Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Fanus Rautenbach: Umfaanus

Die edelman


Fanus Rautenbach - 2007-11-05

Nou kry ek met my verjaarsdag by Petrovna Metelerkamp die jongste boek van Robert Young, 'n Harde turksvy om te kraak – herinneringe van 'n uitsaaier. Na 'n paar weke kry ek 'n vonkpos van Petrovna waarin sy na Turksvy verwys en meld dat dit jammer is dat ek en Robert Young mekaar nie beter geken het en minder saamgewerk het nie.

Na aanleiding daarvan vertel ek toe die volgende:

Op 'n dag lui my foon.

"Faans? Dis Robert Young hier. Soos jy weet, het ek nou die Afrikaanse Drama-afdeling
onder my beheer. Nou maak ek kantoor skoon, en daar kom ek af op 'n versdrama van 'n
skrywer wat ek glad nie ken nie. Ene Stefan Rauch. Weet jy miskien wie dit kan wees – het jy dalk al van hom gehoor en wonder, bo wonder, ken jy hom dalk?"

"Ek ken hom."

"Goed?"

"Redelik, maar wie ken ooit 'n ander mens baie goed?"

"Ek is bly – het jy dalk 'n foonnommer vir hom?"

"Ja. 38-5732."

"Maar dis die nommer wat ek nou net geskakel het … Haai, dis jóú nommer!"

"Is."

"Bly hy by jou?"

"Nee, ek is ook hy!"

"Jy is Stefan Rauch?"

"Een van my skuilname ..." sê ek meerderwaardig.

"Wat is die ander?"

"Fanus Bach."

"Ja, dis 'n maklike een om uit te pluis: SteFANUS RautenBACH … FANUS BACH. Jy het vreeslik baie kortverhale as Fanus Bach geskryf! Maar wat nou van Stefan
Rauch?"

"My seun, Frans, was op Maties. Een Julievakansie kom hy huis toe en kry my voor die tikmasjien. Die gesprek verloop só:

'Wat maak Pa?'

'Ek skryf 'n storie ... 'n vervolgverhaal vir die radio.'

'Dit moet lekker wees om te kan skryf!' (Hy lag.) Kan ... ekskuus ... mag ek nie vir
Pa help nie? Ek wil ook leer skryf.'

'Jy KAN en jy MAG! Kom ek jou wys: dis 'n Hugenote-storie. Dit speel af in Frankryk,
tydens die Franse Revolusie, en volg dan die Hugenote na Suidelike Afrika toe. Die held se naam is Valdemar du Pre; die agterryer, die Don Quixote, is Org de Kas; die heldin is Antoinette Dumaree; en die hoofskurk is Basal Dominici. Dit begin so:

Sewe skepies dobber in die baai
Waar Valdemar in sy hart van veel spelonke
Sy eie volk op vlug verraai
Hy soek al jare na die einde van hierdie stank
van breindood klippe kap en kou
wat is die kleur van satanstabak
die wraak wat moeë môres knou
Hy soek al jare lank
na die einde van verraad se stank
die taai wat op die aarde spat
die bloedskenk op die vryheidspad
Waar is die geur van hierdie klank
die koringgeritsel op die land?
Wat is die kleur van die reuse-rank
die geilste gawes uit 'n oorvloedshand?
Val soek al jare lank
na die knal van hierdie knal
as Parys en Marseilles se mure val
Wat is die klank van die vryheidsgebed
die opsweep van die volk se pret
saam met nuwe mense wat juig van plesier
om nuwe kultuur en knettervuur?
Wat is die noot van hierdie klank?
Die vreugdelied styg hemelhoog
En as iemand vra:
"Ons is op pad na Afrika!"

"Ek en Frans voltooi toe die storie en stuur dit aan die SAUK, waar Alewyn Lee dit opvoer. Dis eintlik al keer waar ons saamgewerk het. Die naam is net so maklik soos Fanus Bach:
STEFANus RAUtenbaCH."