Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Rubrieke | Columns > Willie Knoetze: Uit die boks

Uit die boks: Onmin in die Familie


Willie Knoetze - 2007-10-31

“Dit walg my dat my naam met hierdie mense geassosieer word!” 24 uur later het die stof gaan lê. Betrokke maatjie was nie meer nie. “Hierdie mense” was my vriendinne wat op Lentedag getroud is – en geen mannetjie wat te precious vir my mense is, is meer welkom nie.

Hierdie episode het my skielik herinner dat, selfs in my vredeliewende seepbelrealiteit, daar steeds wrywing tussen homoseksuele mans en homoseksuele vroue is. ’n Wrywing wat ek glad nie kan kleinkry nie. Selfs na ek almal se opinie hieroor probeer kry het – en daar’s verbasend min – kan ek niks daarvan uitmaak nie. Dit blyk om maar net “te wees”.

Maar hoekom? Of dalk meer beduidend, hoekom kom die wedersydse weersin hoofsaaklik onder ons stedelike Familie voor? (Dalk sit ek hier die pot heel mis?) Waar kom die slegpratery en afguns vandaan? My wind was skoon uitgeslaan toe ek moes aanhoor hoe gewalg Mnr VerledeTyd is deur ’n uitnodiging na ’n lesbiese troue toe! “Walg”?!

So krap ek nog steeds kop oor die hele spul. Die grappies van dieselkolle op die sitkamermat en “ingebreekte” winkelpolse is maar oud en flou – en ek het laas een gehoor in die Negentigs. Intussen is ek al tot Ere Lesbiër verklaar – en kan ek en Christine kom en gaan by lesbiese funksies, partytjies en klub-aande soos ons (en hulle) lus kry.

Hokaai! Ek het sopas “ons en hulle” geskryf. Is dit die ding? Kan dit wees dat die hedendaagse LGBTIQ’s in Suid Afrika nog diskrimineer onder mekaar op grond van geslag?! Hoe kry ons dit reg? Het ons dan nie (en met “ons” meen ek ons almal) breedvoerige gelykheid verkry deur saam te staan nie? Is die basiese beginsels van ons baanbreker grondwet nie juis die wat diskriminasie in alle vorms verwerp nie? Hoe kan ons, nadat ons so hard moes baklei het vir ons eie menswaardigheid, nou gaan staan en mekaar afbreek op dieselfde maniere wat teen ons en ons geliefdes ingespan is? Dit maak nie sin nie. Elkeen wat hier lees het al gevoel watse seer stereotipering veroorsaak – en tog is dit presies wat gedoen word wanneer mof/let kwetse heen en weer gegooi word. Het ons ophou dink?

Of is dit simptomaties van groter psigo-sosiale kwessies? Kan dit wees dat ons geïnternaliseerde homofobie geprojekteer word op ons eie “ander”, sodat ons beter kan voel oor hoe min ons van onsself hou? Of skakel hierdie euwels in by die groter probleme wat die hoë bevolkingsdigthede en versnellende pas van stedelike bestaan daagliks veroorsaak? Dalk kyk ons hier na ‘n tipe ‘ghettofisering’ (ek het nie die vaagste benul of dit ’n woord is nie) wat plaasvind?

Ek weet nie.

Wat ek wel weet, is dat ek nie hier in die rustigheid (eintlik) gekonfronteer word met homosentriese diskriminasie nie. (Jissie, ek is hoog op die groot woorde vandag.) Behalwe vir eersgenoemde voorval, kan ek net dink aan een ander voorval waar iemand ’n snedige opmerking gemaak het oor lesbiërs. Die einste Paula Barry, van my vorige Boks, het mos gedink dis vreeslik sha-na-na om te sê dat hy nie meer Gatparties toe kom nie, omdat hy nie lus is om te gaan staan en kyk “hoe ’n klomp lette mekaar foeter” nie. Vreeslik precious ...

Kan ons nie maar net mekaar aanvaar, soos ons wil hê ander moet ons aanvaar nie?

Ek dink dit is een van die groot redes hoekom Mara en Madelein se troue (in Oudtshoorn nogal, pastoor en al) so reuse sukses was: almal het met almal klaargekom. Die preek was verstommend bemoedigend en mooi – soveel so dat ek moes trane sluk teen die laaste “Amen”. Die toesprake was gemoedelik en warm en die nuwe families het net so lekker met mekaar gemeng as met die Familie. Dot-hulle het die kroeg behartig en lekker met ieder en elk gesels; Frans het met elke mobiele siel gewikkel en Daniël en Chris het saam met die egpaar al om-en-om die saal getol – tot hulle mos opbreek op aandrang van ons linksvoetiges wat ook wou leer. Dit was ’n tipies Afrikaanse troue, met ander woorde: ’n moerse fees!

Selfs die volgende oggend by die backpackers, waar ons gaan neerval het (dankie Sandra!! Oasis Shanti, my skat, op die Afrikaanse manier *drukkie*) was daar geen teken van onenigheid nie. Almal was dik vriendelik (ten spyte van die kloppende voete en dowwe kopseer wat die rondte gedoen het) – en hierdie komende naweek se Gatparty is met geesdrif bespreek. Selfs die Oom wat sy lyf seremoniemeester gehou het, het besluit hierdie affêre klink vir hom en vroulief lekker. As dinge so aangaan, sal ons binnekort ’n groter saal moet kry.

En is dit nie juis waarna ons streef nie? ’n Gemeenskap van mense wat vir mekaar geniet en respekteer – ongeag jou geslag, oriëntasie of enige ander eienaardige kriteria.

My laaste gedagte is dit: As ons onsself aanvaar, mekaar aanvaar en begin fokus op die wonderlike rykdom in ons diversiteit – dan is ’n gesonde plaaslike gemeenskap ’n hanetreetjie verder.

Kom ons begin vandag. Die rimpeleffek hiervan kan verstommend wees!