Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Fiksie | Fiction

Geliefde ...


Nandi Venter - 2006-09-08

Ek pen gedagtes neer wat jou nooit sal bereik nie, want jy is te ver weg op jou eie Via Dolorosa.

Ek wens ek kon sê dat “ek en jy” nooit gebeur het nie, wens dat ek jou nooit ontmoet het nie, maar ek kan nie. Ek wil jou haat met my hele hart, maar ek het nie die moed nie. Jy het my onherstelbaar seergemaak. Die seer bly altyd sluimer en slaan met tye in bloedkolle deur my vel, want soms is treurende snye die enigste teken van lewe.

Dit is jy wat in die nagte by my spook, dit is jy wat my wese deurkruis en my nie wil uitlos nie. En dit gaan nie eers daaroor dat ek nie meer van jou hou nie. Dit is omdat jy in elke verwerping van elke ander mens vir my oogknip. Dit is omdat jy my pootjie elke keer dat ek probeer om goed oor myself te voel.

Jy maak jou verskyning elke keer wanneer ek iemand soen en fluister dan dat ek nie goed genoeg is vir daardie persoon nie. Daarom is ek verspot pateties as dit kom by verhoudings. Ek wil jou haat, Geliefde, ek wil jou haat vir die liefde wat jy soos ‘n vrot stuk vleis teruggegooi het in my gesig. Al die dae en nagte wat ek omgehuil het oor jou, en jy’t my nooit iets teruggegee nie, behalwe dat ek myself meer haat.

Jy het my argeloos afgebreek en stukke van my legkaart weggegooi en saam met jou gevat. Onherstelbaar. Niemand wil ‘n legkaart hê met stukke wat weg is nie; almal wil die volledige prentjie hê.

Miskien was jy die duiwel self wat in die vorm van ‘n mens aarde toe gekom het om my te kom vernietig. Die antichris. En het jy jouself nie ten volle geniet nie? Geseëvier op my verdriet en nou teer jy op my haat? Jou sadistiese manier van lewe het ‘n teer senuweepunt geraak.

Ek wil jou haat, maar ek kan nie, want ek sien die klein dogtertjie in jou vir wie niemand gesorg het nie. Die kind wat moes veg en vlug op elke terrein van jou klein lewetjie. Wat altyd bang moes gaan wegkruip net sodat jou broer jou nie moes kry nie. Maar hy het altyd, altyd. En niemand wou hoor nie, niemand wou help nie. Wie gee om? So is jou lewe skeefgetrek van kleins af en nou is jou boom skeef gewortel en niemand kan dit regbuig nie.

Ek wil jou haat, maar ek kan nie. Ek sien die bang klein dogtertjie in al jou seermaakwoorde, in elke blik wat jy my gegee het. Wanneer jy jou oë klein getrek het om te wys hoe jy my haat, het ek die klein dogtertjie sien wegkruip. Daarom huil ek. Daarom treur ek oor jou elke dag, want ek het ook ‘n klein dogtertjie in my. ‘n Klein dogtertjie wat te bang is om te huil, omdat dit te seer is, en omdat sy moet braaf wees vir die ander. Ek moes ook grootword voordat ek moes. Toe ander kinders nog gespeel het, was ek ook die een wat al klaar in my binneste gehuil het oor die malle gejaag na wind.

Die dogtertjie in my wou so graag net maats maak met die kleintjie in jou hart. Hulle het op ‘n stadium by mekaar uitgekom en handjies vasgehou terwyl hul langs ‘n veldpaadjie stap, maar toe het ‘n wolf hulle weer uitmekaar gejaag. Daarna het jou kleintjie myne met klippe gegooi en geskree: "Ek haat jou, gaan weg van my af, ek wil jou nooit weer sien nie!"

My klein dogtertjie het van toe af net stiller geword en met ‘n bleek gesiggie in ‘n hoekie gesit en wieg en toe weer net verdwyn na ‘n donker plek toe waar ek haar nie kon uitkry nie. Miskien het die dogtertjie in jou myne doodgemaak. Sy is dood, en ek is dood. Jou baarmoeder is ‘n graf. My graf is ‘n baarmoeder.