgens hulle is dit baie goed dat daar iets in Afrikaans is wat die grense en perke van welvoeglikheid uitdagend oorsteek. Hoekom moet alles dan tog altyd so koekerig en stemmig wees? Hoekom moet daar altyd ‘n sluier oor seksualiteit getrek word?

Wat die musiek self betref, was daar ook hewige meningsverskille. Almal op die paneel het baie gehou van Snotkop se vorige inkarnasie, Lekgoa. ‘n Hele paar van hulle hou dan ook baie meer van Lekgoa se musiek as Snotkop s’n. Van die liedjies is direk vertaal – Beastie Boys se “Fight for Your Right” word byvoorbeeld “Veg vir jou reg”. En daar word nie eers erkenning aan die oorspronklike komponiste op die DVD-omslag gegee nie. “Ek laaik jou baby” is ‘n Afrikaanse “Can’t get you off of my mind”, en driekwart van die paneel is seker dat “Ons sal dit nie vat nie” ‘n verafrikaansing van een of ander Engelse liedjie is. Word Afrikaans só gedien? vra die immer puntenerige en keurige Yvette de Wet. Waar is die skeppende kreatiwiteit dan? Hoekom van elders leen en nie jou eie ding doen nie? Hoe eg is die verset dan werklik? Of het Snotkop net ‘n gaping in die mark gesien en is die protes ook net ‘n affektasie? Vir hulle is Snotkop se aanslag en beeld te gefabriseer en aangeplak, hoewel nie almal met hulle saamstem nie.

Daar is wel waardering uitgespreek vir die lekker stewige rockklank en Mark Khan se produksie. Snotkop se weergawe van “Loslap” is die beste van almal wat reeds bestaan. Die dames en twee here op die paneel is dit eens dat Snotkop geweldig sexy en sjarmant is. Twee dames vind dit seksisties dat daar net skamelgeklede vroue op die verhoog is en nie mans ook nie. Hulle vind dit besonder chauvinisties en onaanvaarbaar en sê vroue word goedkoop gemaak deur hulle tot sulke blote seksobjekte te reduseer.

Fritz Brits meen mens moet tog nie so filosofies raak en alles analiseer nie. Die DVD is kennelik daarop gemik om net vermaak te bied en nie diepsinnige kuns vir die meer verhewe siele onder ons nie. As vermaak is dit vol in die kol en die bruisende jeugdige energie is verkwikkend.

Wie om te glo? Kyk maar en besluit self.

Daar is sowat 16 liedjies, asook drie musiekvideo’s en ekstras, soos ‘n kykie agter die skerms wanneer Snotkop op toer is, asook ‘n sogenaamde “Snotcam” met verdere dokumentêre materiaal.

 
Klopjag
Aardklop 2007

Uit ‘n tegniese oogpunt moet die vervaardigers van hierdie DVD gelukgewens word met die hoogstaande gehalte daarvan. Die klank- en visuele aanbod is uiters goed en professioneel. Dit is duidelik dat daar baie moeite gedoen is met die produksie.

Klopjag het nie verwag dat hewige reën (wat twee dae lank geduur het) sou uitbreek juis toe hulle dié DVD moes opneem nie. Nietemin het hulle deurgedruk, en dit bied ekstra atmosfeer. As so baie aanhangers in die reën bly staan om na so ‘n lang konsert te luister, is dit duidelik dat die groep ‘n groot en sterk aanhang het.

Wat in Klopjag se guns tel, is hul totale pretensieloosheid en oënskynlike alledaagsheid. Hulle blyk net ‘n klomp lekker, doodgewone mense te wees wat nie dink die son skyn by hul agterente uit net omdat hulle sterre is nie.

Dit kom ook deur in hul musiek. Daar is niks wat die gevoel van egtheid kan klop nie, en selfs die drie lede van die paneel wat nie aanhangers van Klopjag is nie, stem daarmee saam. Vir hulle is Klopjag se musiek ietwat flou en gemiddeld en kan hulle ‘n bietjie meer avontuurlustig raak, maar dit het die res nie gepla nie.

‘n Onmisbare DVD vir elke volbloed-Klopjag-aanhanger, en blootstelling daaraan sal nie-aanhangers darem ook nie aan die slaap laat raak nie. Klopjag het moeite gedoen om waarde vir geld te bied: altesame 19 liedjies op die konsert (waaronder vier nuwes), ‘n dokumentêr oor hul toer na Engeland en een oor hul besoeke aan Graaff-Reinet en Beaufort-Wes, asook ‘n fotogalery.

Klopjag kan trots wees op hierdie DVD en dit is ‘n waardige viering van hul pad in die Afrikaanse musiekwêreld tot dusver.

 

Kykpaneel: Beyers Eybers, Tom Blom, Jana-Mariana Human, Yvette de Wet, Alice Ellis, Fritz Brits en Theunis Engelbrecht.

Sameroeper en notuleerder: Theunis Engelbrecht