Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Geestelik | Spiritual > Artikels | Features

Godsdiens: Die Binnekamer


Johann P Boshoff - 2007-11-20

Luiheid of laksheid is glo een van die sewe doodsondes volgens Middeleeuse besinners (teoloë, as 'n mens dié woord opsluit moet gebruik). En dié ouens was beslis nie dom nie. Hulle het nie gepraat van pure slegtigheid om agter jou eie slonserige bas aan op te ruim nie. Nog minder het hulle gepraat van uitstel wat afstel word, al het dié dinge wel raakpunte met luiheid, veral in figuurlike, metaforiese sin.

Nee, dié mense het gepraat van geestelike luiheid. 

Kyk ons na die talle dinge wat op kerklike vlak bespreek word en waaroor daar maar erg afgewaterde "besluite" geneem word – ook tydens die onlangs wyd gepubliseerde sitting van die Algemene Sinode van die NGK oor verskeie sake – staan 'n mens verstom oor die hoë mate van onderliggende geestelike luiheid – en onbeholpenheid.

Hoe so? 

Jong, dit lyk my die ding begin by die "sondes van die vaders wat besoek word aan vele nageslagte". In hierdie geval breinspoeling of indoktrinasie.

Ja, breinspoeling.  Breingespoeldheid maak jou maklik geestelik lui en laks en plaas jou in 'n soort gemaksone. Word die aldus gevormde gemaksone uitgedaag, kry jy gewoonlik by die luies 'n erg emosionele reaksie. Hulle sal selfs so ver gaan as om bloed te vergiet … of nóg 'n kerkskeuring te veroorsaak. Of bloot ontvlugtend te ontken dat dit 'n gemaksone is wat wankel.

Die meer as 70 persent Suid-Afrikaners wat hulle uitgee as Christene is grootliks vasgevang in so 'n algemene gemaksone ná dekades, eeue en selfs millennia van breingespoeldheid.

'n Paar oorgelewerde opvattings moet prontuit ontmasker word juis omdat dit tot drogdenkstelsels en dienooreenkomstige breinspoeling daarná aanleiding gegee het. En 'n uitwerking op die aard van die samelewing het.

Midde die oorlewering staan 'n boek wat die Bybel heet – en ek haas my om te sê dis 'n boek wat die oorgrote meerderheid van ons maar net in gebrekkige, want by tye onjuiste, vertalings ken. En aanbid, want dis die boek, nie 'n persoon nie, wat gebruik word om enigermate alles te bepaal en te motiveer.

Kom ons begin dus sommer by die Reformasie se slagkreet: Sola scriptura! – "Net die Skrif". Dit was seker een van die ergste dinge wat gesê en gepleeg kon word as 'n mens aan die bloedige en fel diskriminerende gevolge dink. Moes die kreet nie eerder "God en net God alleen" gewees het nie?

Die Bybel is weliswaar die Christene se belangrikste geloofsboek, en daarom kosbaar. As dit nie vir die boek (eintlik bibliotekie van boeke) was nie, het ons geen kennis van Christus Jesus gehad nie. MAAR dit is gewis nié die sogenaamde "Woord van God" wat as boek in sy geheel daarom die laaste sê oor alles en almal het nie.

Hoekom nie "Woord van God" nie? 

Gewoon omdat die Bybel allereers in die vierde eeu ná Christus eers in sy nou bekende vorm saamgestel is en dit, let wel, ten koste van ander geskrifte wat ook oor Jesus Christus gaan. Vroom kom die verweer dan dat die Heilige Gees die seleksie gemaak het. So asof dit die Heilige Gees – met alle respek gesê – meer as drie eeue nodig gehad het om helderheid oor dié saak te kry!

Verder leen dié versameling antieke geskrifte hom tot uiteenlopende vertolkings daarvan, waarvan party darem erg deursigtig glad nie die taal-, styl- en kultuurhistoriese kontekste van die verskillende geskrifte in ag neem nie.

En dít is die grootste probleem: die vertolkings van 'n swetterjoel vertalings uit gewoonlik 'n geselekteerde versameling sogenaamd oorspronklike brontekste. En só het 'n verwarrende duisternis vertolkings uit vertalings ontstaan en ontstaan daar steeds meer vertolkings en word mense steeds deur betrokke vertolkings gebreinspoel.

Nog verder bevat die Bybel nie net God se oorgelewerde woorde (Godspraak in direkte of indirekte rede) nie, maar ook vele ander ménse s'n. Boonop weet ons mos Jesus praat dikwels van "Moses" en "Skrifte", met meermale die teenstellende byvoeging: "Maar Ek sê vir julle …" of "Maar Jesus/Hy …". Boonop het Paulus by geleentheid dit kategories aan die Korintiërs gestel dat hý, Paulus, iets sê, "nie God nie".

Waar bring dit ons? 

By dié ware Woord van God – God se logos – sy Goddelike Self-openbaring en -definisie, naamlik die Here Jesus Self, sý persoon, leerstellinge en voorbeeld. Om Hom na te volg is per slot van rekening wat van iemand 'n Christen maak, nè? En hoor hierdie Jesus se uitspraak dat Hy vir ons sý Gees, die Heilige Gees gee "om ons in die hele waarheid te onderrig/lei".

Dus is dit binnekamer toe met elkeen van ons indien ons erg ongemaklik begin raak oor die heersende grootskaalse verwarring oor die Bybel(-vertolkings) en dus oor God. Laat ons dan glo dat God Self aan elkeen van ons dié openbaring van die "hele waarheid" sal gee. Ja, want ware soekers sal waarlik vind – 'n universele geestelike waarheid en wet vir alle tye en alle mense.

Hierdie Jesus het gesê die Skrifte getuig oor Hom, Skrifte wat volgens Paulus ook uiteindelik aangewend moet word om Jesus-gelowiges (Jesus-wétendes) voor te berei "op elke goeie werk". Hoe eenvoudig!

Wat nou? 

Tot die Fariseërs het by geleentheid vir Jesus gevra: "Maar U, wat sê U?" Só kan elke mens in sy of haar binnekamer van allerhande aangekorste idees ontslae raak: as enige teks of enigiemand jou heenwys na die geopenbaarde Jesus, en as daardie heenwysing jou aanmoedig en voorberei op elke goeie werk na aanleiding van sý geopenbaarde persoon, bekende leerstellinge en opgetekende voorbeeld en gesindheid, en as jy dit deurentyd 'n gebedsaak vir jou binnekamer maak, sál dinge in en om jou drasties begin verander.

Verander? Ja, want die liefde vir God, self en medemens wat spruit uit 'n binnekamerverhouding sal jou ganse doen en late ál meer bepaal.

Wat beteken dit vir 'n geteisterde land soos Suid-Afrika? 

Oorgelewerde geestelike luiheid om verder te dink en te groei as dit waarmee hulle gebreinspoel is, sal nie meer oral die deurslag in beleide en optredes en gesindhede gee nie. Christene sal dan inderdaad, en asof vanselfsprekend billik, regverdig, niediskriminerend en met deernis kan omgaan met hulself, hul medemens (ook mede-Christene!) en hul omgewing. Eers dan sal dit waar kan word dat ons geen onderskeid meer sal tref oor waar, wanneer, hoe en vir wie en waarvoor ons met onaangeplakte deernis moet omgee nie.

Dis geen Utopia wat geskilder word nie, want anders as by die meeste ander sogenaamde spiritualiteite is só een nie ek- of mens-gesentreerd nie, maar beweeg hy uit homself en bring iets moois in die alledaagse lewe in wat oraloor alle onreg en onmin sagmoedig dog beslis beskaam.

 

Johann P Boshoff, skrywer van Só moet julle dan bid, U koninkryk in my, Werklik vry, Volg jý My!, Gee my Jesus en Hierdie Jesus.