Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Theunis Engelbrecht: Sound Bites

Van koninklike happies tot kitskotsklankies


Theunis Engelbrecht - 2007-11-01

CD VAN DIE MAAND
Klik en koopBjörk

Met haar jongste album, Volta, bewys Björk sy bly steeds een van die avontuurlikste, uitdagendste en boeiendste kunstenaars in die musiekwêreld. Sy is nie bang om telkens nuwe horisonne in haar musiek te verken en grense te verskuif nie.

Volta staan soos ‘n vuurtoring uit onder 2007 se uitreikings. Om als te kroon is dit nie gefabriseerde Top 40-kitskotsklankies wat Björk opdis nie, en Volta is allesbehalwe ‘n kommersiële album. Dit is Björk se sesde solo-album en volg op Debut (1993), Post (1995), Homogenic (1997), Vespertine (2001) en Medulla (2004). Debut het heelwat treffers opgelewer, soos “Human Behaviour”, “Venus as a Boy”, “Big Time Sensuality” en “Violently Happy”. Die feit dat die treffers daarna minder begin word het, beteken nie Björk was ‘n eendagsvliegie nie – inteendeel. Hoe minder kommersieel sy met haar latere albums geraak het, hoe sterker en meer oorspronklik het haar musiek geword.

Die slimmer en meer verhewe geeste onder ons sal ‘n tesis kan skryf oor Björk se oeuvre (jammer vir dié woord, maar ek is lief daarvoor omdat dit so ‘n spuitpoep-klank het.) In die popwêreld is die beste albums buitendien dié wat ‘n mens die moeilikste vind om maklik te etiketteer en kategoriseer en in een luistersessie te absorbeer en te verteer (of te abstraheer, soos die meer geleerde en verhewe siele onder ons sou sê).

Björk se individualiteit as kunstenaar is uiteraard waarin haar trefkrag lê: die onkonvensionaliteit, die onvoorspelbaarheid, die broeiende intensiteit. Goed, op plekke gee sy mens regtig ‘n pyn in die gat soos sy te kere gaan en daai stemmetjie inspan soos ‘n katderm waarmee sy ‘n Koning Leeu-wors wil stop. (Daar is helaas sulke oomblikke ook op Volta, waar jy vir haar wil sê fok vrou, take it easy.)

Al Björk se albums ná Debut het telkens baie van die vorige verskil, en soms selfs radikaal. Haar laaste album voor Volta, Medulla, was ‘n eksperimentele a cappella-album waarop sy vrye, ongeïnhibeerde teuels kon gee aan haar katderm-worsstop-eksperimente. In ‘n publikasie van die meer verfynde en verstandelik bedeeldes onder ons het ek die volgende gelees (vry vertaal): “Die hibridiese mutasie van die esoteriese en die panteïstiese op Medulla, asook die neurotiese en die neo-erotiese, lei tot ‘n grotendeels vervreemdende eksistensialisties-deelnemende luisterervaring wat visioenêre vistas en verbysterende panoramas oproep van onverkende pre-armageddoneske woestyne en afgronde van die postmoderne bewussyn.”

‘n Mens is dus heimlik verlig en verheug om te hoor Björk sê met Volta het sy heeltemal anders te werk gegaan as voorheen. Danksy die vriendelike, behulpsame en onbaatsugtige daadkragtige dames en sagmoedige here by die multinasionale korporasie wat Björk se musiek versprei, kon ons hier by Sound Bites ons sweterige handjies lê op ‘n mediaverklaring waarin Björk self sê wat in haar kop aan die gang is. (Wonderbaarlik, wonderbaarlik … nou hoef iemand anders dit gelukkig nie te probeer doen nie.) “Voor Volta het ek twee of drie projekte na mekaar gedoen wat redelik ernstig en swaar was en miskien moes ek dit uit my gestel kry. Met Volta wou ek dus net pret hê en iets doen wat sterk klink en opbeurend is,” skryf sy. “Ritme was gewoonlik die vertrekpunt op my vorige albums. Hierdie keer het ek egter op emosionele vlak presies geweet wat ek wil hê. My ding met ritme het al so erg geraak dat mense begin vra het o, watter ritme gaan sy volgende probeer. Daarom dat ek op Medulla heeltemal weggebreek het daarvan. Maar nou wil ek weer ritme hê!”

Sy was baie spesifiek oor watter soort trom- en perkussieklanke sy op Volta wou hê. “Ek wou ‘n akoestiese tromspeler hê met ‘n wilde streep wat bykans paganisties en beswymend is.” Sy het toe sommer twee sulke tromspelers gekry: Chris Corsano (wat voorheen met Sonic Youth en Cold Bleak Heat gewerk het) en Brian Chippendale van Lightning Bolt (en nee, Chippendale was nie ‘n ontkleedanser nie en Lightning Bolt nie ‘n erotiese fliek nie).

Dis vir Björk ook belangrik om saam met ander kunstenaars te werk, omdat hulle mekaar se werk in nuwe en verskillende rigtings kan stuur. Op Post kon Tricky en Graham Massey van 808 State gehoor word, en die Musique Concréte-spesialiste Matmos en kultus-fliekmaker Harmony Korine het aan Vesperine saamgewerk.

Die briljante sanger Antony van die groep Antony & The Johnsons sing een van die aangrypendste liedjies op Volta, “The Dull Flame of Desire”, saam met Björk, en ander medewerkers sluit in die Afrika-groep Konono No. 1 (wat in 2006 met ‘n BBC World Music-prys bekroon is), die kora-speler Toumani Diabaté van Mali, die pipa-speler Min Xiao-Fen van China en 'n koperblaasafdeling van tien spelers wat net uit Yslandse vroue bestaan.

Die befaamde hip-hop-produksieleier Timbaland het hand bygesit met die produksie van twee liedjies op Volta, insluitend die skitterende, donderende openingsnit, “Earth Intruders”.

“Earth Intruders” is gedeeltelik geïnspireer deur ‘n besoek wat Björk in Januarie 2005 namens die Verenigde State se Unicef aan Indonesië gebring het ná die verwoesting wat die tsoenami gesaai het. “Net om te sien hoe 180 000 inwoners van ‘n dorpie met 300 000 mense uitgewis word … en die mense was steeds daar om na slagoffers te soek; ek onthou die reuk van lyke en been. Die tsoenami het huise platgevee, en mens kon van party nog net die vloere sien, en een van die mense saam met wie ek was, het haar ma se gunsteling-rok in die modder gekry … dit was ‘n geweldige ervaring.”

Volgens Björk het dit ‘n fantasie geïnspireer wat tot “Earth Intruders” gelei het – “‘n fantasie dat daar ‘n tsoenami kom – nie van water nie, maar van mense, en dat hulle die Withuis tref en tot op die grond toe platvee sodat geregtigheid kan geskied, en dat hierdie golf van mense oor die hele planeet heen kan versprei.”

Ander temas op Volta sluit in vroulikheid en feminisme, revolusie en oorlog en verset teen die verdingliking van die mens (soos op “Declare Independence”, wat sterk deur die punk-etos gekenmerk word). Een liedjie wat handel oor moraliteitskwessies is geïnspireer deur ‘n swanger Palestynse vrou wat verkeerdelik as ‘n selfmoordbomaanvaller aangesien is.

Daar is ook ‘n liedjie oor haar elfjarige dogter, “I See Who You Are”. “Dit gaan oor hoe vinnig ‘n mens se kinders grootword en hul eie lewens begin lei, en hoe vinnig die tyd verbygaan en jy op ‘n dag besef ‘n mens het nie so baie tyd op aarde om saam met jou geliefdes deur te bring nie. Dink net daaraan: in 2099 sal ek en my kind albei reeds lyke wees. So, ons kan die lewe net sowel nou geniet.”

Wel, ons hier by Sound Bites is dit eens dat al moet ‘n mens baie geduldig en lydsaam wees as jy Björk se musiek laag vir laag soos ‘n ui afskil (en dit doen jy deur herhaaldelik daarna te luister), jy beloon word met iets wat jou na die tyd ruimer van gees, sterker van inbors en sagter van gees laat voel.

Klik en koopAnnie Lennox

Ons hier by Sound Bites is dit ook roerend eens (Fok wat is fout?! – Red.) dat die vroue koning gekraai het in die jaar 2007. Die interessantste en boeiendste albums was meestal dié van vroue. Annie Lennox staan haar rooi stewels stewig vol in hierdie geledere, nodeloos om te sê.

Tired of all this desperation
Tired of all this mad frustration
Tired of all the aggravation
Sick and tired of devastation
Give it some consideration
Save me from the bitterness and hatred of humanity
It’s so screwed up

sing sy op die tweede snit, “Love is Blind”, en gee daarmee ‘n skerp, kort en kragtige beskrywing van die toestand van die ondermaanse ou mensdom vandag. (Sy sing nie net dié reëls nie, sy spoeg dit uit dat dit soos slanggif klink.)

Songs of Mass Destruction is ‘n goeie kombinasie van upbeat en downbeat. Teenoor die vinnige, sterk ritmiese songs soos “Love is Blind”, die verruklike “Ghosts in the Machine” en “Womankind” is daar ballades waarmee Lennox ‘n mens week en lam in die knieë sing met daardie godinagtige stem van haar, soos “Dark Road”, “Through the glass darkly” en die pynlike “Loss”. As sy oor ‘n afgesaagde tema soos die liefde sing, kan jy hoor sy het baie meer insig in, en perspektief op, dié taai aangeleentheid as die meeste van haar tydgenote en jonger kunstenaars. En dat dit nie aangeplak uit filosofie- en sielkundehandboeke kom nie, maar persoonlik intens deurleef is.

Dit is ‘n CD wat met elke luisterslag al hoe beter en lekkerder word. Die produksie- en opnamegehalte en verwerkings is van die heel boonste rak. Lennox sing die ander meisies poer-in-hul-moer onder die tafel in.

Klik en koopSmashing Pumpkins
Zeitgeist

Daar het vroeër vanjaar al baie uitbundige trompetgeskal opgeklink oor hierdie CD nadat die groep lank nie saamgespeel het nie en die sanger, Billy Corgan, solowerk aangepak het. Die musiek is lekker swaar en donker (nie vir die sissies van die kabaretverhoog nie) en die kitare het ‘n onheilspellende klank, maar dit word bederf deur Corgan se sang en ‘n stem wat klink of babakrokodilletjies hom aan sy knatertjies hap. So half hoog in die keel en gepynigd, sien. As mens in ‘n goeie bui is, raak jy egter gou gewoond daaraan – dis ‘n soort sardoniese, sarkastiese snarl wat Corgan het - en op die tweede liedjie, “Doomsday Clock”, word jy reeds meegesleur.

En hoe sien hulle die tydsgees? Dis nie ‘n rooskleurige prentjie van die mensdom wat geteken word nie: oorlog, vervreemding, verdierliking, barbaarsheid van die gees, hoe die materialistiese tydsgees ook neerslag vind in verhoudings tussen mense. Is daar enige verlossing vir die arme Corgan en sy makkers? Vir Smashing Pumpkins blyk dit te wees deur hul verset en frustrasie daaroor uit te skree. Dit is ‘n “gripping” en “compelling” album, soos die Engelse sou sê, maar luister daarna net as jy dikvellig is. As jy ook nie aan Corgan se gepynigde gekwyl gewoond kan raak nie, sal jy dink dis ‘n besonder kak album. En iewers tussen daai twee uiterstes lê die immer ontwykende waarheid moontlik (‘n mens is al te bang om te sê waarskynlik).

Klik en koopFoo Fighters

Foo Fighters se nuwe CD is veel meer toeganklik as Smashing Pumpkins s’n, het ook heelwat meer bôls en spierkrag, en staan beslis sy plek vol as een van die sterker rock-uitreikings van die jaar.

Dit tel in Foo Fighters se guns dat hulle op hierdie CD nie weer presies wou klink soos op hul vorige een (In Your Honour) nie, en daarvoor het hulle die hulp van die befaamde produksieleier Gil Norton ingeroep.

Tot dusver was die Foo Fighters vir my een van daai bands wat hoogstens orraait is, maar met hierdie album gee hulle beslis ‘n moerse paar treë in ‘n hele paar verskillende rigtings. Die CD skop af met die eerste radiotreffer, “The Pretender”, en dan volg die verrassende “Let It Die” – wat begin as ‘n ballade wat ‘n mens se hart kan breek as jy swak senuwees het, maar dan twee minute in die liedjie in ontplof dit en slaan ‘n ander koers in en eindig op ‘n bloedstollende toon. Onwillekeurig snak jy na asem as jou gestel nie van die sterkste is nie.

Jy kan ook hoor Dave Grohl se sang kom darem diep, diep, diep uit sy derms, gebeente en hart uit. As jy met oorfone na die CD luister, sal daai stem jou ‘n paar keer onwillekeurig die krieweling van hoendervel laat voel.

Ag nee wat, ek is heeltemal liries oor hierdie album, daarom is dit beter om nie ‘n woord verder daaroor te skryf nie, want ek is bang ek begin soos ‘n Afrikaanse digter klink. As rock een van die fondamente in jou lewe is, is die Foo Fighters se nuwe CD ‘n onmisbare siersteen in die kasteel. (Al is daar hier en daar maar flou liedjies, soos “Summer’s End”. Maar komaan nou, niemand kan tog perfek wees nie.)

Klik en koopBob Dylan

Bob Dylan is nou al net meer as 45 jaar op die musiektoneel en deur die jare het daar talle Greatest Hits/Best Of-albums verskyn. Om nou nog een saam te stel, klink na ‘n haas onbegonne taak. Tog kan ‘n mens die nodigheid, en noodsaaklikheid, daarvan heeltemal insien. Vir Dylan-maagde en -neofiete is ‘n uitreiking soos dié ‘n baie goeie bekendstelling en wegwyser, al twyfel mens of Dylan nog enige bekendstelling nodig het. (Wel, elke dag word daar fokken baie mense gebore vir wie se geestelike welsyn dit goed sal wees om Dylan eendag te ontdek.)

Hier is dus ‘n keuse van 18 snitte wat (uiteraard) verskillende fases van Dylan se loopbaan verteenwoordig. Al die klassieke Dylans is daar (ek gaan nie eers hul name opnoem nie), en ‘n mens sou seker ‘n goeie saak kon uitmaak vir honderde van sy ander liedjies wat nié op hierdie versameling is nie. Die verteenwoordiging van sy fenomenale laaste drie albums – Time Out of Mind, Love & Theft en Modern Times is byvoorbeeld glad nie bevredigend nie (waarom “Someday Baby” eerder as “Workingman’s Blues#2”? En glo dit of nie, van die briljante Love & Theft is daar nie een enkele liedjie op Dylan nie. Verbysterend. Dis net omdat daar nie genoeg plek op een CD is vir als nie. Die platemaatskappy moes eerder ‘n dubbel-CD uitgereik het.

Wat nie beteken Dylan is ‘n mors van tyd nie – allermins, magtag! Mens raak nooit moeg vir sy musiek nie, en om na dié keuse te luister is op sigself ‘n aangename ervaring wat jou weer na jou CD-rak toe jaag om al sy albums uit te haal en weer daarna te luister. Bob Dylan was en is een van die heel grootste geeste en sal dit altyd bly.

(Naskrif: Na die skryf hiervan het dit aan die lig gekom dat daar wel oorsese uitreikings van Dylan is wat uit drie skywe bestaan en dus meer verteenwoordigend is. Ons in Suid-Afrika moet alweer aan die agterspeen suig …)

Mick Jagger

Ag jirretjie tog, oupa Mick, alewig gepla met sy dick – wat kan ‘n mens nog oor hom sê? Ek dink hy is ‘n formidabele man, en om ‘n konsert van die Rolling Stones (hetsy lewend of op DVD) te sien bly altyd ‘n ervaring. The Rolling Stones is ook een van die groot pilare waarop die rock-koninkryk gebou is. Al verkies ek meer The Rolling Stones se vroeë werk as hul latere werk, moet ‘n mens bewondering hê vir die feit dat die outoppies dit steeds so uitkap, al gee hulle mens soms ‘n bietjie van ‘n passé gevoel.

Hopelik is almal daarvan bewus dat Jagger ook solowerk gedoen het. En hierdie CD bevat 17 liedjies van sy solo-albums She’s The Boss, Primitive Cool, Wandering Spirit en Goddess in the Doorway, asook enkele liedjies wat nog nie voorheen uitgereik is nie (“Too Many Cooks Spoil the Soup”, “Checkin’ Up On My Baby” en die kookwaterwarm, fantastiese “Charmed Life”).

Drie liedjies wat uittroon, is “Just Another Night”, “Sweet Thing” en die sublieme “Memo from Turner”. Daar is ook liedjies wat hy saam met Dave Stewart, David Bowie, The Red Devils en Peter Tosh opgeneem het.

‘n Aangename versameling, al is daar ook insinkings (soos veral die liedjies van Primitive Cool). Wat my beperkte oordeel betref, was Wandering Spirit Jagger se heel beste solo-album (hoe anders met Rick Rubin as produksieleier). Al liedjies van dié album op The Very Best is “Put Me in the Trash”, “Don’t Tear Me Up”, “Sweet Thing” en “Evening Gown”. Daar kon meer gewees het, en minder van die ander – maar nou ja, geen mens by sy volle verstand stry met Jagger nie, en hy was self verantwoordelik vir die keuse op hierdie versameling.

Genotvol, soos gesê, maar kry gerus maar ook Wandering Spirit (as dit hoegenaamd nog beskikbaar is) – dit is net ‘n aanwins.

Klik en koopJames Blunt
All The Lost Souls

Ou James is ‘n bietjie van ‘n bleeksiel, en na sy temerige treffer “You are beautiful” het ek nooit gedink ek sal van hom hou nie. Ek wou nie eers na sy debuut luister nie, so het die schmaltzy debuut-treffer my geïrriteer. (Dalk is my romantiese roersele net afgestomp.)

Toe land sy tweede album, All The Lost Souls, hier aan en raai, ons vind dit toe nie te onaardig nie, al raak hy mens byvoorbeeld nie so sterk soos wat ou Bob byvoorbeeld doen nie. (Onregverdige vergelyking, ek weet.)

Daar is niks aanstellerig of pretensieus op hierdie album nie, en dit tel sterk in Blunt se guns. Die produksie is redelik gestroop, wat ‘n gevoel van opregtheid en delikaatheid aan Blunt se ligte folk-poprock gee. Boonop is Blunt ook glad nie ‘n slegte liedjieskrywer nie. “1973” is ‘n doodgewoon goeie popliedjie, hoe ‘n mens ook al daarna kyk of luister, en “One of the Brightest Stars” is so sensitief en broos dat dit mens aan Bread se musiek laat dink. Op “I’ll Take Everything” (ook ‘n baie goeie liedjie) laat hy mens ook op plekke aan Leo Sayer dink, vir wat dit werd mag wees.

Op All the Lost Souls maak James Blunt sy punt nie met ‘n groot geskal of vernaamdoenery nie. Sy musiek het ‘n ingetoënheid wat ‘n mens onwillekeurig aantrek en wat op jou groei. ‘n Bekoorlike album.

Klik en koopNatalia Imbruglia

Sy is ‘n pragtige vrou, sy het ‘n mooi stem en sy het ‘n hele hand vol liedjies wat mooi en gaaf en goed en alles is. Dis lekker om daarna te luister, maar sal ‘n mens ooit meer as twee of drie keer daarna luister as Annie en Sinéad en Tori en Björk en Feist en Suzanne in die omtrek is? Ek weet nie so mooi nie. Trouens, ek twyfel sterk. Maar dit is, gelukkig, net my eie, beperkte mening.

Hierdie CD bevat vyf nuwe liedjies, waaronder die huidige treffer “Glorious”, en agt van haar vorige treffers – “Torn”, “Smoke”, “Shiver”, “Big Mistake” en “Wrong Impression”. Daar is ook ‘n Limited Edition-uitgawe met ‘n DVD by met al haar musiekvideo’s. Ek het dit geweldig geniet toe ek daarna gekyk het, maar dit het geen blywende indruk gelaat nie. Tog is ons hier by Sound Bites van mening dat sy meer bestaansreg het as Celine Dion en Whitney Houston, om maar net tweetjies te noem.

Klik en koopMatchbox Twenty

Ag aardetjie tog, wat ‘n simpel ou titel. (Of is dit humoristies bedoel?) Dit laat mens dadelik dink aan Exile on Main Street. En Matchbox Twenty is buitendien so hoofstroom as wat kan kom. Die musiek is baie lig en moerse onbeduidend. As popcorn kon sing, hande klap en liedjies sing, sou dit so geklink het.

Exile on Mainstream word deur Matchbox Twenty hul “retrospektiewe album” genoem. Dit bevat ses nuwe liedjies en hul 11 vorige treffers. Hoekom sou ‘n mens so ‘n soort CD wil uitgee? Klink of dit neerkom op opportunisme en uitbuiting van jou aanhangers en dat dit niks anders as ‘n desperate bemarkingsfoefie is nie. As jy ‘n aanhanger van die groep sou wees, sou jy regtig dié gaan koop net vir ses nuwe liedjies, en dan boonop 11 kry wat jy reeds het?

Matchbox Twenty se musiek is die perfekte susmiddel vir mense wat nie daarvan hou om hul breine te gebruik nie, is al wat ons hier by Sound Bites kopskuddend kan sê, verwonderd oor die weë van die mensdom in ‘n geldgierige globale kultuur.


Klik en koopMark Ronson

Ronson het al gewerk as produksieleier vir kunstenaars soos Christine Aguilera, Amy Winehouse, Lily Allen en Robbie Williams. Sy eerste solo-album, Here Comes The Fuzz, is in 2003 uitgereik en met luide geskal en ope arms verwelkom deur daardie mees gehate spesie, die kritici. Dit was egter nie ‘n uitreiking wat die kasregisters manies laat klingel het nie, maar Ronson is een van daardie kunstenaars wat besef geloofwaardigheid en integriteit word nie gebou op en gemeet aan kommersiële sukses nie.

Op Version doen Ronson wat sommige mense verkeerdelik cover versions sal noem, in baie gevalle saam met gaskunstenaars. Dis eerder nuwe interpretasies en improvisasies, en Ronson smeer danksy die kragtige koperblaasklanke ‘n byna ouwêreldse 70’s-soul-sousie daaroor wat lekker retro en terselfdertyd bouncy klink en dansvloere sal laat kraak.

Dit het alles in Maart verlede jaar begin toe Ronson sy weergawe van Radiohead se liedjie “Just” opgeneem het, wat ‘n groot treffer in Brittanje geword het. Ook op Version kan vars, eiesoortige interpretasies van onder meer Kaiser Chiefs se “Oh My God” (met Lily Allen), ‘n instrumentale weergawe van Coldplay se “God Put a Smile on Your Face”, Britney Spears se “Toxic”, Ryan Adams se “Amy”, Maxïmo Park se “Apply Some Pressure” en The Zutons se “Valerie”.

Version is ‘n plesierige affêre, en as jy lus is vir partytjiemusiek met ‘n verskil, probeer dit gerus, of sommer as jy net lus is om bietjie beter te voel. Dis ten minste iets anders en ‘n mens kan hoor hoe vloei die kreatiewe sappe. ‘n Stille rivierstroom is dit gewis nie.

Kevin Michael

Hy is sexy, hy is streetwise, sy musiek is funky en vrolik, en met ‘n liedjie soos “Can’t Get Enuff” kan hy mens ‘n lekker tydjie op die dansvloer of tussen die lakens gee.

Hy is jonk en energiek, en sy musiek is ‘n mengsel van soul, funk, R&B en pop wat vir baie mense onweerstaanbaar is, veral as Michael daai falsetto van hom gooi. Op sy ode aan Michael Jackson, “Stone Cold Killa”, is daar selfs Latynse klanke, en op “It Don’t Make Any Difference To Me” selfs ‘n Karibiese klank. (Dié liedjie word deur Michael se spindokters beskryf as ‘n “trans-racial modern day anthem”).

Niks grensverskuiwend of aardskuddend nie, maar tog genotvol om te speel op ‘n partytjie waar ‘n ligte getrektheid ‘n sekere mate van konynkoors meebring. Om twee clichés met een klap te vang: aan die einde van die dag is daar beslis ‘n plekkie onder die son vir Kevin Michael. (En as mens mooi dink, beteken dit nie wat jy dink dit beteken nie.) En wie weet, dalk skop Michael nog vir Prince en Jackson uit die saal. Net die tyd sal leer.


Klik en koopPrince

Ag nee wat, Prince het dit verloor. Sy werk was nog altyd van ongelyke gehalte – hy reik die een oomblik briljante albums uit, soos Signs o’ the Times en Chaos & Disorder, om net twee te noem, maar tussendeur ook albums wat darem regtig papper as ‘n papsak is. Planet Earth is helaas so ‘n album.

Die weergawe wat ek gekry het, spog met ‘n indrukwekkende heliogram op die omslag. Maar nêrens in die boekie, op die CD of die boksie self staan die titel van die album of die liedjies nie. Net snitte 4 en 8 is lekker – wat hul titels ook al mag wees. Net gekke sal meer as R150 opdok vir ‘n CD net vir twee liedjies, so ek vermoed dis beter om self te gaan luister na watter liedjies jy van hou op die internet en eerder die MP3’s te koop – dit sal baie goedkoper wees. (Ek het gehoor Prince het glo eendag iewers geloop en die CD verniet vir mense uitgedeel. Dit verbaas my nie.)

Benewens snitte 4 en 8 is die res ‘n melodramatiese gekwyl wat ‘n mens laat voel of Prince jou brein tot ‘n malvalekker knie wat hy dan wil smelt. Wat ‘n teleurstelling.

DVD’s VAN DIE MAAND
U2

Ná hul Zoo TV-toer in 1992 en 1993 het U2 gedink hulle het als gedoen wat hulle kon om hul optredes ‘n multimedia-stadionskouspel te maak. Hoe oortref jy dit dan in 1994 met die Popmart-toer? het hulle gewonder.

Geld is natuurlik geen probleem nie, en in die DVD-boekie word die Pop Mart-skouspel soos volg beskryf: “A 100ft cocktail stick skewered an enormous faux-olive and 50ft lemon-cum-mirrorball. Above it all arched a golden parabola cradling a conspicuous shopping basket. The presentation satirised global consumer culture as much as it wondered at it. The colour, the fun, and the euphoric glitter suited the Pop album’s sonic architecture – its cutting-edge exploration of dance music culture, of funk and disco and house – and seemed to solve the nagging problem of how U2 could once again project themselves in stadiums, on that enormous scale, without appearing to take themselves too seriously. As Bono bubbled excitedly: ‘Our job is to blow our own minds, as well as everyone else’s.'”

Hierdie show is opgeneem op 3 Desember 1997 in die Foro Sol Autodromo in Mexikostad nadat die toer hulle toe reeds deur Europa en Noord-Amerika, en ook Sarajevo, geneem het. Selfs in Mexiko is U2 reusagtig – die stadion was gepak en die mense het mal gegaan (was dit vir die spesiale effekte of vir die musiek? wonder ‘n siniese vriendin). Maar teen wil en dank het selfs sy meegesleur geraak deur dit wat voor haar ontvou. Van die visuele spektakels en foefies wil mens nie hier vertel nie, want dan bederf jy mense se pret vir hulle.

U2 speel 25 liedjies – ‘n mengsel van oud en nuut (tot in daardie stadium), insluitend “Mofo”, “Even better than the real thing”, “I still haven’t found what I’m looking for”, “Sunday Bloody Sunday”, “Bullet the Blue Sky”, “With or without you” en “Mysterious Ways”. Bono se skynbaar selfopgelegde Messiaanse bombasme val nie in almal se kraal nie, maar feit is dat hy ‘n besonder goeie sanger en liedjie- en liriekskrywer is.

In die DVD-boekie word die Pop Mart-toer beskryf as ‘n sirkus. Dis ‘n goeie beskrywing. Want die ontmaskering van die materialistiese verbruikerskultuur en al die meganismes waarmee dit gemanipuleer word in Pop Mart, lewer skerp kommentaar op die samelewing, wat weens al die absurditeite daarvan en daarin die werklikheid al hoe meer soos ‘n sirkus laat voel – een wat nie snaaks is nie, maar meer soos ‘n spektakel is.

Die DVD is ‘n moet vir U2-fanatici. Die res kan probeer om dit by vriende te kyk of eerder in ‘n DVD-winkel uit te neem.

Klik en koopElton John

Elton John het 60 geword en dit gevier met ‘n moerse konsert in Madison Square Gardens in New York. Die vieringe word nou ook gepas verder gevoer met die uitreiking van die hele konsert (met 34 liedjies) asook ‘n “Live, Rare & Unseen” afdeling met 18 liedjies op hierdie dubbel-DVD.

Dis beslis ‘n DVD wat die moeite werd is om te hê – Elton John en Bernie Taupin het al onsterflike popliedjies geskryf, en die konsert is ‘n heel skouspelagtige (weer daai woord), dog plegtige okkasie – niks van ‘n spektakel hier nie. Madison Square het ook gewemel van beroemdes wat ‘n mens kan uitken wanneer skote van die gehoor gewys word, as dié soort aktiwiteit vir jou ‘n kick gee.

Die “Live, Rare & Unseen”-gedeelte is ook spesiaal, want dit bevat vervloë TV-optredes van John in hoofsaaklik die 1970’s.

Ek vermoed ‘n DVD soos dié kos goedkoper as wat die kaartjies na Elton John se konserte volgende jaar in Suid-Afrika sal wees. Wat ons hier by Sound Bites betref, is dit ‘n veel beter alternatief om eerder die DVD uit te neem en in die gerief van jou eie voorhuis of leefvertrek te geniet as om jou goedsmoeds tussen duisende skreeuende en swetende mense te begewe, waar jy boonop nie eers mooi kan sien en kan hoor nie. Dankie tog vir digitale tegnologie. As ons nooit ons voete uit ons huise hoef te sit nie, sal ons baie gelukkig wees, dankie.