Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Rubrieke | Columns > Johann Rossouw se nuusbrief uit Taiwan

Dis tyd vir groet


Johann Rossouw - 2006-09-08

Stap saam met Johann Rossouw deur sy lewe. Hy vertel opreg en ontroerend. Dalk herken jy jouself en skep jy moed!

In Prediker in die Bybel staan dat daar ‘n tyd is vir alles – ’n tyd vir blydskap en ‘n tyd van smart, ‘n tyd van oorlog en ‘n tyd van vrede, en so meer. In elkeen se lewe kom daar ‘n tyd van groet – ’n hallo-groet en ‘n totsiens-groet. Daar is verskillende maniere waarop mense groet. Afrikaanse families soen mekaar, gee stywe drukke of stewige handdrukke. Die Taiwannese knik kop of gee ‘n ligte buiging. Op welke wyse ook, mense groet mekaar elke dag. Dis ‘n wyse waarop ons erkenning gee dat jy ‘n ander persoon respekteer of eer.

In 2005 was dit ook my tyd vir groet. Nee, nie vir Taiwan nie, maar iemand baie, baie naby aan my. Iemand baie spesiaal in my lewe. Hoe doen ek dit? Wat sê mens? Hoe sê mens werklik totsiens? Ek het so baie dinge reg gehad om te sê. Maar wat sê jy oor iemand wat jou lewe so baie beïnvloed het? Waar begin jy?

Seker maar by jou beginjare.

In standerd vier het ek besef ek is anders as ander seuns, want, sien, ek het van seuns gehou soos jy van dogters moet hou. Ek was met meisies “gekys”, maar dis die seuns wat my seksueel aangestaan het. Ek het uitgevind hoe dit voel om met jouself te speel. Later kon ek dit nie meer onthou nie.

In November 2005 kon ek dit weer onthou asof dit gister was. Op ‘n stukkie blou skryfblokpapier in my twaalfjarige handskrif: “Mamma daar is iets wat ek Mamma wil vertel, maar ek weet nie hoe om dit te sê nie. Ek dink ek is anders as ander seuns.” Wel, hoe anders? “Anders, Mamma, want ek hou van seuns en nie werklik van meisies nie.” Kort daarna een middag ná skool het ek moed bymekaar geskraap en die brief onder my ma se kopkussing ingedruk. Ek was so bang.

My ma het niks geantwoord nie. Ek het ‘n boek onder my kopkussing gekry: Wat elke seun moet weet. Die inskripsie daarin kan ek nie onthou nie, maar ek onthou die boek baie goed. Ek is deur die boek as homoseksueel aangewys. ‘n Etiket (nes op ‘n fokken bottel)! ‘n Etiket wat ek vir die res van my lewe moes saamdra. Ek het die boek met aandagtigheid deurgelees. Die bladsye wat van homoseksualiteit gepraat het, se hoeke het ek omgevou “for further reference”. My ma het toe al vermoed. Ons het aangegaan met ons lewens. As mens stilbly, gaan dit mos weg, gaan dit verdwyn. Nie waar nie? Yes, sure!

Ná skool was dit universiteit. Het in hierdie tyd met nog geen man seksuele omgang gehad nie, dus ‘n maagd in die volle sin van gay wees. Met vroue, ja, met mans, nee. Dis hoe dit mos hoort, aldus vir die grootste persentasie van die samelewing. Swyg het nie gehelp nie; dit het nie weggaan nie. Dit het bly kleef soos ‘n chromosoom diep binne jou DNS, soos ‘n sel in jou binneste. Dit gaan nie weg nie! Dit kan nie chirurgies verwyder word nie. Dit bly! Ek is ook hier om te bly, ja, gay en trots daarop. Op universiteit was daar baie geleenthede, maar ek het maar weggebly daarvan af. Ek mag my nie met die gays meng nie. Ek kón nie. Hoe dan nou? Ek swot vir dominee. Nee, komaan, nooit gesien nie. Dis boos en boonop sonde (volgens die Bybel en die Kerk). Wat nou? Hier sit ek, so lus soos tien, en ek mag niks daaraan doen nie. Ek mag myself nie aan die wellus van die vlees oorgee nie, ek mag nie, ek kan nie! Wat gaan die mense sê? Wat gaan my ma sê? As die ander daarvan uitvind – o, die skande!

Soos ‘n vlymskerp mes sny dit. Dit sny dieper, dit trek bloed. Dis hoe seer dit is. Dertig slaappille vat dit nie weg nie, koolstofmonoksied wil ook nie werk nie. Ses keer se probeer, niks werk nie. Niks vat die seer weg nie. Dit kom terug! Ek wil nie, ek wil nie! Genade, help my asseblief, Here, ek wil nie gay wees nie. Ek is moeg om skaam te wees vir wie ek is, ek is skaam om teenoor ander te erken dat ek ‘n moffie is. Ek meen, my familie is welgestelde, gesiene mense van die gemeenskap. Dit sal ‘n golwing deur die gemeenskap stuur indien iemand sou uitvind. Hoe anders, bly stil dat dit sal weggaan. Ek wil totsiens sê, maar ek kan nie. Hoe kan ek totsiens sê aan iets wat nie wil weggaan nie? Hoe sê ek totsiens aan iets wat eie aan my is, wat my maak wie ek is? Niks wil help nie; dit bly net terugkom.

Finale jaar. Die einde van sewe jaar se swot lê en wag om die draai. Sewe jaar van hel, sewe jaar van harde werk. Nog net ses weke oor, dan is die einde in sig. Ek het ‘n wonderlike vrou ontmoet. Ek gaan haar binne ‘n week vra om met my te trou. Ek en sy is albei baie gelukkig. Ek kon nie vir ‘n beter vrou vra nie. Sy sal ‘n goeie predikantsvrou uitmaak. ‘n Aanwins vir enige pastorie en gemeente. Sy is werklik ‘n wonderlike mens. Iemand met wie ek my lewe wil deel. My verhandeling is klaar, gebind en al in die universiteitsbiblioteek. Ek is die sterstudent van die kerk. Die kerk se “golden boy”. Die kerk se beste: geeneen kon al sewe en dertig onderskeidings in die geskiedenis van die kerk behaal nie. Ek is op ‘n troontjie geplaas. Op vyf en twintig die kerk se prototipe, reg om binne die volgende paar jaar die nuwe administrateur van die kerk te wees. Ek het alles gehad. Kerkrade het met vliegtuie aangevlieg, net om my te hoor preek. Ek kon kies en keur waar ek wou predikant wees. Met vyf en vyftig beroepe, die eerste en enigste proponent wat so baie beroepe gehad het in die kerk se geskiedenis.

Die wêreld was aan my voete; ek was die “koning”. Ek moes groet. Hoe dan anders? My ma was so trots op my. Ek kan nog haar woorde aan my onthou: “My kind, ek het vertroue in jou en die Here wat jou op hierdie punt gebring het.” Waar het die Here my gebring? Waar? As ‘n prototipe? As die golden boy van die Kerk? Was dit dít? Was dit die begin van die klim? Die klim op my “leertjie” na die hemelse poorte? Beter kon dit nie gaan nie. Ek was op die hoofweg, sonder enige probleme.

Ligte, musiek, aantreklike mans. Lekker techno, strobe lights, mirror ball. Die val van die magtige “EK”. Ek het geval. Van my troontjie afgeval. Ek het my asem uitgeval. My leertjie stukkend, verbrokkel, in duisende klein stukkies, en dit alles het in ‘n gayklub gebeur. Baie vinnig. My kop het ge-“spin” – so vinnig en alles was verby. Soos ‘n tornado wat ‘n magtige stad op “sy” knieë het. Ek was op my knieë, ek het niks maar niks van my “koninkryk” oorgehad nie. Almal het klippe opgetel. Hulle het gegooi. Sommiges darem nie te hard nie, maar die meeste het rotse gegooi. Die bloed het oor my voorkop geloop. Druppels het op die grond geval soos water, rooi water. My ma het met ‘n lap die bloed afgevee. Dit het strepe oor my hele gesig gelos. My gesig was rooi – rooi van die bloed en rooi van die skaamte. Die Kerk het uitgevind; ek was verpletter! Hoe kon dit met my gebeur? Ek moes totsiens sê en aanbeweeg. Waarheen nou? Ek het by my ma gaan bly. Sy het my gehelp om weer op my bene te kom. Ek het opgestaan, met my ma se hulp die mense weer in die oë gekyk en aangegaan. Met haar hulp kon ek aangaan. Weet nie wat ek sonder haar sou gedoen het nie. Wat sou ek?

Dit het goed gegaan met my. Tot 2002. “Julle is almal geretrench," het ek my baas hoor sê. Die maatskappy maak toe. Ons het ‘n maand om vir ons ander werk te kry. Weer ‘n keer het ek geval. Weer eens het my ma my gehelp om op te staan. Hierdie keer nie omdat ek gay was nie, maar oor die ekonomie. Wat gaan ek doen? Hier staan ek weer voor ‘n geslote deur. Ek weet nie meer watter kant toe nie. Binne ‘n paar dae kry ek ‘n nuwe betrekking, maar my salaris is nou vyf keer minder as waaraan ek gewoond was. Ek sal iets moet doen! Ek doen aansoek vir ander werk, maar dit gaan maar moeilik. Dis regstellende aksie nou.

Ek was besig op die net, toe ek die advertensie van onderwysers in Taiwan raaksien. Net daar, vier dae ná Kersfees 2002, doen ek aansoek by ongeveer vyftien skole in Taiwan, vyf in China en vyf in Korea. Net ná Nuwejaarsdag het dertien skole in Taiwan, al vyf skole in China en vier in Korea my aansoek goedgekeur. Almal wou hê ek moes nou op die nippertjie daarheen gaan. Daar was omtrént ‘n groot verskeidenheid om van te kies. Die keuses was so moeilik. Ek besluit toe op een. Op 5 Januarie 2003 doen ek my finale aansoek. Ek moet nog ‘n paspoort kry, vliegkaartjie koop en alles reël. Ek vertel die nuus aan my familie. Almal is geskok. My ma bars in trane uit. "Dis te ver," sê sy, "omtrent halfpad om die aarde." Tot in hierdie stadium was ek nog nooit ‘n dag buite die landsgrense van Suid-Afrika nie (as mens nie Bophuthatswana tel nie).

Ek onthou die aand voordat ek gevlieg het: 11 Februarie 2003. My ma lees vir my uit die Bybel en bid vir my. Sy huil só dat sy skaars kan praat. Ek voel die knop in my keel. Ek weet dis moeilik, maar wat kan ek doen? Sy smeek my om asseblief my planne te verander. Maar ek kan nie nou kop uittrek nie. Alles is al klaar gedoen, beplan en gereël. Ek kan mos nie nou omdraai nie. Vir die soveelste keer staan ek weer voor ‘n toe deur. Ek moet net hier deurkom, anders sal ek nie in Suid-Afrika kan oorleef nie. Ek het nie juis veel van ‘n keuse nie. Sommige mense sal sê ek’s ‘n landsverraaier, ‘n hensopper; ek noem dit ‘n noodgedwonge besluit. Dis nie so maklik nie, mense, glo my. Om alles waarvoor jy lief is, net so te los, op ‘n vliegtuig te klim en 13 000 km verder af te klim in ‘n vreemde land. Dink weer of jy dit sal kan doen. Ek vlug nie!

Elf maande later kuier ek in Suid-Afrika. Soveel dinge het al met my gebeur. Soveel veranderinge. Ek het “grootgeword” in Taiwan: ek het nou uiteindelik besef wat die lewe is. Ek kuier vier weke lank by my ma. Ons gesels elke oggend tot eenuur. Ons kuier so lekker, soos ons nog nooit werklik gekuier het nie.

Ek moet later weer totsiens sê. Klim alweer op die vliegtuig, terug Taiwan toe.

My tweede jaar in Taiwan is beter, maar nou verlang ek meer na my familie as ooit tevore. Almal sê dit gebeur. Wanneer jy eers huis toe was en dan weer terugkom, verlang jy baie. Dis asof ek vir die eerste keer weggaan; die verlange is erg. Ek verlang na almal in Suid-Afrika, veral die mense naby aan my.

Nog ‘n jaar gaan verby. Dis Februarie 2005. In November 2003 het my ma siek geword. Sy het begin kla van pyn op haar maag. Almal raai haar aan om dokter toe te gaan. ’n Paar weke later begin sy diarree ontwikkel. Toe ek haar in 2004 gesien het, was sy maer. Nou, in Februarie, is sy nog maerder as ooit. Sy weeg nou skaars 35 kg. Sy het nie eers energie om haar eie bed op te maak nie. Terwyl ek daar kuier, help ek haar met alles. My sus help haar om te bad. My sus is elke dag daar om haar te help. Sy bring kos wanneer ek nie daar is nie, help haar bad, help haar aantrek, help haar basies met alles. My hel het begin! Hier lê jou ma, nagenoeg hulpeloos, en jy weet jy kan haar net tot hiertoe help. Jy sien hoe die persoon wat vir jou so baie beteken in die lewe, elke dag 'n bietjie "sterf". Dit breek jou! Dit tel jou op soos ‘n tornado, neem jou hoog op in die lug. Jy is geskok, jy voel naar, jou kop draai en dan, met ‘n moerse slag, gooi dit jou teen die grond. Jy proe die bloed, die stof, jy voel hoe alles in jou verpletter is. Jy voel magteloos, verlore. Jy weet nie hoe jy werklik kan help nie. Wat doen jy? Hoe kan jy help? Dis sleg, baie sleg. Jy voel asof jy jou ma verwaarloos, asof die res van die familie jou aankyk en sê: “Ja, jy klim môre op die vliegtuig en kan hiervan 'vergeet'. Dis nie nodig vir jou om elke dag te sien hoe jou geliefde moeder stadig sterf nie. Jy’s so fokken gelukkig!!”

Werklik? Werklik?! Is ek gelukkig om dit nie te aanskou nie? Julle sal nooit verstaan hoe jou binneste voel nie. Hoe kan julle? Julle almal dink dis so “glamorous” om oorsee te bly en te werk. Wel, dit is nie! Ek sal al die geld in die lewe verruil om elke dag saam met my ma te spandeer, want, glo vir my, om na my ma om te sien, is vir my die grootste eer. Gelukkig?! Hoe is ek gelukkig? Hel, man, my ma is besig om te sterf en ek sou wat wou gee om net een sekonde langer met haar te kon spandeer. Ag, Here, wat ek nie sou doen nie! U weet self. Hoe baie ek gebid het, gesmeek het. Ek kon nie in Suid-Afrika bly nie.

Ek het my kuier langer gemaak. Ses weke het agt weke geword. Ek móés terug, ek kon nie anders nie.

In Junie 2005 trek my ma basies by my sus in. Dit gaan slegter met haar. Sy kan omtrent nie van die bed af beweeg nie. Ek ly aan slapeloosheid, stres en depressie. My sus sê alles is onder beheer, dis nie nodig dat ek my moet worry nie. Dit gaan beter. Ek voel beter; ek weet dit sal beter gaan. My ma kry nou doktersbehandeling en sterk aan. Ek voel beter. Ek begin weer slaap, die stres is minder en my depressie word beter. Die eerste keer in maande voel ek beter. Dis so snaaks, ek voel verlig, dis asof ‘n gewig van my skouers afgelig is. Dit gaan beter met haar, sy het meer krag. Ai, ek dank die Vader elke dag, want dis so baie om te hanteer. Wat maak ‘n mens as jy so ver bly? Ek is so dankbaar dat dit soveel beter gaan. Dis asof die lewe nuwe betekenis kry.

So gaan die maande verby. In November beleef sy ‘n terugslag. My ma beland in die hospitaal; sy kry goeie behandeling.

Dis Dinsdagaand 8 November 2005 in Taiwan. Dis net ná elf. Ek bel my broer op sy selfoon en praat met my ma. Sy sê dat dit goed gaan en dat sy Woensdag uit die hospitaal kom. Hulle het so baie toetse op haar gedoen. Sy’s moeg en tog te bly om huis toe te gaan. Hulle vind niks fout met haar nie. Alles lyk normaal. Aldus my ma. My sus sê egter die dokter wil met haar praat. Hy wil nie vir haar sê wat dit is nie.

Woensdagaand 11.45 kry ek ‘n SMS van my broer af: bel my asseblief. Ek bel hom en toe die nuus: my ma is die oggend van die 9de stil in haar slaap oorlede.

Wat doen mens as jy hierdie nuus kry? Wat doen mens?

Stil vlieg die vliegtuig oor die Indiese Oseaan. Sommige Suid-Afrikaners gaan huis toe ná ‘n lekker toer in Hongkong. Baie passasiers lyk opgeruimd. Ek sê niks, tuur na die TV-skermpie voor my met net een vraag: Hoe op dees aarde sê ek totsiens? Ek het nie tyd gehad nie.

Dus sê ek nou totsiens, my liewe ma. Ek is so oneindig dankbaar vir alles. Totsiens, Mams. Wees gerus, dit gaan goed, alhoewel die seer net nie wil weggaan nie, altans, nie op die oomblik nie. Dis so rou en seer.