Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

'n Volhoubare plek vir Afrikaans


Frederik Van Zyl Slabbert - 2006-09-06

’n Paar kantopmerkings oor die sosiale konteks van die vraagstelling

1. Die nasionale politieke klimaat word op die oomblik aan die een kant oorheers deur die interne spanninge binne die ANC rondom alliansiekonsensus, leierskapsoorgang en sentralisasie vs desentralisasie van besluitneming, en aan die ander kant, op internasionale vlak, deur Suid-Afrika se staanplek in Afrika, byvoorbeeld NEPAD, die AU ensovoorts, en ons rol, of gebrek daarvan, rondom Zimbabwe, Vigs edm.

2. Gegee hierdie nasionale en internasionale klimaat word die meeste van die inisiatiewe en energie wat oor praktiese dienslewering behoort te gaan, eerder vir bg probleemareas gebruik. Gevolglik bevind ons ons in ’n staat van krisis rondom doeltreffende dienslewering op plaaslike-owerheidsvlak, soos behuising, water, elektrisiteitsvoorsiening ens, en ook op die gebied van gesondheid, regspleging, polisiëring en natuurlik onderwys. Hierdie sou in elk geval probleemareas gewees het, gegee die aard van ons oorgang.

3. Dat onderwys in ’n ernstige staat van krisis, en selfs, op sommige vlakke, disintegrasie staan, is al deur verskeie kundiges onderstreep. In die meeste gevalle is doodeenvoudige oorlewing die grootste uitdaging.

4. Dit is teen hierdie agtergrond waar taal as medium van onderrig na waarde geskat moet word. As die voertaal in onderwys nie ervaar word as ’n instrument om die uitdaging van oorlewing die hoof te bied nie, sal dit doodeenvoudig kwyn of ondergaan. Daar word hoog aangegee dat Suid-Afrika 11 amptelike tale het. Die werklike toets van die betekenis van so ’n aanspraak sal gevind word op dienslewering op primêre, sekondêre en tersiêre onderwysvlak. In dié verband vind Engels en Afrikaans as medium van onderrig hulle in ’n baie sterker posisie as die ander nege inheemse tale. Logies bekyk, sou mens verwag dat meer aandag en geld bestee sou word aan hierdie nege tale om hulle op dieselfde vlak te bring as Engels en Afrikaans as hoërfunksie-tale. Die werklikheid is egter heelwat anders.

5. Afrikaans en Engels is reeds hoërfunksie-tale; maar hulle dien as voertaal op tersiêre vlak en kan gemaklik gebruik word om wetenskap en wiskunde te doseer. Feit is egter dat Engels, vanuit owerheidsweë, reeds voorkeur geniet as voertaal vir owerheidsdepartemente, insluitende onderwys. Dit sou net gewoon onrealisties wees om te verwag dat Afrikaans as onderrigmedium op alle vlakke gelykwaardige behandeling van die staat kan verwag. Trouens, mens sou kon verwag dat die ander nege landstale eerder voorkeurbehandeling bo Afrikaans as voertaal op primêre en sekondêre vlak kan geniet. Hoekom?

6. Afrikaans as medium van onderrig ly onder die ideologiese kontaminasie van apartheid. Die feit dat die meerderheid mense wat Afrikaans as huistaal gebruik het, nie bevoorregtes was onder die vorige regime nie, maak blykbaar nie veel indruk nie. As mens kyk na die huidige spanning wat besig is om in die Wes-Kaap te ontplooi tussen die ANC en die “kleurlinge”, kan die ideologiese betrokkenheid van Afrikaans ’n heel nuwe dimensie ontwikkel wat heelwat implikasies inhou vir ’n gelykwaardige taalbeleid, veral rondom befondsing en die kweek van onderwysers wat in Afrikaans klas gee.

7. Dit is teen bg agtergrond dat mens moet kyk na die volhoubaarheid van Afrikaans op tersiêre vlak. Van die HAU is nog net Stellenbosch en Potchefstroom oor, en dit is ’n ope vraag of beide sal oorleef. Die oorlewing van Afrikaans as tersiêre onderrigtaal kan nie net van owerheidsinisiatiewe afhanklik wees nie. Daar sal buitengewone inisiatiewe vanuit die burgerlike samelewing geloods moet word. Om in hierdie situasie betrokke te raak in ’n uitgerekte en verwarrende taaldebat oor die toekoms van Afrikaans by Stellenbosch, sonder om te kyk wat gedoen kan word vir die volhoubaarheid van Afrikaans op primêre en sekondêre vlak van onderwys is doodeenvoudig kontraproduktief.

8. Maar sodra daar inisiatiewe geloods word op hierdie vlakke van onderrig, bring dit ’n mens onvermydelik in kontak met die ander nege inheemse tale en die soortgelyke probleme wat hulle ervaar. Uit die aard van die saak het diegene wat hulle beywer vir die volhoubaarheid van Afrikaans op primêre en sekondêre vlak van onderrig, nie genoegsame menslike en finansiële hulpbronne om reg te laat geskied aan al die ander nege tale nie. Maar op tersiêre vlak mag dit wel moontlik wees om iets te doen, bv Xhosa op Stellenbosch en Tswana op Potchefstroom.

9. As mens dus kyk na ’n algemene opset vir ’n volhoubare plek vir Afrikaans in die toekoms, is dit belangrik om die volgende in gedagte te hou:

a. Die volhoubaarheid van Afrikaans is nie ’n politieke of maatskaplike prioriteit vir die owerheid nie – presies die teenoorgestelde van wat dit vir dekades lank was.

b. Die volhoubaarheid van Afrikaans as onderrigtaal kan nie losgedink word van die algemene toestand van onderwys in die land nie. Dit is so dat Afrikaanssprekendes relatief beter daaraan toe is om die volhoubaarheid van Afrikaans te bevorder, bv vanweë die graad van verstedeliking en gevestigde stedelike en semistedelike gemeenskappe, maar die beskikbaarheid van personeel en geboue, asook die kwaliteit van onderrig, is sorgwekkend.

c. Daar sal spesiale inisiatiewe vanuit die burgerlike samelewing geloods moet word deur diegene wat besorg is oor die volhoubaarheid van Afrikaans.

d. Dit is kortsigtig en teenproduktief om te dink dat die volhoubaarheid van Afrikaans hoofsaaklik op tersiêre onderwysvlak bedryf kan word. Sodra egter beweeg word na primêre en sekondêre vlak, word die hele kwessie van moedertaalonderrig nie net ’n Afrikaans-probleem nie, maar ’n algemene probleem vir al die ander nege inheemse tale.

e. Op tersiêre vlak, in ag geneem die voorgaande, kan Afrikaans ’n volhoubare plek kry. Terselfdertyd moet daar gewys word dat op hierdie vlak ook belangstelling bestaan vir die bevordering van sommige van die ander nege inheemse tale.

f. Engels as voertaal ondervind geen van die probleme was sover uitgewys is nie. Op tersiêre vlak sal dit voortbestaan as medium van onderrig, hoe daar ook geworstel word om Afrikaans ’n volhoubare plek te gee.

10. Laaste vraag: Waar gaan dit wees: Stellenbosch of Potchefstroom? Kan dit miskien albei wees? Dit sal afhang van hoe die voorafgaande probleme die hoof gebied word.

 

Lesing voorgelees op die Taalberaad: 'n Volhoubare plek vir Afrikaans in die tersiêre onderwys, Stellenbosch, 1 en 2 September 2006. Aangebied as 'n gesamentlike aksie van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.