Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Skole | Schools > Rubrieke > Doktor Elsa

Oor piesangs en kondome


Elsa Herbst - 2006-08-30

Die Amerikaners noem dit 'n lovercover, die Chinese 'n fuckiesakkie, die Nederlanders 'n spermskerm, en die Namakwalanders 'n trilskil … Só lui 'n flou grappie wat ek nou die dag per sms van 'n ou vriendin uit my laerskooldae ontvang het. 

“Gebruik 'n kondoom of jy sien jou gat!” propageer ons Departement van Gezundheid luidkeels. Nou wonder ek hoekom so baie mense (tieners ingesluit!) nié aan hierdie versoek gehoor wil gee nie? Hulle kan tog nie só onkundig of lui wees nie! 

Uit navorsing en alledaagse gesprekke blyk dit dat veral mans, maar wél ook vroue, die vlees-aan-vlees-ervaring vir geen geld ter wêreld wil prysgee nie. Of hul lewens nou daarvan afhang of nie! Afgesien hiervan is sekere vroue blykbaar onwillig of skaam om 'n hitsige vrysessie te onderbreek met 'n kondoom-aansittery. Volgens kenners is hierdie minnaresse doodbang hul Don Juans voel nie meer pure perd wanneer die slapte intree tydens die gewerskaf om daardie ding aangesit te kry nie.

Trouens, in die hitte van die oomblik stel 'n bronstige hings allermins belang in lastige goed soos kondome. Hierdie is 'n kwellende punt, want vroue is baie meer kwesbaar vir virusse en toekomstige wesies vanweë 'n paar dinge: hul fisiologie, hul byna Middeleeuse sin vir onderdanigheid, asook 'n troebel geskiedenis van miskende sosio-ekonomiese omstandighede.

Natuurlik kan die probleem reggestel word. En maklik ook. Begin gebruik 'n verdomde kondoom! Gekleurdes, gegeurdes, geriffeldes, geknobbeldes, selfs gespykerdes is deesdae beskikbaar – die verskeidenheid is eindeloos.

Ek self was hopeloos te lank Middeleeus op dié gebied – nie dat ek ooit sonder 'n kondoom vry nie. In my geval is vry die verkeerde woord; dis eerder 'n kwessie van katoolsheid. Ek “vry” lankal nie meer nie. In elk geval, tydens 'n vakansie in Portugal het 'n goeie gay vriend my touwys gemaak in die kuns om 'n kondoom op 'n piesang af te krul. Hy kon eenvoudig nie meer my totale onkunde verdra nie. Agterna het hy ewe ongeërg die piesang afgeskil en verorber.

Almal weet: die veiligste seks is GEEN SEKS. Onthouding is die effektiefste manier om jouself teen allerhande siektes en irritasies te beskerm. Maar nie almal van ons is uit klip gekap nie.

Die grootste fout wat jy kan maak, is om maar Gods water oor Gods akker te laat loop. (Van water gepraat – hierdie winter reën dit lekker in die Kaap; ons bekers loop behoorlik oor. En so van bekers gepraat: dit laat my sommer dink aan drank – wyn, bier en dies meer. Op jou ouderdom is jy nie veronderstel om besope te raak nie.) Maar nou ja ... die statistieke wys dat dit vir mense soos ek, jou ouers en onderwysers niks help om oogklappe te dra nie. In 'n gekletterde toestand is dit verskriklik belangrik om die tegniek van kondoom-aansit haarfyn en supervlot tussen die vingers te hê. Want ons almal ken mos drank se leuse: Te m**r met die kondoom!

Terug by daardie piesang in Albufeira, Portugal. Destyds het my liewe vriend – wat trouens baie meer ervare as ek is op alle gebiede, insluitende katoolsheid – 'n onvergeetlike demonstrasie gelewer. Met behulp van sy tande is daardie kondoom sekuur uit sy pakkie bevry voordat dit soos 'n geoliede dipstiek oor die piesang gegly het. Alles binne sekondes. Sonder haakplekke.

Soos tannie Evita Bezuidenhout sê: “Put your love in a Jiffy-bag!” En as jy nie weet hoe nie, vind uit! Daardie irriterende Jiffy-sakkie kan jou gat letterlik en figuurlik red. Maak van die nood 'n deug. Leer om die kondoom te GENIET!!!