Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Theunis Engelbrecht: Sound Bites

Die musiekjaar raak net al hoe lekkerder


Theunis Engelbrecht - 2007-11-20

Daar is vandeesweek nie net een CD van die maand nie, maar sommer vyf – die nuwe uitreikings van Manu Chao, Youssou N’Dour, Neil Young, Bruce Springsteen en JJ Cale. Met Kersfees om die draai begin die CD-rakke behoorlik kreun in die musiekwinkels. Daar is te veel om van te kies, maar die vyf CD’s van die maand is ‘n goeie begin en sal jou ure se luistergenot bied.

 
Manu Chao

Baie van ons hier by Sound Bites sê as ons vir die res van ons lewens net sogenaamde World Music hoef te luister, sal ons in die sewende hemel wees (let wel, nie die laan nie). Manu Chao se musiek kan losweg onder World Music gekategoriseer word.

Die ywerige dames en here van Wikipedia wys flink, vlytig en vriendelik daarop dat Chao in Frans, Spaans, Arabies, Gallikaans, Portugees, Engels en Wolof sing – in sommige gevalle alles in één liedjie. In sy musiek is elemente te bespeur van rock, chanson, salsa, reggae, ska en Algerynse raï-musiek.

Hy is sedert die ontbinding van sy groep Mano Negra ‘n Mesoamerikaanse nomade, lees ‘n mens verder, en hy sing oor die liefde, die lewe in die ghetto’s en immigrasie. Hy het ‘n groot aanhang onder die lefties in Europa en die antiglobalisasiebeweging.

Chao se konserte met die Radio Bemba Sound System was van die mees energieke en opruiende ervarings in die musiekwêreld. La Radiolina kook oor met dieselfde intensiteit en energie. ‘n Mens hoef nie die taal te verstaan waarin hy sing nie – die musiek is goed, boeiend en vreeslik "uplifting". (Dit sou nietemin nie ‘n slegte idee gewees het om Engelse vertalings van die lirieke in die CD-boekie in te sluit nie.) 

Wat die CD ook spesiaal maak, is die puik kitaarspel deurgaans. As ‘n bonus bevat die CD ook die musiekvideo van "Rainin' in Paradise". La Radiolina is nie net een van die vyf CD’s van die maand nie, maar ook een van die top-uitreikings van die jaar. Dit stel die meeste ander uitreikings van die jaar deeglik in die skadu. ‘n Meesterstuk.

 

N’Dour is een van die mees prominente figure in die World Music-genre. ‘n Mens twyfel of dit moontlik is dat dié Senegalese sanger ooit ‘n swak album kan uitreik – daarvoor het hy te veel talent, en ‘n stem wat ‘n mens betower.

Op Rokku Mi Rokka keer hy terug na sy wortels en probeer hy nie – soos op vorige albums – in die eerste plek om sy Westerse aanhangers gelukkig te hou nie. Hy sing in die Wolof-dialek en volgens ‘n oorsese resensent klink hy soos ‘n Otis Redding uit Afrika. Gelukkig is daar Engelse vertalings van die liedjies in die CD-boekie ingesluit.

In die eerste plek is dit musiek met siel en hart. Op suiwer musikale vlak is die klank so eg Afrika as wat kan kom, met boeiende ritmes en verwerkings. Tradisionele instrumente soos die xalam, tama en marimba en kora staan hul plek vol saam met die unieke kitaarklank so eie aan Wes-Afrika, en die koperblaasseksie lewer ook ‘n stewige bydrae.

Sommige mense sal meen N’Dour-albums soos The Guide (Wommat) en Nothing’s in Vain het ‘n groter verskeidenheid bevat, maar ons sou eerder sê dis N’Dour se veelsydigheid wat sterk deurkom op Rokku Mi Rokka, al mag dit vir party luisteraars nie so toeganklik met die eerste intrapslag wees as sy vorige werk nie. Die musiek groei egter op mens, en gaandeweg het dit ‘n bykans inkantatiewe effek. Die kersie op die koek bly N’Dour se ongelooflike stem. Hy lewer oudergewoonte gehaltewerk.

 
 
Neil Young

Sjoe, wat ‘n lieflike, lieflike, lieflike album. In die November 2007-uitgawe van die musiektydskrif Uncut lees ‘n mens ‘n stel van 8 CD’s en 2 DVD’s, Archives Volume One 1963–1972, oor Young se loopbaan, sou vandeesmaand verskyn het, maar toe kom hy uit die bloute te voorskyn met Chrome Dreams II, met die gevolg dat die uitreiking van Archives tot volgende jaar uitgestel is.

‘n Mens se mond water behoorlik vir Archives, wat talle liedjies van Young gaan bevat wat nooit voorheen uitgereik is nie. Intussen bied Chrome Dreams II soveel luisterplesier dat ‘n mens nie omgee om te wag nie.

As jy nie Chrome Dreams I kan onthou nie, moenie vreesbevange raak nie: dit was die titel van ‘n onuitgereikte Young-album in 1977.

Chrome Dreams II begin heel rustig met die teer ballade "Beautiful Bluebird", met ‘n sterk country-gevoel. Moenie dat dit jou mislei en laat dink dit gee die toon aan vir die hele album nie. Op die tweede snit, "Boxcar", tel Young momentum op, en blaas jou op die derde snit, "Ordinary People", weg met ‘n baie, baie sterk liedjie wat 18 minute lank is en wat spog met fantastiese kitaarspel deur Young, ‘n koperblaasseksie van vyf musikante en uitsonderlike lirieke wat stories vertel waarin deurgedring word tot die hart van wat dit is om in vandag se wêreld ‘n mens te wees. ‘n Meesterstuk, dié lied.

Om ‘n mens te laat asem skep na dié kragtoer, is die vierde snit weer ‘n pragtige, teer ballade, "Shining Light". Op "Spirit Road" en "Dirty Old" Man raak die klank weer meer gritty, en op die veertien minuut lange "No Hidden Path" blaas Young jou weer weg met sy fenomenale kitaarspel.

Young se vermoë om woedende, intense liedjies af te wissel met delikates wat op die rand van weerloosheid huiwer, maak van hierdie album ‘n besonder geskakeerde produk. Sy stem is ook die ene hart en siel. So kort op die hakke van verlede jaar se briljante album Living With War bewys Young opnuut dat hy ‘n meester is en een van die heel groot geeste in rockmusiek.

 
 
Bruce Springsteen

Nóg ‘n groot gees en meester is Bruce Springsteen. Om binne die bestek van twee jaar drie briljante albums uit te reik, wil gedoen wees. Ná The Seeger Sessions en Live in Dublin, waarop hy met die groot, feestelike Sessions Band gewerk het, is Magic ‘n rockalbum, opgeneem saam met die E-Street Band.

Magic is ‘n baie gepaste titel, want dit is presies wat hierdie album bied. Op die eerste snit, die onweerstaanbare "Radio Nowhere", sing Springsteen: "I want a thousand guitars, I want punding drums. I want a million different voices speaking in tongues." En gaan dan voort om presies dit te bied – ‘n vol, ryk rock-klank vol skop en tekstuur. "Radio Nowhere" kan ook gelees word as verhulde kritiek op die oppervlakkige massakultuur en prefab-musiek wat deur radiostasies uitgepomp word, ‘n wêreld waarin musiek hoofsaaklik ‘n kommersiële kommoditeit geword het.

Al 12 snitte is van hoogstaande gehalte en die lirieke is uitstaande. Die sielloosheid van die postmoderne bestaan word genadeloos oopgevlek op snitte soos "Livin’ In The Future", "Last to Die" en "Devil’s Arcade". Dit word gejukstaponeer met liedjies vol weemoed oor verlore onskuld, soos "Girls in their Summer Clothes" en "Long Walk Home"; en "I’ll Work for Your Love" is maklik een van die mooiste liefdesliedjies van die jaar.

Dis wat ons betref een van Springsteen se beste rockalbums. Hy raak net al hoe beter namate hy ouer word. Hierdie CD hoort op die rak van elke ernstige musiekliefhebber. Dis ook een van die jaar se hoogtepunte.

 
 
JJ Cale

Hierdie CD bevat 14 liedjies wat tussen 1973 en 1983 opgeneem is en nog nooit voorheen uitgereik is nie – nie omdat hulle swak is nie, maar bloot omdat hulle nie destyds ingepas het by die projekte en albums waarmee Cale toe besig was nie.

Benewens komposisies van Cale self bevat dit ook sy weergawes van liedjies deur Waylon Jennings, Randy Newman, Eric Clapton, Leon Russell, Christine Lakeland en Bill Boatman.

Dis die pretensielose, "unassuming" karakter van JJ Cale se werk wat sy musiek so besonders maak. Dit is net so real. ‘n Mens kan dit selfs onder Americana klassifiseer. Sy invloed op kunstenaars soos Tom Petty en Dire Straits is ook onmiskenbaar.

Dis musiek sonder enige geskal of grootdoenerigheid. Van die eerste snit af eet jy uit Cale se hand. Dis waarskynlik juis omdat sy musiek so onderbeklemtoon is dat dit wen aan trefkrag. Rewind bied moerse baie vreugde en is nie ‘n album waarvoor ‘n mens maklik moeg kan raak nie.

 
 

Jamie Scott & The Town
Park Bench Theories

Jamie Scott is ‘n nuweling oor wie ‘n mens opgewonde kan raak. Op Wikipedia lees ‘n mens hy het kitaar en klavier begin speel toe hy sewe was. Hy het na sy ouers se klassieke albums geluister terwyl hy grootgeword het en is beïnvloed deur kunstenaars soos Stevie Wonder, Donny Hathaway, Simon & Garfunkel en Cat Stevens.

Scott wou aanvanklik nie self sy liedjies sing nie en het dit vir uitgewers gestuur sodat hulle kunstenaars kon kry om dit op te neem. Hul reaksie was dat hulle baie van sy stem hou en dat hy dit self moet opneem.

Scott is een van daardie seldsame kunstenaars wat skynbaar nie een enkele swak liedjie kan skryf en opneem nie. Die album begin met die onweerstaanbare "Runaway Train", en die res van die 12 liedjies op die album is dan inderdaad ook soos ‘n wegholtrein van uiteenlopende emosies. Scott beïndruk en oorweldig die luisteraar met sy uitsonderlike talent, en met sy stem, wat moeilik is om in woorde vas te vang. Hy sing sy pad oop tot reg in ‘n mens se hart.

Al 12 liedjies is stewig, soos gesê. Dit is dus bykans onmoontlik om hoogtepunte uit te sonder, maar naas "Runaway Train" is "Standing in the Rain", "Two Men", "Rise Up", "Hey You" en "Lady West"die eerste wat ‘n mens uitboul.

Park Bench Theories is ‘n baie indrukwekkende album wat ‘n mens onmoontlik met een luisterslag kan deurgrond. Jy kan oor en oor daarna luister sonder om moeg te raak daarvoor – trouens, met elke luisterslag raak dit net mooier en mooier. Daar lê gewis ‘n baie blink loopbaan voor vir Scott.

 
 

Ben Harper & The Innocent Criminals
Lifeline

‘n Nuwe album van Ben Harper is altyd ‘n gebeurtenis. Hy het homself al gevestig as een van die prominente kunstenaars van ons tyd, en ook as iemand wat skynbaar net goeie musiek kan maak. Hy sit nooit ‘n voet verkeerd nie.

Met Lifeline was Harper & The Innocent Criminals se uitgangspunt om ‘n gestroopte album op te neem sonder enige foefies. En hulle het inderdaad met ‘n juweel vorendag gekom.

Alles wat Harper se musiek tot dusver so spesiaal gemaak het, is ook op hierdie album: sy sielvolle sang, sy vermoë om te besiel en te inspireer in ‘n wêreld waar dit makliker is om ontmoedig en ontnugter te word, en verwerkings en ‘n aanslag wat getuig van sensitiwiteit en intelligensie.

Wat jy hier aantref, is 11 tydlose liedjies. En dis soveel meer as wat mens op deesdae se prefab-CD’s aantref.

 
 
Serj Tankian

Elect the Dead is die solodebuut van die briljante rockgroep System of a Down se sanger, Serj Tankian. Soos ‘n mens al gehoor het op System of a Down se albums, is hy ‘n man wat ‘n mens se broek aan die bewe kan sing.

‘n Mens kry ‘n goeie indruk van hoe sy kop werk as jy die stuk lees wat hy agterin die CD-boekie geskryf het: "The diversity of sounds rule my ever presence with their highs and blows, encompassing the totality of sensual experience. I’m a child of the sirens of knowledge, a warrior for truth in a world of washed perspectives and harsh realities. My voice cries the initial cry of the unborn into this perplexing illusion. I long for the realization of the human drama, the defeat of the dogs of war, and the unity of existence. The beloved Gods of virtue have been undersold for the bleeding bread of empathy. I now await the triumphant roar of destiny, dressed in the inviting hands of mother, perplexed by discovery, aroused by Spirit. The door is open, the road transformed. The exit code to civilization is hacked beyond despair, chased by the moon toward the freeing sun, on our journey to light. This is an open plea to the beautiful insanity of your hearts. It is time to consummate the kiss of oblivion into the obsidian of love."

Prulskrywery? Hoe dit ook sy, dit gee ‘n idee van Tankian se benadering. Die musiek is kompleks en onvoorspelbaar. Dit is ook baie swaar en intens. ‘n Mens kan nie sê dis ‘n swak album nie, want dit is nie: dit is baie goed. Maar dis onvermydelik om dit te vergelyk met System of a Down, en dan besef jy saam met sy groep is Tankian nog tien maal beter as op sy eie.

Tog kan ‘n mens hom nie afskryf as solokunstenaar nie. Liedjies soos "Feed Us", "The Unthinking Majority", "Saving Us", "Sky is Over", die titelsnit, en "Lie Lie Lie" is inderdaad indrukwekkend. Maar dit boul ‘n mens om een of ander rede nie uit soos System of a Down se musiek nie.
 
 
Richard Hawley

Die naam mag onbekend klink, maar Hawley het al diep spore getrap in die musiekbedryf. Hy het al in die groepe Treebound Story, The Longpigs en Pulp gespeel, asook saam met kunstenaars oos Nancy Sinatra, Hank Marvin, A Girl Called Eddy, All Saints, Gwen Stefani en Jarvis Cocker van Pulp se solo-albums, en op die klankbaan van Baz Luhrman se weergawe van Romeo and Juliet. In 2005 het hy ook in die voorprogramme van heelwat REM-konserte opgetree.

Dit was die einste Cocker wat Hawley aangemoedig het om solowerk op te neem. Dit het gelei tot Richard Hawley (2000), Late Night Final (2001) en Lowedges (2003). Dié album was ‘n sensasie – die kritici het geswymel daaroor, asook die lede van Coldplay, Radiohead en REM. Daarna het Coles Corner in 2005 verskyn, en vanjaar het Lady’s Bridge die lig gesien.

Bedrieglike eenvoud en ‘n bykans ouwêreldse klank is die uitstaande kenmerk van Hawley se musiek. Snitte soos "Valentine", "Roll River Roll", "Lady Solitude", "The Sea Calls", die titelsnit, "Our Darkness" en "The Sun Refused to Shine" verlei ‘n mens met hul uiters rustige aanslag – maar ‘n rustigheid met ‘n onderliggende broeiende, spokerige gevoel. 

Dis beslis die moeite werd om ondersoek in te stel na dié album. Dít is hoe skoonheid klink.

 
Diana Krall

Dis nie nodig om Diana Krall se lof te besing nie. Sy verdien deur en deur die reputasie wat sy as jazz-sangeres verwerf het. ‘n Versameling met haar 15 beste opnames is dus baie welkom.

Dit bevat die liedjies soos "'s Wonderful", "Peel Me a Grape", "Pick Yourself Up", "Frim Fram Sauce", "You Go to My Head", "Let’s Fall in Love", "The Look of Love", "East of the Sun (and West of the Moon)", "I’ve Got You Under My Skin", "All or Nothing At All", "Only the Lonely", "Let’s Face the Music and Dance", Tom Waits se "The Heart of Saturday Night", "Little Girl Blue" en "Fly Me to the Moon".

Vir sommige mense is Krall se musiek niks meer as jappie-lounge en Sondagmiddag-escapism nie, maar ons hier by Sound Bites is van mening dat haar musiek baie sensueel en verleidelik is. Sy is ‘n baie goeie sangeres, wat veral blyk daaruit dat sy van dié liedjies op haar album wat al as holrug gery beskou kan word, afstof en haar eie stempel daarop afdruk.

 
Alison Moyet

Alison Moyet is ‘n kunstenaar wat ‘n mens frustreer. Sy is so ‘n buitengewone sangeres met so ‘n fabelagtige stem dat ‘n mens nie anders kan as om ‘n bewonderaar te wees nie. Dit is egter asof sy met haar sololoopbaan nie heeltemal daarin slaag om tot haar volle reg te kom nie. ‘n Mens verwag méér van haar as waarmee sy vorendag kom. Waar lê die probleem? Met die keuse van materiaal en produksieleiers?

The Turn is (hoofsaaklik danksy daardie fenomenale stem van haar) nie ‘n slegte album nie, al is die verwerkings op plekke baie pap en verleen die strykers ‘n soetsappige klankie daaraan.

Dít is hoe ‘n mens voel as jy die album twee keer deurgeluister het. Met die derde en vierde luisterslag is ‘n mens geneig om minder krities te wees en begin jy dink dalk is dit net die soort album wat met herhaalde luisterslae op jou groei en wat jy nie met die eerste ooropslag heeltemal kan absorbeer nie. Snitte soos "One More Time", "World Without End", "Home" en "Smaller" staan uit.

Uiteindelik word ‘n mens gelaat met gemengde gevoelens. The Turn is hoofsaaklik ‘n heel ingetoë affêre en ‘n mens wens so Moyet wil weer die krane ‘n slag behoorlik oopdraai, soos toe sy nog vir Yazoo gesing het, want sy het die vermoë om baie sangeresse onder die tafel in te sing. Die vier liedjies wat hier uitgesonder is, maak die album egter die moeite werd.

 
Queen Latifah

Queen Latifah se nuwe album laat ‘n mens met dieselfde soort gemengde gevoelens as Alison Moyet s’n. Sy kan sing, maak geen fout nie, en sy het ‘n lieflike stem. Trav’lin Light het hoofsaaklik ‘n strelende, smooth-jazz-aanslag en op party liedjies ook ‘n Big Band-aanslag. Dit is lekker om daarna te luister, maar soos Alison Moyet is Queen Latifah ‘n vrou met bôls, en ongelukkig kom dit nie deur op hierdie album nie.

Ondanks die teleurstelling omdat die album nie aan ‘n mens se verwagtinge voldoen nie, is dit regtig nie ‘n slegte album nie, wat nóg meer bydra tot ‘n mens se frustrasie daaroor. Die verwerkings is van hoogstaande gehalte en op snitte soos "Don’t Cry Baby" en "I Know Where I’ve Been"het Queen Latifah ‘n mens in die palm van haar sensuele hand.

Luister liewer eers daarna voordat jy dit koop en besluit of dit jou koppie tee is.

 
 
Plain White T’s

Every Second Counts is dié groep van Chicago se vierde album en volg op Come On Over (2001), Stop (2002) en All That We Needed (2005). Dit skop af met hul groot treffer, die pragtige ballade "Hey There Delilah", wat tans boer op al wat ‘n trefferparade is.

As jy egter verwag dat die res van die album in die trant van "Hey There Delilah" is, wag daar dalk ‘n ontnugterende teleurstelling op jou. Die res van die album bestaan uit baie gemiddelde tot erg ondergemiddelde rock wat ‘n mens laat dink "Hey There Delilah" was net ‘n gelukskoot.

Wees maar versigtig as jy dié album wil koop net omdat jy van "Hey There Delilah hou. Luister eers daarna en besluit self of die res vir jou ‘n verrassing of ‘n teleurstelling is. Ons hier by Sound Bites is glad nie beïndruk nie.

 
 
Kid Rock

Dié album word tans vreeslik opgehype in die media en dit is met hoë verwagtinge dat ‘n mens dit in die CD-speler inglip – maar helaas, net om teleurgestel te word. Dit wemel van die rock-clichés en tipiese Amerikaanse macho-bravade en bombasme. Kid Rock mors ook met Lynyrd Skynyrd se "Sweet Home Alabama" in "All Summer Long", en die country-rock van "Lowlife (Living the Highlife)" is eweneens afstootlik. Dis ook te betwyfel of die mense van New Orleans Kid Rock se gelyknamige liedjie as ‘n huldeblyk sal sien. Dis straks eerder ‘n belediging.

Nee wat, as jy lus is vir lekker ordentlike rock, is daar veel beter opsies as hierdie een.

 
 
Hard-Fi

Dis wanneer ‘n mens na hierdie puik rock-CD luister dat jy besef hoe onbeduidend mense soos Kid Rock en Plain White T’s werklik is. Dié groep van Surrey, Brittanje, se debuut, Stars of CCTV, het in 2005 opslae gemaak. Dit was New Musical Express se keuse vir die album van die jaar en is ook benoem vir die Mercury-musiekprys en twee Brit-toekennings.

Once Upon a Time in the West is nog beter as Stars of CCTV. Hul styl word beskryf as ‘n mengsel van post-punk en indie-rock en hulle beskou The Clash as een van hul groot inspirasies. Hier en daar skemer ska en R&B ook deur.

Die liedjies handel hoofsaaklik oor die werkersklaslewe, wat gekenmerk word deur min geld en min hoop. Wanneer hulle oor liefde sing, kyk hulle nie op ‘n romantiese manier deur rooskleurige brille na die onderwerp nie.

In die eerste week nadat dit uitgereik is, het Once Upon a Time in the West die eerste plek op die Britse trefferparade behaal, en as ‘n mens daarna luister, kan jy verstaan hoekom. In ‘n wêreld waarin so baie rock afgeleid, tweedehands en generies klink, kom Hard-Fi na vore met ‘n vars energie en klank.

Die album is nie lank nie – 38 minute – maar hulle hou ‘n mens se aandag van begin tot einde. Dit begin met die aansteeklike treffer "Suburban Knights". Die tweede snit, "I Shall Overcome", is net so sterk en laat ‘n mens asem ophou vir die res – sal hulle dié hoë peil kan volhou?

Hard-Fi stel inderdaad nie teleur nie. Die derde snit, "Tonight", is eweneens sterk, en daarna volg die fantastiese "Watch Me Fall Apart". En dit is maar net die eerste vier liedjies. Daarna, van "I Close My Eyes" tot "The King", hou Hard-Fi ‘n mens vasgenael. Wat ‘n heerlike album.

 
 
Yellowcard

Yellowcard, van Florida in Amerika, noem hulself ‘n alternatiewe rock-en-pop-punk-groep. Dit is nou maar so dat Britse rock oor die algemeen baie beter en meer avontuurlik is as Amerikaanse rock, en ná die vreugde wat Hard-Fi verskaf het, sit ‘n mens hierdie CD met ‘n gevoel van trepidasie in die CD-speler.

Yellowcard het in die tien jaar van hulle bestaan ‘n heel goeie reputasie opgebou. Hul debuut, Midget Tossing, het in 1997 verskyn. Daarna het gevolg Where We Stand, One for the Kids, Ocean Avenue (waarskynlik hul beste album) en Lights and Sounds.

Oor "Paper Walls" het die sanger Ryan Key hom soos volg uitgelaat: “It is very much a record of hope and finding yourself again. It’s after you’ve come through all of that – going to the height of it – and picking yourself back up again. And by ‘hitting rock bottom’ I don’t mean in record sales or fame or any of that shit. I mean personally – emotionally ... Paper Walls is the story, the feeling, of what it’s like to be out of those holes, looking back, no regrets, but smarter and having grown through them.”

Dit is nou alles goed en wel, maar ongelukkig slaag Yellowcard nie daarin om op Paper Walls ‘n goeie indruk te skep nie. Dis nie eers gemiddeld nie, maar baie ondergemiddeld. ‘n Moerse teleurstelling. As jy na goeie rock soek, bly ver weg van hulle af, en van Kid Rock en Plain White T’s, en skaf sonder om twee keer te dink eerder Hard-Fi se CD aan.